web uni tv guide
web uni tv guide

Op My Eish!

144RealiteitPG13

Op my eish!: Emosies loop hoog toe spanning en eerlikheid bots

Nuus20 Februarie 2026
Episode ses van Op my eish! het gewys Ruan se reis na liefde gaan nie net oor pret en flirtasie nie, maar ook oor moeilike gesprekke, rou eerlikheid en emosies wat nie langer weggesteek kon word nie. Ná die vorige aand se speletjie was die spanning tussen die dames steeds tasbaar.
Op my eish

Die episode het begin met Ruan en JP wat terugkyk op die ongemak wat tydens die ja/nee-speletjie ontstaan het. Ruan het gesê hy kon voel daar is nie harmonie in die groep nie, en twee van die dames het besonder ongemaklik voorgekom.

Die eerste aktiwiteit van die dag was Sip ’n Slide – ’n speelse uitdaging wat behels het dat die dames met ’n drankie oor ’n glybaan moes gly om by Ruan uit te kom sonder om iets te mors. Daar was geen wenner nie. Die doel was bloot pret. Daar is gesukkel, gegly en gelag totdat Charlene haar eie taktiek gebruik het en sommer tot by Ruan geloop het. Hy moes toe ’n slukkie vat en self in die ry gaan staan. Toe dit Ruan se beurt was, kon die vroue nie hulle oë van hom afhou nie.

Bejanke was die volgende een wat suksesvol anderkant uitgekom het deur op haar knieë te gly, gevolg deur Saartjie. Ruan het later gesê: “Die Sip ’n Slide het baie memories teruggebring. Ek onthou toe ons laaities was, het jy daai bloue gehad wat plat op die grond gegaan het. So, dit het lekker memories teruggebring, en ek het nie gedink ek gaan binnekort weer op ’n Slip ’n Slide klim nie.”

Die pret het voortgeduur toe die drankies neergesit is, en almal moes kyk wie die verste kon gly. Net toe dit klaar was en Ruan gemaklik aan die eindpunt van die glybaan sit, het Cindy besluit om weer tot by Ruan te gly – ’n spontane oomblik wat almal verras het.

Later het Ruan en die dames tyd by die spa deurgebring, waar gesprekke gewissel het van wat hulle aantreklik vind in ’n man tot braai en stout wees met ’n paar insinuasies wat sommige dames duidelik ongemaklik gemaak het. Toe Ruan voorstel dat hulle die kamer-indelings verander sodat van die vroue die spanning en onmin tussen hulle kan uitsorteer, het van die deelnemers maar bedruk en bekommerd gelyk.

Die aand se uitdaging het weer die grense verskuif. JP het aangekondig dat die dames iets meer gewaagd moes aantrek en een van twee opsies moes kies: iets in Ruan se oor fluister, of hom uitdaag om iets te doen – alles terwyl Ruan geblinddoek is. Met nommers wat toegewys is en Ruan wat geen idee gehad het wie wie is nie, het sommige dames dit speels gehou, terwyl ander meer avontuurlustig was met serpies, omhelsings en selfs ’n soen. “Dit was ’n lekker speletjie, en dit was ’n goeie begin vir die aand,” het Ruan gesê.

Toe Ruan moes raai wie wat gedoen het, het hy dadelik sekere deelnemers uitgeken – iets wat die groep laat wonder het hoe hy so seker kon wees. Die ligte toon het egter vinnig verander toe Ruan weer die kamerkwessie noem en emosies begin oorloop. Charlene het erken dat daar dames is wat nie van haar hou nie, en Hermi het besluit om die konflik direk aan te spreek. Dit was duidelik dat daar groot verskille tussen Charlene en Hermi was. Ruan het tydens die gesprek gesê: “ ’n Mens hoef nie saam te stem nie, en ek kan hoor Charlene en Hermi het groot verskille. Kan ons dit daar bêre? Elke persoon hierso is baie spesiaal.”

Later het Ruan vir Charlene vir alleentyd gevra. “Ek het nog nie tyd met Charlene spandeer nie, en ek het gevoel dis tyd om vir haar te leer ken,” het hy gesê. Die gesprek het speels begin, maar het gou ernstig geraak toe Ruan erken het dat hy nie weer wil trou nie. Charlene het daarna haar standpunt gestel: “Ek glo in trou. Ek glo dit is reg. Ek glo die Here het dit design en omdat dit sy design is, dink ek dit is baie mooi.”

Die gesprek het nog dieper gegaan toe Charlene vertel het van die verlies van haar boetie, en Ruan op sy beurt gedeel het hoe sy ma se dood in 2019 sy familie uitmekaargeskeur het. “My hele familie het heeltemal gesplit. Sy was die glue. So, ek en JP is nou maar alleen,” het hy vertel voordat hy ook oopgemaak het oor sy verhouding met sy biologiese pa: “Ek het nog ’n pa – ek het twee pa’s. Ek het uitgevind toe ek 18 was wie my regte pa is. Ek het eers ’n verhouding begin met hom in 2025. En dis hoekom ek dink ek vir ’n lang tyd van die rails afgegaan het.”

Die twee het verder gesels oor langafstandverhoudings en Charlene se gesondheidstryd – sy was vir byna ’n jaar siek gewees.

Alhoewel niemand dié week gegroet het nie, het die episode gewys dat nie elke keerpunt in Op my eish! met ’n afskeid gepaardgaan nie. Met spanning wat openlik aangespreek is en persoonlike waarhede wat na vore gekom het, het Ruan se reis ’n stiller maar dieper wending geneem.

Op my eish! word elke Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook beskikbaar op DStv Stream en Catch Up.