Logo
4Mure 1600x160 Slim Homepage
web uni tv guide

4 Mure

144Drama16 V

4 Mure bring eersdaags drama op die hoogste graad in een vertrek

News
17 Desember 2020
Wat gebeur alles agter geslote deure?
Hero

Die nuwe kykNET-drama, 4 Mure, bring uiteenlopende episodes saamgesnoer in een reeks vanaf 12 Januarie 2021 om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).  

Hierdie reeks wat afspeel iewers in Suid-Afrika bied alleenstaande episodes wat elk hul eie storie, karakters en genre het. Die episodes word verbind deur Marcelina, die sjarmante kamerskoonmaker wat met haar kop in die wolke lewe. Sy lei ’n string diverse karakters deur elkeen se persoonlike struwelinge, romanse, gruwels en selfs ’n tydskering. Niemand kom ongedeerd daaruit nie...

Die rol van Marcelina word deur die legendariese aktrise, Lida Botha, vertolk.

“Die oorspronklike idee was Jaco Bouwer s'n - die regisseur en mede-skepper van die reeks. Daar was 'n versoek van kykNET om voorstelle te maak vir formate wat ons makliker binne die Covid-19 regulasies kan verfilm. So van die begin af was daar baie beperkinge en uitdagings, en ons het besluit alles moet afspeel binne die een vertrek. Snaaks genoeg druk dit mens dikwels om vorendag te kom met kreatiewe oplossings, en heeltemal nuut te dink oor die medium, en ek glo mense sal dit sien in 4 Mure,” sê Tertius Kapp (Griekwastad, Die Spreeus), skrywer van die reeks.

Van die verskillende karakters in die storie wissel van sluipmoordenaars tot popsterre.

“Ek hou baie van die kort formaat van 5 episodes. Alles gebeur natuurlik baie vinnig, en dit plaas groot druk op die teks, veral as mens soveel moontlik kinkels en verrassings in die storielyne wil inprop. Dit het tog baie lekker geskryf,” voeg hy by . 

Die rolverdeling sluit verskeie bekende name in soos Johan Botha, Beer Adriaanse, Charlton George, Deon Lotz, Tarryn Wyngaard, Tinarie van Wyk-Loots, Wessel Pretorius, Gerwen Weinheimer, Ilse-lee van Niekerk, Brent Vermeulen, Devonecia Swartz, Melanie du Bois en Carel Nel.

“Daar is ’n baie spesiale en roerende episode waarin Johan en Lida Botha – die legendariese akteurs-egpaar wat al meer as 40 jaar die skerm deel – teenoor mekaar speel. Sommige tonele speel af in 1918, sommige in 2001, en  die fiktiewe vertrek waarin 4 Mure afspeel staan al vir meer as ’n eeu,” sluit hy af. 

Die bekroonde regisseur, Jaco Bouwer (Die Spreeus, Dwaalster), behartig die regie.

4 Mure begin vanaf 12 Januarie 2021 om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).