Logo
Slim BB spoorloos
web uni tv guide

Spoorloos

144Drama13 VL

'Verstaan waar Cobie vandaan kom'

Nuus
22 Augustus 2022
Marisa vertel wat sy die meeste geniet het van haar karakter Cobie. Lees meer.
spoorloos: die eiland Marisa Drummond

Daar is amper niks wat Marisa Drummond nog nie gedoen het nie - van drama tot komedie, werk voor en agter die skerms. In Spoorloos: Die eiland speel sy die rol van Cobie, die rooikopvrou wat nie skroom om te kry wat sy wil hê nie.

Waarvan hou jy die meeste van Cobie?

Sy het ’n weerloosheid aan haar wat sy nie graag wys nie, want sy dink dit sal haar laat swak lyk. Maar die dag wanneer sy wel net ’n gleuf oopmaak, is dit vir my mooi en gee dit diepte aan die karakter.

Wat was die grootste uitdaging om haar te speel?

Cobie kan nogal afsydig en lelik met Freek (Deon Coetzee) raak, maar mens moet ook verstaan waar sy vandaan kom. Marisa sou ’n sagter, sterker bystaan benadering gehad het.

Wat het jy die meeste van die verfilming geniet?

Almal – van die crew, produksie en akteurs – se gereedheid elke dag om ’n goeie produk te lewer.

As jy vir Bobby van Jaarsveld, Armand Aucamp en Deon Coetzee elkeen in een woord moet beskryf, wat sal dit wees?

Bobby: Toegewyd. Armand: Omgee-mens. Deon: Sielvol. Alhoewel hulle almal oor al die kwaliteite beskik.

Wat is in jou dagboek vir die res van die jaar?

Ek skiet tans aan ’n nuwe dramareeks deur Paul C. Venter wat later op kykNET gaan wees. Ek skryf ook ’n teks vir ’n kykNET Storiefilm en is later vanjaar te sien in Die negende stap, ’n toneelstuk deur Deon Opperman, wat op Aardklop te sien gaan wees. Franci Swanepoel speel saam met my en die stuk is onder leiding van André Veldts.

Het rooikoppe meer pret?

Ek sal nie weet nie. Ek was al elke kleur onder die son en ek maak my eie pret.

Watter rol sal jy nog graag speel?

Enigiets en alles. The sky is the limit.

Wie sien jy as jou mentor?

Ek wandel al ’n hele paar jaar onder Deon Opperman se vlerk, hetsy op die verhoog, voor én agter die kamera. Sy werketiek en passie was nog altyd inspirerend en sy liefde vir ’n spreadsheet maak my opgewonde. My brein smag na ’n bietjie formaat en funksie.

Wat is op jou bedkassie?

My Bybel, Joyce Meyer se Strength for each day en enigiets wat my dogtertjie daarop vergeet het om te bêre.

Enige Spoorloos geheime?

Dan sal dit nie ’n geheim wees nie, sal dit?

Skakel elke Dinsdag om 20:00 in op kykNET, kanaal 144 vir die nuutste episode van Spoorloos: Die eiland. Gesels ook saam op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerk, #Spoorloos te gebruik.