Logo

M-Net stel eerste skermgrepe vry van nuwe internasionale ko-produksie, Devil’s Peak

Nuus
02 Augustus 2023
Aksiebelaaide Deon Meyer-treffer eersdaags op M-Net.
Devils peak 1

“My naam is Bennie Griesel en ek is ’n alkoholis.”

Hy was aanvanklik ’n agtergrondspeler in van Deon Meyer se eerste boeke, maar in 2004 het hy die kollig betree met die verskyning van Infanta. Intussen het Bennie Griessel een van die Afrikaanse letterkunde se mees ikoniese karakters geword – die legendariese speurder-inspekteur van die Ernstige en Geweldsmisdaadeenheid in Kaapstad wat met al sy foute en feilbaarheid en sy ewige stryd teen die drankduiwel diep onder lesers se vel gekruip het.

In 2007 verskyn Infanta se Engelse vertaling as Devil’s Peak en eersdaags kry hierdie derduiwel van ’n misdaadriller nuwe lewe wanneer ’n TV-reeks gegrond op die boek sy debuut op M-Net maak.

Nuuskierig? Dan sal hierdie skermgrepe, wat pas deur M-Net vrygestel is, jou lekker opgewonde maak oor dié nuwe reeks van vyf episodes.

In Devil’s Peak is Bennie, vertolk deur Hilton Pelser, op die spoor van ’n vigilante-moordenaar wie se misdade die verbeelding van die publiek aangryp, maar hoe nader Bennie aan die identiteit van die moordenaar kom, hoe meer word hy ingetrek in ’n donker en gevaarlike wêreld waar niks is soos dit voorkom nie.

Ook in die rolverdeling is Sisanda Henna, Tarryn Wyngaard, Albert Pretorius, Gérard Rudolf, Shamilla Miller en Masasa Mbangeni. Die regisseur is Jozua Malherbe en die reeks is vervaardig deur Lookout Point en Expanded Media Production in samewerking met MultiChoice Studios en BBC Studios Distribution. BBC Studios, eienaars van Lookout Point, sal die reeks internasionaal bemark. 

Devil’s Peak volg in die voetspore van ander uitmuntende plaaslike reekse uit die M-Net-stal wat kykers in die afgelope paar jaar laat regop sit het – reekse soos Legacy, The Wife, Reyka en Trackers, met laasgenoemde wat ook op een van Meyer se boeke gegrond is.

“M-Net is trots om vir ons kykers ’n wêreldklas-reeks te bring met sy wortels stewig in Suid-Afrika geplant,” sê Waldimar Pelser, M-Net-direkteur: Premium-kanale. “Hierdie is ’n verhaal wat net in Suid-Afrika kan afspeel, waar die donker misdaad-onderwêreld op ’n amper daaglikse basis die borrel bars van dié wat sekuriteit en gemak soek. Devil’s Peak wys die beeldskone Kaapstad met én sonder haar masker. Dit is die verhaal van Bennie Griessel se stryd teen nie net die duiwels daar buite nie, maar ook die duiwels binne hom; sy soeke na geregtigheid vir ander en verlossing vir homself. Dit is ook die verhaal van ’n pa wat enigiets sal doen om die dood van sy seun te wreek. Nie oor alle sterftes word ewe veel gerou nie, suggereer die storie. Ons hoop Devil’s Peak gaan ’n reeks wees wat dit onmoontlik maak om weg te kyk.”

Deon Meyer is een van Suid-Afrika se internasionaal suksesvolste skrywer. Sy boeke is reeds in meer as 20 tale vertaal en hy is wêreldwyd ’n topverkoper. Hy het ook al verskeie toekennings, plaaslik en internasionaal, vir sy werk ontvang. 

“Ek is verheug en baie trots om uiteindelik te sien hoe Bennie Griessel se wêreld ook op die skerm lewe kry, alles te danke aan ’n briljante en talentvolle plaaslike en internasionale span,” sê Meyer. “Devil’s Peak was die eerste boek waarin Bennie die protagonis, as ’t ware die hoofspeler, geword het en hier is sy debuut op TV. Opwindende tye!”

Devil’s Peak word met trots na jou gebring deur M-Net en DStv – die tuiste van vermaak. Die datum van die uitsending van die eerste episode op M-Net word eersdaags bekend gemaak. Dit sal ook op die DStv App gestroom word en sal op DStv Stream beskikbaar wees. Besoek die M-Net Website vir meer inligting en praat saam op Twitter, Instagram, TikTok en Facebook.