Logo

Poppie Nongena – Silwerskermfees

Nuus
20 November 2019
Die verwagte film word landswyd in teaters vrygestel op 31 Januarie 2020.
Poppie-Nongena-Key-Poster-AFR-MR

Hoof-akrise, Clementine Mosimane het die volgende te sê gehad: “Poppie Nongena is baie outentiek, dit vertel die verhaal van ons land en sy mense. Waar ons vandaan kom, hoe sterk ons vroue is wat elke dag teen die stelsel veg.  Dit wys die pad wat vroue gestap het en waarvan die res van die wêreld nie eers bewus was nie. Dit lê my baie na aan die hart - ek ken so baie ma’s en vroue wat daardie pad gestap het. Ek wil hierdie rolprent graag opdra aan elke vrou.”

Gebaseer op ’n  ware verhaal, Poppie Nongena vertel die verhaal van ’n Suid-Afrikaanse Xhosa-ma se stryd om stabiliteit vir haar gesin te verseker  in ’n tyd van buitengewone politieke onrus in Suid-Afrika. Dis ’n era waarin swart vroue deur arrestasies, boetes en gedwonge verwydering gedwing is om hul huise te verlaat en hulle in afgeleë gebiede, die sg. “swart tuislande”, te gaan hervestig. 

Verblyf is ’n ewige stryd. Poppie kry werk waar sy kan inwoon, en sy sien haar kinders vir kort rukkies oor naweke. Wanneer haar man, Stone, te siek word vir sy kontrakwerk, word Poppie volgens wet beskou as ’n “onwettige” inwoner van haar eie land.  

Sy raak betrokke in ’n desperate stryd met die owerhede vir toestemming om te bly. Sy trek van een huis na die ander, doen aansoek om permitte, maandelikse verlengings van permitte, tweeweeklikse verlengings van verlengings... Sy doen ook ’n beroep op owerhede deur haar werkgewers en maatskaplike werkers. Deurentyd bly sy fokus op die welstand en opvoeding van haar kinders. Sy veroordeel haar man en dogter se tradisionele oortuigings, asook haar seun se vereenselwiging met die revolusie.

Vasgevang in die spervuur van haar kinders se behoeftes, haar man se siekte, die gemeenskap se woede en onderdrukkende wette, word Poppie gedwing om op te gee - net toe die 1976-onluste uitbreek. Poppie besef dat die tyd aangebreek het om die stryd te oorhandig aan die  jonger geslag, en om hulle stryd om vryheid te ondersteun. 

HIER IS 'N VOORSMAKIE VAN DIE FILM:

Om op hoogte te bly van die nuutste nuus, gebruik die hutsmerk #PoppieNongenaFilm op Facebook, Twitter en Instagram.