Logo

Politieke sluipmoorde deur die jare heen

Nuus
03 Maart 2015
Politieke sluipmoord is die moeder van alle samesweringsteorieë. Hoe meer vergesog die teorie, hoe makliker word dit geglo en hoe vinniger versprei die storie, skryf Tim du Plessis.
Screen Shot 2014-11-17 at 7.51.04 PM

Deur TIM DU PLESSIS

Politieke sluipmoord is die moeder van alle samesweringsteorieë. Hoe meer vergesog die teorie, hoe makliker word dit geglo en hoe vinniger versprei die storie.

Dié verskynsel is tans in volle swang in Rusland. Verlede Vrydagaand is Boris Nemtsof (55), politieke aktivis en prominente kritikus van pres. Vladimir Putin, ‘n klipgooi van die Kremlin in Moskou vanuit ‘n bewegende motor doodgeskiet. Vier skote het hom in die rug getref. Sondag het ‘n geskatte 50 000 mense deur Moskou se strate gemarsjeer om te rou en hul woede te betuig.

Nemtsof was eers self in die aktiewe politiek en was al genoem as ‘n moontlike toekomstige president. Hy het Putin gereeld gestriem oor Rusland se militêre avonture in die Oekraïne en die groeiende neiging tot diktatuur in Rusland onder Putin.

Dis skaars drie dae na die sluipmoord en die lug is dik van sameweringsteorieë, nie net in Rusland nie, ook elders in die wêreld.

Putin het die skuld op “provokateurs” gepak – kwaadwilliges wat volgens hom die gruwel beplan en uitgevoer het om hom uit te lok of in ‘n slegte lig te stel. Hy ontken enige kennis of aandadigheid en het met Nemtsof se 83-jarige ma gesimpatiseer in ‘n brief.

Ander sê weer Putin het die klimaat vir die sluipmoord op Nemtsof geskep met sy openbare uitlatings. Blykbaar het Putin sy kritici, Nemtsof onder andere, bestempel as “ ‘n vyfde kolonne” – ‘n afwysende beskrywing vir interne ondermyners .

Nog ‘n teorie wil dit hê dat ‘n faksie in die Russiese opposisiebeweging Nemtsof vermoor het omdat hulle ‘n nasionale krisis wil skep, ‘n vonk vir opstand teen Putin. Wie meer ideaal om ‘n martelaar van te maak as die aantreklike, charismatiese Nemtsof ?

Geen politieke sluipmoord het nog ooit die verbeelding só aangegryp as dié op pres. John F. Kennedy van Amerika in 1963 nie. ‘n Amptelike kommissie het bevind Lee Harvey Oswald en hy alleen was verantwoordelik. Maar Oswald is nooit behoorlik in ‘n hof ondervra nie want enkele dae ná die moord het ‘n nagklubbaas, Jack Ruby, Oswald doodgeskiet terwyl in polisiebewaking was.

Oor die jare heen is die “skuld” vir die sluipmoord op Kennedy onder meer gepak op:

• Die ou Sowjet-Unie – in 1963 was die Koue Oorlog tussen die Sowjets en Amerika in volle swang;
• Die Amerikaanse spioenasiediens die CIA – want Kennedy wou die CIA versplinter en stroop van sy magte;
• Die Mafia – want sy administrasie het begin om georganiseerde misdaad vas te vat, en
• Die vise-president Lyndon B. Johnson – want hy kon dan by Kennedy oorneem en Johnson was ook bang Kennedy sou ‘n knoeiery tussen hom en die FBI, die federale speurdiens, op die lappe bring.

Suid-Afrika het twee groot politieke sluipmoorde gehad: dié in 1966 op die destydse eerste minister, dr. H.F. Verwoerd, en in April 1993, dié op mnr. Chris Hani, destyds hoofsekretaris van die SA Kommunistiese Party en opperbevelvoerder van die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe.

In albei gevalle is skuldiges gearresteer en voor die hof gebring waar omvattende getuienis aangehoor is. Maar dit het nie verhinder dat samesweringsteorieë oor dié twee sluipmoorde vandag, dekades later, steeds floreer nie.

Dimitri Tsafendas, ‘n geestesversteurde Parlementêre bode, het Verwoerd in sy bank in die ou Volksraad met ‘n dolk deurboor. Tsafendas was verstandelik so gestrem dat hy nie gevonnis kon word nie. Hy is tot sy dood in 1999 in psigiatriese inrigtings aangehou.

‘n “Linkse” teorie destyds het gelui Verwoerd is vermoor omdat hy glo op die punt was om apartheid af te skaf. Regses weer het gesê Verwoerd is deur linkse teenstanders vermoor omdat sy beleid van afsonderlike ontwikkeling besig was om te slaag.

Die Hani-sluipmoord is ewe ryk aan komplotte. Twee regses – een van hulle ‘n LP van die gestorwe Konserwatiewe Party, Clive Derby-Lewis - dien tans tronkstraf uit weens die moord. Hy en sy makker, Janusz Walus, het in hul verhoor getuig hulle wou keer dat die ANC met baie kommuniste in sy geledere aan die bewind kom in SA.

Een teorie destyds was dat die twee in ‘n groter sameswering was van magte wat gekant was teen die politieke oorgang. Hulle het gehoop die moord op Hani sou opstande ontketen wat die proses sou verydel.

Nog ‘n teorie het die motief gaan soek in faksietwiste binne-in die ANC. ‘n Kwansuise groep wat gekant was teen Hani het gesien sy gewildheid is aan die toeneem en hulle wou keer dat Hani ‘n troonopvolger word.

Hoë figure in die SA Kommunistiese Party glo vandag nog Hani was die slagoffer van een of ander groot sameswering. Hulle glo vas die waarheid daaroor sal nog eendag uitkom.