Terwyl geliefde karakters se verhoudings verder beproef word en stories nuwe rigtings inslaan, bring hierdie vars gesigte saam met hulle nuwe energie, geheime en verrassings.
Ontmoet die nuwe karakters:
Frans Broeksma (Deon Coetzee – Spoorloos – Losprys, Binnelanders, Legacy, Egoli.)
’n Stewige, reguit beesboer van die Vrystaat wat Boskruin toe kom om tyd saam met familie te spandeer. Hy is beginselvas en vat nie nonsens nie, maar sy direkte manier van doen kan soms ongemak veroorsaak. Hoewel hy direk en soms stug optree, skuil daar ’n verrassend sensitiewe kant onder die oppervlak.
Kayla Daniels (Marelee Ferreira – Reënboogrand)
Kayla sluit as junior skoonheidsterapeut by Skinvestment aan. Sy is energiek, entoesiasties en hou daarvan om nuwe tendense en idees te toets – iets wat nie altyd ewe goed met Zelda se meer tradisionele benadering meng nie. Kayla se passie vir moderne, volhoubare skoonheid maak haar ’n dinamiese toevoeging tot die span.
Josh Williams (Emmanuel Castis – Isidingo, Erfsondes)
Anja se vriend van Engeland, Josh, is vriendelik, spontaan en vol pret. Hy mag dalk nie die tipiese droomman wees nie, maar sy humor en groot hart wen mense vinnig om. Tog maak sy onkonvensionele styl en ligsinnige aard sommige mense ongemaklik, en dit kan dalk spanning veroorsaak.
Allan Lewis (Paul Strydom – Reënboogrand, Summertide)
Allan is ’n selfversekerde, welaf finansiestudent wat nie skaam is oor sy menings nie. Hy glo sukses kom net deur harde werk, en hy het min simpatie vir mense wat sukkel. Sy arrogante houding en pronkerige leefstyl maak hom nie altyd gewild nie, maar hy hou nie terug om sy sienings te deel nie.
Patrick Pieters (Lian Strydom)
Patrick is Allan se stille metgesel en getroue regterhand. Hy deel Allan se luukse leefstyl en stylvolle voorkoms, maar verkies om eerder in die agtergrond te bly. Al is hy nie so uitgesproke soos Allan nie, hou sy lojaliteit aan sy vriend hom dikwels in ongemaklike situasies vasgevang.
Met soveel nuwe gesigte, vars stories en onverwagte verrassings op pad, word Diepe Waters net meer opwindend – die perfekte rede om elke aand in te skakel.
Diepe Waters word Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Ook beskikbaar op DStv Stream en Catch Up.