Logo
KLOP!
web uni tv guide

KLOP!

145GeselsprogramPG13

Tussen tonele met Lyntjie Jaars

Nuus
14 Maart 2024
Wat bring vir Lyntjie Jaars kalmte voordat sy “live” op televisie gaan en watter rolle sal sy nog wil vertolk op die kassie? Lees meer.
Lyntjie Jaars

Weekliks bring verskeie mense van regoor die land vir Lyntjie Jaars ‘n storie of ‘n staaltjie. Hierdie aanbieder van kykNET se geselsprogram, Oppiestoep, en kykNET&kie se KLOP! bieg dat sy soms ander rolle wil vertolk – in sepies en telenovelas!

Sy het vir ons meer vertel oor hoe sy dinge agter-die-skerms hanteer, en ook ingelig wat haar ‘n huppel in die stap gee na ‘n lang dag.

Watter drie dinge pak jy in elke werksdag (moet hê items)?

Brille, altyd eerste 

Vellies – Al trek ek dit nie aan nie😊

Vaseline – Ek kan nie ‘n droë lip hanteer nie

Jy is 'n radio aanbieder en 'n aanbieder op verskeie TV-reekse. Watter rol was vir jou die mees opwindend?

Ek is mal oor die verskeidenheid van elke rol. KLOP! was my eerste verskyning op die teevie (televisie) en die feit dat dit oor Noord-Kaap stories gegaan het, was ‘n absolute bonus. Deesdae is dit so lekker om in kykers se voorkamers te gaan kuier waar hulle KLOP! kyk.

Oppiestoep is so lekker, dit laat mense ontspan en lekker lag. En ook die Oppiestoep storievertel soektog wat ons gehad het om nuwe storievertellers te gaan soek en dat heelwat jongmense opgedaag het en op die show verskyn het.

Watter rol was die mees uitdagende?

Dit was nogal ‘n switch van radio af na teevie toe en om van die gewoontes af te leer. Om live TV op te neem in die begin het my senuwees skoon klaar gemaak; ek voel nog daai senuwees op kolle, maar dit begin nou gemakliker voel.

Het jy onlangs iets van 'n mede-aanbieder/ kollega geleer op stel?

Pietman Geldenhuys (mede-aanbieder van Oppiestoep) het ‘n manier om my nogal kalm te maak. Ek en hy het so ‘n sign wat ons gooi net voordat ons opneem.

Boeta Hein (Heindrich Wyngaard, mede-aanbieder van KLOP! het net gesê Marilyn jy weet mos wat om te doen en jy kan dit doen, nou geniet jy dit net.

Is daar 'n fliek of reeks op kykNET (of Showmax) wat jy gesien het en gedink het "ek sal nogal geniet het om daai rol te speel"?

Ek maak sommer my eie rolle op!

In Arendsvlei wou ek net Wendy Newman se tjommie wees en die oumens help ontsnap Namakwaland toe.😅

Ek sal love om Mymoena (van Suidooster) se niggie te wees wat van Concordia is of soos ons sal sê ‘n dorpie in Namakwaland. Dan stiek ek daar uit, vol sêgoed en familie stories. Daai familielede wat jy geniet, maar ook wil sê “gaan terug huis toe”.

Sal graag Bridgette (van Suidooster) se eweknie wou wees en kompetisie kom gee. Stywe kompetisie, sy moet weet daar is ‘n ander goose innie Ruiterbosch, wat kom vir alles.

Watter lied luister jy na as jy 'n afdag het?

Ek is nou weer op ‘n Anneli van Rooyen buzz. Maar meestal is ek op ‘n old school buzz, [soos] Sybil se Make it easy on me, dan jazz ek nog.

Laastens, wat is jou motivering (sêding/ gesegde)?

Dit is die klein dingetjies in die lewe wat saak maak.

Love never fails.

Jy kan vir Lyntjie sien op Oppiestoep, wat Vrydae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitsaai en KLOP! is elke Sondae om 18:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145). Beide van die reekse is op DStv Stream beskikbaar.