Logo
Fraksie Slim BB
web uni tv guide

Fraksie

144Drama13 VL

Tussen tonele met Edwin van der Walt

Nuus
24 Maart 2024
Wie of wat inspireer vir Edwin van der Walt, en wat maak hy na ‘n moeilike dag? Ons vind uit!
Edwin van der Walt

Edwin van der Walt is al in menigte rolle gesien, insluitend Braam in Donkerbos en Schalk Smit in Fraksie. Watter rol dink jy het hom die meeste uitgedaag? Ons vind uit!

Watter items gaan ten alle tye saam met jou stel toe?

My groot groen water bottel met ‘n bietjie sout in, dit kry ‘n ekstra hupstoot minerale in. Gesonde snacks (neute, biltong, vrugte). Een of ander Fisherman’s Friend of mint suiglekker, vir daai tonele na middagete veral as daar lekker garlic en uie in die ete was.

Indien jy kan, watter een van die karakters wat jy al vertolk het was jou gunsteling en hoekom?

Schalk Smit in Fraksie. Dit was ‘n wonderlike uitdaging om ‘n anti-held te vertolk. Schalk is ‘n baie komplekse mens, tog met regte, goeie eienskappe. [Hy het] diep wonde en swakhede. Maar hy’s ook mens soos ek en jy. Dit was ‘n wonderlike uitdaging om sy “menswees” te vind tussen die meerderheid anti-held persoonlikheidstreke. Dit was ook bevrydend.

Daar was iets impulsief en onvoorspelbaar in hom wat my spelkeuses baie “nuut” moes maak, [ek moes] buite myself gaan soek, of baie diep binne myself gaan delf.

Ek geniet dit om myself uit te daag en karakters te vertolk wat anders as ek dink en sien.

Watter rol het jou al die meeste uitgedaag in jou loopbaan en hoekom?

Dis ‘n baie moeilike vraag om te antwoord, omdat elke rol sy eie unieke uitdagings het. Maar as ek ‘n paar kan noem: Braam in Donkerbos (nog ‘n individu wat as monster gesien kan word maar tog net soos ons almal diep wonde gehad het), wat geglo het wat hy doen is reg en gaan ander mense help. Nico Scheepers het wel so goed geskryf dat om empatie te kon vind was nie moeilik nie.

Schalk in Fraksie, soos in vorige vraag beantwoord.

Tiaan in Die Pro. Ek het nog nie iemand baie naby aan my verloor aan die dood nie, en was ek eers versigtig om die rol aan te pak. Vir my, hoe ek toneelspel aanpak, voel ek ek ‘n verantwoordelikheid om daai lewensgebeurtenisse so eg en eerlik as moontlik te probeer vertolk. Iemand wat daarna kyk is al presies deur dieselfde situasie en gaan egter vereenselfwig, of voel die akteur beeld dit nie eerlik uit nie. En dis vrek moeilik, maar dis ook die wonderlike uitdaging.

Ek het juis ‘n gesprek met regisseur Andre Velts gehad om toe ‘n manier te vind om daai emosie te kon ervaar waardeur Tiaan moes gaan toe hy sy beste vriend verloor het. En ek sal enige dag weer so ‘n pad saam met Andre Velts stap.

Laastens, ek moes ook in die middel van die winter in Stellenbosch om 02:00 die oggend in ‘n swembad gestamp word in Fraksie... Daai gedeeltes raak ook lekker fisies uitdagend, haha.

Het jy onlangs iets geleer by ’n ander akteur/ persoon op stel wat jou geïnspireer het?

Ek leer op elke stel iets. Ek probeer ook met daai bedoeling elke projek instap.

Ek het onlangs die regie rol aangepak van ‘n TV-film, wat in Desember 2024 gaan verskyn, en dit gaan nou “cliche” klink maar ek belowe dis waar: Elke akteur en aktrise wat deel was van die “ensemble” (Minke Marais, Liam Bosman, Heinrich Wentzel, Nichola Viviers, Damien De Villiers, Alma Van Heerden) het my herinner om as akteur so vry as moontlik te probeer wees in jou spelkeuses, om regtig te “speel” in elke oomblik.

Ons kon die geleentheid skep op stel vir hulle om te speel en “vry” te wees en ek was weggeblaas deur hulle keuses, wat my as akteur inspireer het om vas te klou aan my instink en vryheid in my spel keuses. En ook, hierdie akteurs en aktrises is absoluut briljant en so talentvol. Ek sien uit om te sien wat hulle elkeen bereik en aanpak.

Saam met watter persoon in die industrie sal jy nog mee wil werk eendag?

Ek sal nog baie graag saam met Jennifer Steyn wil werk. Sy’s ‘n onbeskryflike goeie aktrise!

Is daar ’n fliek of reeks op kykNET/Showmax wat jy onlangs gesien het waar jy gedink het jy sal nogals graag daarin wil speel?

Een van my goeie vriende, Bennie Fourie, en daai hele span wat die TV-reeks Hotel gemaak; ek dink dit moes ‘n absoluut fees wees en asook ‘n lekker uitdaging om daarin te kon speel.

Hoe motiveer jy jouself nadat jy ’n moeilike dag agter die rug het?

Vir almal is dit seker anders. Ek is gelowig, so ek probeer die waardes waarin ek glo op my lewe toepas. Ek vind dit motiverend om daai fondasie te hê om na te streef. Wanneer dit ‘n moeilike dag was en ek raak bewus daarvan, is dit gewoonlik ek wat iets oor myself maak. Daai selfsugtige natuur skop in. Dan is dit net weer ‘n proses om myself te herinner dat ek deel is van ‘n groter prentjie, ek IS nie die prentjie nie. Die lewe is meer as net wat op stel gebeur. Ek vind myself hard op sê: “Ek is eers ‘n mens en dan ‘n akteur.” Dis motiverend vir my, want daar is ‘n hele lewe soos ek afloop van stel af.

Wat is jou motto in die lewe?

Ek het nie net een motto vir my lewe nie. Ek voel dit verander soos ek groei deur die jare of seisoene. Waar ek nou is, is dit: Moenie jouself so ernstig opvat nie. 

As jy enige ander celebrity moet speel, plaaslik of internasionaal, wie sal dit wees en hoekom?

Breyten Breytenbach en Joost Van Der Westhuizen. Ek dink beide het baie interessante lewensstories, is komplekse mense, en met behulp van grimering en die fisiese werk mag ek dalk dit visueel kan reg kry om soos hulle te kan lyk.

Jy kan Edwin sien in Donkerbos wat op DStv Stream beskikbaar is. Op Showmax is hy te sien in Fynskrif, Sara se geheim, My Father’s War, Hollywood in my huis, Somerkersfees, Waterfront, Wonderlus en Jagveld.