Logo
Slim BB spoorloos
web uni tv guide

Spoorloos

144Drama13 VL

Lucas ’n nuwe uitdaging vir Armand

Nuus
10 Augustus 2022
Lucas is 'n tipe karakter wat Armand Aucamp nog nie van tevore gespeel het nie. Lees meer oor sy ervaring.
Spoorloos: Die eiland Armand Aucamp

Ons het deur die jare vir Armand Aucamp leer ken as die aantreklike held in TV-reekse en films, maar in Spoorloos: Die eiland wys hy ’n ander kant van sy speeltalent.

Wat het jy die meeste van die karakter Lucas geniet?

Lucas is definitief ’n antogonis (nie noodwendig die skurk nie en hiermee gee ek niks weg nie), ’n tipe karakter wat ek nog nie van tevore gespeel het nie. Dit was ’n ongelooflike geleentheid om ’n ander kant van my spelvermoë te kan wys. In die verlede, as die protagonis, moes ek altyd die kykers van die eerste oogopslag aan my kant probeer kry. Maar as Lucas het ek nie omgegee wat mense van my dink nie. Ek kon net alles blootlê: the good AND the bad.

Enige Spoorloos-geheime wat jy met ons wil deel?

As jy wil hê ek moet nou lekker in die moeilikheid kom, dan moet ek nou hier vir jou kom staan en geheime verklap. Maar wees verseker, daar is BAIE kinkels in die kabels. Wat ek wel kán sê, is tussen al my (Lucas) se uitbarstings, het ek lekker baie gelag ná al die geskreeuery.

Is daar nog ’n kookboek op pad?

My tweede kookboek, Armand kook kaal vol. 2, het ’n ruk gelede uitgekom en bou op die sukses van die eerste boek. Ek het soveel geleer sedert die eerste boek en ek voel my tweede boek is beslis ’n trappie op. Al die resepte fokus weer eens op ’n lae-koolhidraat leefstyl, maar ek glo dat hierdie resepte en bestanddele effe meer toeganklik vir die verbruiker is. Ek wil eers hierdie nuwe boek nog lekker bemark, funksies doen en hom sien vlieg voor ek volstoom aan die derde een begin skryf, maar daar is beslis planne.

Hoekom het jy besluit om die aanlyn-maatsoekdiens KOER te begin? En is daar al enige suksesverhale waarvan jy weet?

Ek wou nog altyd my eie besigheid begin. Toe ’n Engelssprekende vriendin in 2018 my vra of ek nie vir haar ‘’n goeie ou boer-seun-vriend’ het nie, toe drop die penny. Ek was nog altyd ’n hopeless romantic en om my oog vir besigheid met daardie eienskap te kon versoen, was bedoel om te gebeur. 

Ons word weekliks oortref met die ongelooflikste suksesverhale; van paartjies tot verlowings en selfs al tientalle troues. En dis net dié waarvan ons weet. Ons deel van hierdie paartjies se stories op KOER se sosiale media (@koerliefde) en dit maak werklik die afgelope vier jaar se bloed, sweet en trane die moeite werd. Een van my gunsteling-suksesverhale is ’n man van 75 jaar oud wat sy tweede vrou op KOER ontmoet het. Sy is 69 en hulle is so vier maande gelede getroud.

Watter een van jou talente skeep jy af?

Ek het vir baie lank myself verwyt oor die feit dat ek op 14 jaar oud, nadat ek graad 7-klavier behaal het, skielik net opgehou het en nooit weer gespeel het nie. Toe ek 30 jaar oud geword het, het ek vir myself weer ’n klavier gekoop en elke nou en dan daarop getokkel. Maar dit was eers hierdie jaar, in Januarie, dat ek weer besluit het om volstoom weeklikse klasse te hervat. Ek het in Julie weer my graad 1-eksamen gespeel. Ek speel oor twee maande graad 2 en hoop om teen Desember vanjaar my graad 3-eksamen, ná 16 jaar, weer te speel.

As jy vyf mense vir ’n staptog kan nooi, wie sal dit wees en waar sal julle stap?

Ek sal beslis my vyf beste vriende en partner nooi om saam met my Machu Picchu in Peru te gaan stap. Ek sou aanvanklik vyf bekende, uiteenlopende mense wou kies om dit interessant te laat klink, maar die waarheid is: ek wil my naastes by my hê; die mense waar stiltes nie ongemaklik sal wees nie en waar daar lag in oormaat sal wees.

Wat is jou gunsteling maaltyd?

Steak tartare.

Wat het jy altyd in jou yskas?

Vars koffiebone.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Ek is tans besig om ’n KOER dating show te ontwikkel wat ek graag voor die einde van die jaar wil opneem. Ek skiet ook tans aan seisoen 3 van die HBO-reeks Warrior.

Wyse woorde wat jy altyd sal onthou?

Die woorde van Jacques Rynhard in Ballade van ’n enkeling, die eerste hoofrol wat ek gespeel het: “Moenie dink nie, doen net”. Dit het my al soveel keer uit ’n sloot gehelp. 

Skakel elke Dinsdag om 20:00 in op kykNET, kanaal 144 vir die nuutste episode van Spoorloos: Die eiland. Gesels ook saam op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerk, #Spoorloos te gebruik.