Logo

Twee kultuurlegendes vereer by 13de kykNET Fiëstas

Nuus
08 Maart 2023
Die skrywer, digter en aktivis Dr. Diana Ferrus en die musiek-maestro Prof. Hubert van der Spuy word vanjaar by die 13de kykNET Fiëstas vir hulle lewensbydrae tot die kunste vereer.
Fiestas 2023 Article Image

Die skrywer, digter en aktivis Dr. Diana Ferrus en die musiek-maestro Prof. Hubert van der Spuy word vanjaar by die 13de kykNET Fiëstas vir hulle lewensbydrae tot die kunste vereer. Vanjaar se Fiëstas-toekenningsgeleentheid word op 9 Maart in Kaapstad gehou. 

Diana Ferrus, ’n boorling van Worcester, het in 1972 gematrikuleer en is na die Universiteit van Wes-Kaapland, maar politieke onrus het haar studies onderbreek en as gevolg van finansiële beperkinge het sy gaan werk. In 1988 het sy weer deeltyds begin studeer en 1991 begin sy by UWK by die departement van bedryfsielkunde werk. Sy behaal twee jaar later haar graad en doen ook ’n honneursgraad in vroue- en genderstudies in 1997. Die Universiteit van Stellenbosch het in 2022 ’n ere-doktorsgraad aan haar toegeken. 

Dr. Ferrus het op veertien begin gedigte skryf en haar gedig ‘I’ve come to take you home’ – wat sy geskryf het terwyl sy in 1998 aan die Utrecht Universiteit in Nederland studeer het –  was een van die deurslaggewende redes hoekom Saartjie Baartman se oorskot ná 192 jaar in Frankryk na Suid-Afrika teruggestuur is. 

Dr. Ferrus se gedigte en kortverhale is in verskeie bundels gepubliseer, en sy is onder meer ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersvereniging, Bush Poets en Mengelmoes Digters. Sy is ook in 2020 deur die SBA in haar geboortedorp vir haar bydrae tot die bemagtiging van Afrikaans vereer. Sy het in 2016 afgetree, maar fasiliteer steeds skryfwerkswinkels en tree as spreker op. 

Prof. Hubert van der Spuy is in George gebore en het op Uniondale gematrikuleer. Hy het musiek studeer aan die Universiteite van Stellenbosch en Port Elizabeth asook die Akademie für Musik und Darstellend Kunst in Wene, Oostenryk. Sy studies het verskeie lisensiate asook twee doktorsgrade tot gevolg gehad. 

Sy loopbaan het in 1967 as lektor by die destydse Denneoord Onderwyskollege begin. Hy was daarna tussen 1970 en 1984 verbonde aan die Universiteit van Durban-Westville as lektor en later as professor en hoof van die musiekdepartement. Vyf jaar by die Universiteit van Wes-Kaapland het gevolg en in 1991 is hy by Unisa aangestel waar hy in 2007 afgetree het. Prof. Van der Spuy se betrokkenheid by die Unisa-musiekkompetisie kom reeds van 1973 en in 1989 het hy die jaarlikse Hubert van der Spuy-kompetisie gevestig wat fokus op musikante wat dertien jaar oud en jonger is. Die kompetisie, wat vanjaar in sy 34ste jaar is, het deur die jare gesorg vir verskeie talentvolle jong musikante wat musiek gaan studeer het en naam op verhoë wêreldwyd gemaak het. 

Die Fiësta-toekennings, wat debuutwerke wat in 2022 op kunstefeeste te sien was vereer het, word in dertien kategorieë oorhandig. Die seremoniemeesters is Suidooster se Jawaahier Petersen en Fraksie se Melt Sieberhagen. Schalk Joubert, Ramon Alexander en Babalwa Mentjies gaan vir die musiek gesorg. 

Van die bekendes wat Fiësta-toekennings gaan oorhandig, is Dawid Minaar, Cintaine Schutte, Lynelle Kenned, Irshaad Ally en Nicola Hanekom. Kykers sal meer oor die geleentheid op eNuus en GROOT Ontbyt kan sien. Fiësta se program op 24 Maart sal aan die glans-aand gewy word en ’n insetsel sal op Bravo! op 26 Maart gewys word.