web uni tv guide
Diepe waters S4 Slim BB
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13 VL

Siseko se eks-verloofde saai amok in Diepe Waters

Nuus19 Februarie 2026
Wie sal nou so sprokiesmooi troue soos die van Pam (Tracey-Lee Oliver) en Siseko (Chumani Pan) sommer kan vergeet?
Diepe waters

Selfs byna ’n jaar later vertel die inwoners van Boskruin hoe dié spesiale dag hulle in vervoering gehad het.

Maar vir sommige mense, wat nie eers op die gastelys was nie, is dié troue ’n teerpunt. Vra maar vir Vuyelwa Dlamini (Eve Rasimeni), Siseko se eks-verloofde.

Siseko en Vuyelwa se familie was besig met lobola-onderhandelings toe hy vir Pam ontmoet en hul toekomstige huwelik, wat deur die familie gereël is, beëindig het.



“Ek hou regtig daarvan dat hierdie kulturele aspek tot die storielyn bygevoeg is, want dit gee vir ons meer diepte in terme van hoe ons kulture ons verhoudings werklik beïnvloed,” verduidelik Eve.

Pam word aanvanklik genader om te help om ’n nuwe modereeks, Mhlaba, vanuit Vuyelwa se suksesvolle bestaande maatskappy, V Fashion, bekend te stel. Maar kykers kon sommer vinnig sien iets is nie pluis nie.

En selfs ná Siseko se waarskuwings teenoor Vuyelwa, voel Pam dat sy eenvoudig net nie hierdie geleentheid deur haar vingers kan laat glip nie.

“Om die antagonis te wees was ongelooflik. Ek is ’n lighartige persoon wat dikwels meer in komedie speel,” vertel Eve.



“Wanneer jy in iemand anders se skoene klim, weet jy jy tree in iemand se storie in. Jou eerste prioriteit is om reg te laat geskied aan die karakter, ongeag hoe sy ontvang sal word,” voeg sy by.

Deur gesprekke met Vuyelwa se jarelange vriendin Akhona (Katlego Mohoaduba), leer kykers dat die verbrokkeling van hul verlowing en die skande wat dit vir haar familie veroorsaak het, Vuyelwa dryf tot wraak. Pam móét betaal vir die leed en vernedering wat sy veroorsaak het.

“Hierdie storielyn bevraagteken waar die lyn getrek moet word wanneer dit kom by lojaliteit, want daar is beslis lyne en persoonlike grense wat oorskry word,” verduidelik Katlego.

“Dit was senutergend om aan ’n storie te verfilm waar mense absoluut mal is oor die karakters teen wie jy vyandig moet optree,” sê sy.



Dit sou dalk ietwat makliker gewees het om Diepe Waters se geliefde paartjie te wil leed aandoen, as sy nie self so mal oor Tracey-Lee en Chumani was nie.

Eve stem saam. “Dit is altyd vreemd en ongemaklik om by ’n gevestigde stel in te stap waar jy anders is, maar almal het ons so welkom laat voel,” verduidelik Eve, wat deesdae in die splinternuwe SABC2-sepie Pimville te sien is.

Veral as ’n persoon van kleur, kan dit soms moeilik wees om by ’n rolverdeling aan te sluit. Maar die Diepe Waters-akteurs en -bemanning het haar dadelik soos deel van die familie laat voel.

Om aan Diepe Waters te verfilm, was ’n soort volsirkel-oomblik. Haar eerste groot deurbraak in die vermaakbedryf was in Z’bondiwe. Dié e.tv-reeks was ook deur Penguin Films, die produksiemaatskappy agter Diepe Waters, vervaardig.

Eve het ook al voorheen saam met Chumani aan die mediese dramareeks Wounds gewerk, wat hul “chemistry” op stel makliker gemaak het.



Dit was vir Eve lekker om saam met gesoute akteurs soos Tracey-Lee en Chumani hierdie rol en storielyn haar eie te maak. Veral in Afrikaans.

As boorling van Harrismith het sy van kleintyd af leer Afrikaans praat, en kon sy nou met albei hande die geleentheid aangryp om Eve so geloofwaardig moontlik te vertolk.

“Die mense van Harrismith is ongelooglik. Dis einste hulle wat vir my laat weet: ‘Ons kyk vir jou nou op Diepe Waters!’”

Diepe Waters wys elke Maandag tot Donderdagaand om 18:30 op kykNET. Dis ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.