Logo
kykNET_Wie_word_'n_miljoener_1600x160_S4_CTE
web uni tv guide

Wie Word 'n Miljoenêr?

144Spelprogram13

Melt maak mooi vir liefdadigheid - Wie Word 'n Miljoenêr

Nuus
16 Mei 2023
Trivia geek’ maak seker liefdadigheid is die grootste wenner tydens ’n spesiale uitsending van ‘Wie Word ’n Miljoenêr’
Wie word 'n miljoener

R250 000. Dit is die allemintige bedrag wat Woensdag 10 Mei met algemene kennis en 'n paar goeie raaiskote vir een van die land se bekendste liefdadigheidsorganisasies tydens 'n spesiale uitsending van Wie Word 'n Miljoenêr gewen is. Volgens programaanbieder Rian van Heerden is dit terselfdetyd ook die meeste geld wat tot nou toe nog met bekendes in die reeks gewen is.

Ses van die land se bekendstes op die kassie en oor die radiogolwe het teen mekaar meegeding om seker te maak hul gekose liefdadigheidsorganisasie gaan by hul algemene kennis baat.

Die komediant en akteur Melt Sieberhagen, Bravo!-aanbieder Tracey Lange, Binnelanders se Je-Ani Swiegelaar, Lourensa Eckard van In Gesprek, Troukoors se Ilse-Lee van Niekerk en David Johnson van Getroud met Rugby het teen mekaar te staan gekom.

Dit sou juis Melt wees wat as die wenner van dié episode bekroon is en R250 000 vir die liefdadigheidsorganisasie Gift of the Givers losgeslaan het. Maar hoekom het hy juis hierdie organisasie gekies?

"Hulle kon amper half eerste op as ek dink aan mense wat rêrig 'n verskil maak en áktief 'n verskil maak. Ek het baie waardering en respek vir die werk wat hulle al het en wat ek al van hulle gehoor het. Dis net lekker om te sien mense doen die werk wat 'n mens sou verwag ander mense eintlik moes doen," het Melt oor sy keuse gesê.

Hy het van meet af aan die toon aangegee toe hy die eerste een was wat Afrika-lande van groot na klein kon rangskik. Weldra het hy vir Lourensa as 'n spanmaat gekies "omdat sy ook geklink het asof sy ook skooltyd meer boeke as maats gehad het".

Nadat al sy hulplyne uitgeput is, moes hy op eie stoom 'n paar taai vrae self hanteer. Hy het wyslik besluit om nie die vraag op die halfmiljoen-kerf te antwoord nie en het by R250 000 volstaan.

Hoe voel hy oor die wengeld?

"Wel, ek het gehoop ek sou baie geld wen. Ek weet ek's 'n trivia geek en 'n nerd as dit kom by sulke goed. So, daar's seker maar altyd 'n kans dat dit sal goed gaan. Daar was ook 'n paar gelukkige raaie wat my tot daar gekry het."

"Ek neem aan enigiets is moontlik en ek is baie, baie bly wat gebeur het. Dit sal great wees om 'n miljoen rand te wen maar dalk moet dit gebeur wanneer ek dit vir myself doen nadat ek myself as 'n charity geregistreer het," het hy grappenderwys reageer.

Melt was Dinsdag 16 Mei by Gift of the Givers om die reuse bedrag te oorhandig aan Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers. 

"Die skenking bewys die goedheid van Suid-Afrikaners. Ongeag die uitdagings wat ons as 'n land in die gesig staar, is daar nog soveel hoop. Dié besluit van Melt om Gift of the Givers as sy welsynorganisasie van keuse in Wie Word 'n Miljoenêr aan te wys, het opbouende blootstelling tot gevolg gehad en dien as 'n inspirasie vir almal," het Dr. Sooliman vertel. 

Skakel elke Woensdag aand om 20:00 in vir splinternuwe episodes van Wie Word 'n Miljoenêr om te sien of iemand gaan wegloop met R1 000 000. Gesels saam op sosiale media FacebookTwitter, en Instagram deur die hutsmerk, #WWnM te gebruik