Logo

Onthul: My pa het my nie verkrag nie

Nuus
08 Julie 2022
Lees meer.
Onthul

Agt jaar lank baklei ‘n pa al om sy onskuld te bewys nadat hy skuldig bevind is daaraan dat hy sy eie dogter verkrag het. Hy is in 2012 lewenslange tronkstraf vir sy beweerde dade opgelê.Maar sy dogter het intussen verklaar hy het dit nie gedoen nie.

Dié skokverhaal is die fokus van Onthul: My pa het my nie verkrag nie, ’n ondersoekende nuusdokumentêr deur die vervaardigers van die Showmax-treffer Devilsdorp. Die program word op Sondag 10 Julie om 20:00 uitgesaai op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.

Die uur lange dokumentêr ondersoek hoe dit gebeur het dat Abrie Raaths skuldig bevind is op vier aanklagte van verkragting en twee van seksuele aanranding van sy dogter, Megan Raaths, wat tydens die beweerde gebeure in 2009 net nege jaar oud was. Abrie Raaths is vier keer lewenslank tronkstraf opgelê. Sy dogter veg nou dat hy vrygelaat word.

In haar ontstellende vertelling op kamera sê Megan sy is destyds as klein dogtertjie deur ’n maatskaplike werker voorgesê om in die hof te getuig haar pa het haar verkrag. Verskeie ander pa’s vertel hoe ook hul gesinne uitmekaargeskeur is nadat ongegronde klagtes van seksuele misbruik teen hulle gelê is deur hul jong kinders wat deur dieselfde maatskaplike werker bygestaan is.

Die Sondagkoerant Rapport het aanvanklik oor die skandaal berig.

Inge Kühne, redakteur van Rapport, en Antoinette Slabbert, ’n senior joernalis, verduidelik waarom hulle lont geruik het nadat Raaths aanvanklik gevonnis is. Die privaat ondersoeker Leon Nel verklaar ook waarom hy besluit het om die Raaths-familie te help om hul pa se onskuld te bewys.

Die saak is op pad na die hoogste hof in die land.

“Net soos wat lewens vernietig word deur seksmisbruik wat sonder ingryping voortduur, word gesinne uitmekaargeskeur wanneer beskuldigings van seksuele misdrywe gemaak word sonder genoegsame bewyse, of sonder dat die regte prosesse gevolg word,” sê Waldimar Pelser, M-Net se direkteur van kykNET-kanale. “Nadat Rapport oor die Raaths-voorval berig het, het ons een van die land se beste dokumentêre spanne gevra om die saak te ondersoek sodat ons die stemme kan hoor van diegene wat ernstige beskuldigings maak, en diegene wat volhou hulle is onskuldig. Dis noodsaaklik om uit te vind wat het regtig gebeur.” 

Kyk die video hier onder:

Skakel Sondag 10 Julie om 20:00 in op kykNET (DStv-kanaal 144) vir die opspraakwekkende dokumentêr Onthul: My pa het my nie verkrag nie. Dit sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.