Logo

Vinkel en Koljander: Nuwe reeks beloof groot vermaak

Nuus
14 Maart 2016
Vinkel en Koljander, wat op Maandag 11 April om 20:30 op kykNET begin, is ’n sitkom wat draai om die daaglikse doen en late van die Solomons-gesin van Harfield Village, Claremont.
Vinkel Koljander Logo

Vinkel en Koljander, wat op Maandag 11 April om 20:30 op kykNET begin, is ’n sitkom wat draai om die daaglikse doen en late van die Solomons-gesin van Harfield Village, Claremont.

Die hoofkarakters, Cheryl en Neesha Solomons, word vertolk deur Quanita Adams, wat ook skepper en hoofskrywer van die reeks is, en Celeste Matthews. Dié twee is dalk vinkel en koljander, maar die een is in dié geval nie soos die ander nie.

Cheryl is Neesha se skoondogter en hulle sit glad nie langs dieselfde vuur nie. Sy is getroud met Neesha se oudste seun, Riyaan Solomons (Sherman Pharo). Cheryl is ’n entoesiastiese sjef en vasbeslote om haar spysenieringsmaatskappy, wat tydens die resessie ondergegaan het, weer op die been te bring. Sy is ’n regte foodie; uiters kreatief en passievol.

Neesha, self ’n bobaas-kok, is bekend in die gemeenskap vir haar tradisionele Kaaps-Maleise kookkuns. Sy het ’n kompeterende verhouding met Cheryl en sy vind nie aanklank by haar kookstyl nie. Hulle woon in dieselfde huis en die twee vroue moet noodgedwonge ’n kombuis deel, met rampspoedige gevolge. Die kultuur- en geloofsverskille tussen haar en Cheryl veroorsaak ook verdere konflik in hul verhouding, en Riyaan moet behoorlik bontstaan om die vrede te bewaar.

Vinkel en Koljander het die perfekte resep vir vermaak – dinge raak warm wanneer twee vroue met totaal uiteenlopende persoonlikhede en verskillende geloofsoortuigings ’n kombuis moet deel,” sê Quanita Adams.

Ander karakters in die reeks is Alida Combrink (Tarryn Wyngaard), Cheryl se 18-jarige dogter uit haar vorige huwelik met Erik Combrink (Louw Venter); Waanie Solomons (Grant Powell) is Neesha se jongste seun, wat gedurig besig is met een of ander kreatiewe plan om vinnig geld te maak; Antie Cathy Claassen (Margot Luyt) is Neesha se beste vriendin en die Solomons-gesin se buurvrou; Chris Fourie (Pascual Wakefield) is Cheryl se sous-sjef en in die geheim smoorverlief op Alida, Cheryl se dogter.

Klik hier vir meer oor die karakters.



Ons ontmoet die gesin kort nadat Cheryl van ’n werklikheidskookprogram afgeskop is. In haar laaste uitdaging wou sy een van Neesha se breyani-resepte maak, maar in ’n poging om kreatief te wees het sy van die resep afgewyk en dit was ’n flop. Aanvanklik wil sy niks van kosmaak weet nie en die gesin probeer alles in hul vermoë om haar weer agter die kospotte te kry. Ironies genoeg is dit Neesha wat Cheryl weer haar passie vir kosmaak help ontdek.

Cheryl se ideaal is om ’n persoonlike sjef te word wat na mense se huise gaan en klein intieme geleenthede behartig. Oor die loop van dertien episodes sien ons hoe sy verskeie uitdagings aanvat om haar kliëntebasis op te bou en haar nuwe onderneming te vestig. Sy droom daarvan om by die Fine Wine & Dine Show op te tree om blootstelling aan haar onderneming te gee. Neesha wil weer graag ’n tuisnywerheid vestig en op só ’n manier genoeg geld spaar om op Hajj, die heilige pelgrimstog na Mekka, te gaan.

Vinkel en Koljander is sitkom van 13 episodes geskep deur Quanita Adams (ook bekend vir haar rol as Zadie September in kykNET se Binnelanders). Sy is ook hoofskrywer van die reeks saam met Louw Venter (tans te sien in Die Boekklub op kykNET). Die regie word behartig deur Venter en David Isaacs (van Joe Barber-faam). Mia Breet is die kreatiewe vervaardiger namens Paw Paw Films.

Kyk Vinkel en Koljander, vanaf 11 April Maandae om 20:30 op kykNET.