Logo

Semi-finaliste vir Revue 2016 aangewys

Nuus
30 November 2016
REVUE 2016 is ’n opwindende revue-kompetisie vir laer- en hoërskole. Die semi-finaliste is onlangs bekendgemaak.
Revue 2016 01

REVUE 2016 is ’n opwindende revue-kompetisie vir laer- en hoërskole wat reeds vanaf 2 Oktober 2016 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) op Sondae om 17:00 uitgesaai word.

Daar word ook ’n agter-die-skerms-program, REVUE EKSTRA, op Maandae om 19:30 op kykNET NOU! uitgesaai.

Die aanbieders van REVUE 2016 en REVUE EKSTRA is Sue Pyler, Hendri Myburgh, Mandi Baard en Danie Putter. Die beoordelaars is aktrise, regisseur en skrywer Lizz Meiring, sanger en liedjieskrywer Pieter Smith en bekroonde internasionale mimiekmeester John Jacobs.

34 revue 2016 03


Die regisseur van die program is Frans Swart van Lefra Kommunikasie en Bemarking. REVUE 2016 en REVUE EKSTRA is by Carnival City se Big Top Arena voor ’n gehoor opgeneem.

Die agt semi-finaliste in die laerskole-afdeling en die ses semi-finaliste in die hoërskole-afdeling is onlangs aangewys en is tans besig om sake uit te spook. Vanuit die semi-finaliste word daar vier finaliste in albei afdelings aangewys, wat dan op ’n finale aand sal. Die semi-finaliste is as volg:

LAERSKOLE

o Laerskool Kruinsig Jnr
o Laerskool Hennopspark
o Laerskool Tuinrand
o Laerskool Baanbreker Jnr
o Laerskool Noordhoek
o Laerskool Wonderboom
o Laerskool Baanbreker Snr
o Laerskool Kruinsig Snr

HOËRSKOLE

o Hoërskool Dr EG Jansen
o HTS Drostdy
o Hoërskool Kempton Park
o Hoërskool Hans Moore
o Hoërskool Jeugland
o Hoërskool Marais Viljoen

REVUE 2016 word aangebied met die vriendelike samewerking van Meat World (hoofborg). Angelino Perreira, besturende direkteur van Meat World sê dat dit ’n baie goeie projek is om by betrokke te wees. “Dit is is vir ons lekker om by jeugprojekte soos REVUE 2016 betrokke te wees, want ons jeug is ons toekoms en dis vir ons hier by Meat World belangrik om in die jeug te belê. Ons gaan ook vir die wen-laerskool en wen-hoërskool elkeen R25 000 se vleis skenk om te gebruik vir hulle voedingskemas by die skool.”

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Kommunikasie en Bemarking, en waar die idee van ’n nasionale revue-kompetisie ontstaan het, sê dat hy baie opgewonde is oor die projek. “Laerskole en hoërskole spandeer soveel tyd, geld en energie aan hulle jaarlikse revue. Ek het al baie van hierdie revues gesien wat baie na aan professionele produksies se standaard is. Dit was dan altyd vir my hartseer dat daar nie ’n verdere lewe vir hierdie wonderlike revues is nie. Juis daarom het ons by Lefra besluit dit sal uitstekend wees om hierdie revues nog ’n slag te kan opvoer,” sê Swart.

34 revue 2016 02


Hy glo ook dat REVUE 2016 ’n wonderlike platform sal skep vir skole om na mekaar se werk en produksies te kyk en te geniet. “Dit gaan ook vir skole die geleentheid bied om te sien waar hulle eie standaard lê deur dit met ander produksies te vergelyk. Ons is ook werklik baie opgewonde dat kykNET NOU! die reeks uitsaai en hierdie kunsvorm aan Suid-Afrika bekend gaan stel. Revues maak heerlike en opwindende televisiemateriaal.”

Swart sê dat die kompetisie op ’n uitklopbasis aangebied word. “Ons het ook ’n realiteitshoek aan die hele kompetisie gegee. Die belangrikste egter is dat elke program ’n wonderlike vertoning van dans, sang, beweging en kleur moet wees. Ons besef maar te goed dat REVUE 2016 ’n kompetisie is, maar ons glo ook dat dat skole, onderwysers, afrigters en leerders die geleentheid sal gebruik om nuwe vriende te maak en ook die geleentheid sal gebruik om van mekaar te leer.”

Groot pryse is op die spel en elke deelnemer ontvang ’n sertifikaat van deelname. Meer as R50 000 se kontantpryse is op die spel. Meat World skenk R25 000 se vleis vir beide die wen-laer- en hoërskool. Dan is daar ook ’n lekker verrassing vir die Revue-organiseerders – die wen-laer- en hoërskool se organiseerders wen ook elkeen ’n kajuit vir twee na die suksesvolle OPPIWATER KUNSTEFEES volgende jaar van Kaapstad na Namibië toe.

REVUE 2016 word aangebied met die vriendelike samewerking van Carnival City, kykNET NOU!, Lefra Produksies, Meat World, Hollywood Costumes, McCarthy Volkswagen Arcadia, Neuhoff Ouditeure, Playboy Unisex Intercoiffure.