Logo
web uni tv guide

Die Groot Ontbyt

144AktualiteitPG

Mzansi-jeugkoor steel nog harte op Die GROOT Ontbyt

Nuus
06 Junie 2023
Die afgelope week het Suid-Afrikaners die wêreld oor se harte van trots geswel toe die Mzansi-jeugkoor die sogenaamde “golden buzzer” op die talentsoekprogram America’s Got Talent gekry het.
Mzansi Youth Choir Die groot ontbyt

Die afgelope week het Suid-Afrikaners die wêreld oor se harte van trots geswel toe die Mzansi-jeugkoor die sogenaamde “golden buzzer” op die talentsoekprogram America’s Got Talent gekry het. Hulle is nie net staande deur die gehoor toegejuig nie, maar ook deur die vier beoordelaars.

Skaars ’n week later was die koor gaste op Die GROOT Ontbyt en wéér het hulle die harte van die aanbieders en kykers gesteel.

“Die GROOT Ontbyt het met die videovrystelling van die koor se optrede op America’s Got Talent (AGT) dadelik na die stiger van die Mzansi-jeugkoor, Dr. Jannie Zaaiman, uitgereik,” sê Izaan Steenkamp, vervaardiger van Die GROOT Ontbyt. “Hulle was meer as bereid om in die vroegoggendure vanuit Soweto te reis vir nie net ’n onderhoud nie, maar ook vir twee optredes op die program.”

“Nederig, talentvol, ambassadeurs. Dis hoe ek die Mzansi-jeugkoor sal beskryf,” sê die aanbieder Jennifer Myburgh. “’n Groep jong Suid-Afrikaners wat ’n verskil wil maak en ander inspireer. Deur hulle waagmoed om aan AGT deel te neem, het hulle ons al reeds trots gemaak.”

“Wat ’n voorreg om met die koor en die stigters te praat,” sê Jennifer se mede-aanbieder, Pierre Breytenbach. “Dis heerlik om ’n groep jong mense te sien wat hoopvol en met soveel vreugde is en hulle liefde vir musiek met die hele wêreld wil deel. Hulle is ’n voorbeeld vir ons almal.”

Izaan sê die reaksie van kykers was oorweldigend positief. “Daar het goeie wense van regoor die land ingestroom. Die koorlede is almal plat op die aarde en toe hulle gevra is wat hulle die meeste van Amerika gehou het, was hulle antwoord die hamburgers. Dit was so oulik.”

Nege koorlede was op Die GROOT Ontbyt. Die groep wat aan AGT deelgeneem het, het uit 17 lede bestaan en die plan is om 20 lede na die volgende rondte te neem. Die totale koor betaan uit 36 lede en hulle hoop om die koor uit te bou na 46 lede, die kapasiteit van hulle twee busse.

Izaan vertel die lede wat in die ateljee was, sê die spanning oor AGT het eers ná hulle optrede ingeskop. “Hulle was die eerste deelnemers in die geskiedenis van die program wat die gehoor se golden buzzer gekry het en een van die lede, Zoë Gulwa, sê dit was vir haar spesiaal dat die beoordelaar Simon Cowell begin huil het. Bygesê: Jennifer én Pierre het ook al twee gehuil toe hulle die eerste keer die opname gesien het.”

“Ons verander lewens deur hoop te bring,” sê Zoë.

Die koor reis weer in Augustus na Amerika wanneer hulle aan die semi-finaal gaan deelneem. “Die liedjie wat hulle gaan opvoer, gaan ’n groot verrassing wees,” sê Izaan sonder om veel meer te verklap.

Hiermee ’n skakel na die onderhoud op Die GROOT Ontbyt: 

Hiermee ’n skakel na die optrede op Die GROOT Ontbyt: