Logo

Tussen tonele met De Klerk Oelofse

Nuus
26 April 2024
Ons gesels met die immergewilde akteur en aanbieder oor loopbaan-hoogtepunte, droom-rolle en sy liefde vir krieket.
De Klerk Oelofse

Wanneer hy nie ’n glimlag op ons almal se gesigte sit as aanbieder van Kyk wie praat nie, laat hy ons lag, huil en alles tussen-in voel met sy onvergeetlike rolle in Hotel, Nêrens, Noord-Kaap, Fynskrif en meer!

Watter items gaan ten alle tye saam met jou stel toe?

Fisherman’s Friend, water en my klein boekies wat ek maak met al my karakter se tonele in.

Indien jy kan, watter een van die karakters wat jy al vertolk het was jou gunsteling en hoekom? 

Ek het, om die waarheid te sê, nie ’n gunsteling nie. Ek laat myself toe om lief te raak vir elke karakter, selfs die wat gesien sal word as ’n “bad guy.” Elke mens het foute en dis selde dat hulle selfbewus is daarvan.

Watter rol het jou al die meeste uitgedaag in jou loopbaan en hoekom? 

Dit klink seker soos ’n herhaling van die antwoord hierbo, maar ek dink elke rol het sy eie uitdagings. So daar is nie een spesifieke een wat vir my uitstaan nie. Ek het wel gevind dat ek so rapsie meer angstig is, as dit ’n rol is wat ek hervat vir ’n volgende seisoen van ’n reeks. Ek moes dit al vir Hotel, Boekklub en Nêrens, Noord-Kaap doen en elke keer hoop en wonder jy of jy gaan uitkom en sal kan hou by dit wat jy in die vorige seisoen vasgelê het.



Het jy onlangs iets geleer by ’n ander akteur/ persoon op stel wat jou geïnspireer het? 

Ek kan nogal sit en tob na ’n dag op stel: Jy weet, “het ek nou reg laat geskied aan daai toneel” of “shucks, dis wat ek eintlik moes gedoen het in daai toneel.”

Dit was nogal lekker om te sien hoe ’n ou-hand soos Frank Opperman ’n dag se skiet agter hulle kan sit. “Daarsy, daar’s dit nou verby” en dan gaan hy aan. Ek hoop om eendag daar uit te kom, maar op hierdie stadium is dit alles nog vir my so oorweldigend, dat ek nooit eers die goed kyk waarin ek gespeel het nie.



Saam met watter persoon in die industrie sal jy nog mee wil werk eendag? 

Sjoe, daar is so baie! Ek sal graag weer teater wil maak saam met my ou teater-makkers. Christiaan Olwagen, Wessel Pretorius, Jaco Bouwer en Marthinus Basson. Obviously nie almal gelyk nie, maar so stuk-stuk sal lekker wees.

Is daar ’n fliek of reeks op kykNET of Showmax wat jy onlangs gesien het waar jy gedink het jy sal nogal graag daarin wil speel? 

Donkerbos. Ek dink dit is die tipe reeks wat die standaard weer ’n bietjie hoër gestel het.

Hoe motiveer jy jouself nadat jy ’n moeilike dag agter die rug het?

Ek het onlangs weer bietjie krieket begin speel. Daar is niks soos ’n lekker sessie in die nette saam met jou vriende om ’n slegte dag weg te sit nie.

Wat is jou motto in die lewe? 

Om jou kinderlike onskuld en uitkyk te probeer behou. (Kyk Wie Praat help my nogal daarmee.)



As jy enige ander celebrity moet speel, plaaslik of internasionaal, wie sal dit wees en hoekom?

Dalk is dit my krieket-fase wat die antwoord ’n bietjie makliker maak, maar ek is dalk ook al te oud. Ek sal dit geniet om my kinderheld, Jonty Rhodes te speel of dalk selfs AB de Villiers. My vriende reken met die naam ooreenkoms moet ek gaan vir Faf de Klerk, maar daarvoor is my lyf verseker te oud.

Stroom Hotel, Nêrens, Noord-Kaap, Fynskrif en Kyk wie praat nou op Showmax en skakel 30 April om 20:00 in vir die eerste episode van Juffrou X!