Logo

Leroux: Van kafee-toffies tot ‘lekka’ sukses

Nuus
22 Januarie 2016
Kykers het die grapperige Leroux van Vuuren leer ken in die 2014-seisoen van kykNET se Kokkedoor. Ons het met hom gesels.
Leroux van Vuuren Collage

Foto’s: Lizaan Nel


Kykers het die grapperige Leroux van Vuuren leer ken in die 2014-seisoen van kykNET se Kokkedoor. Ons het met hom gesels oor dié ervaring, sy restaurant in Langebaan en (gróót) planne vir 2016.

Jy was deel van Kokkedoor in 2014. Vertel ons meer van jou ervaring. Het dit enige deure oopgemaak?

Ja, ongelooflik baie! Hier is my storie (in kort!): Toe ek die dag van my oudisie vir Kokkedoor 2 by die skouspelagtige wynlandgoed Leopard’s Leap inry, was my eerste gedagte: Wat het my besiel? Dis ’n triestige dag en ek het boonop verkoue. Die hoopvolle-toekomstige-televisiesterre bekyk my van kop tot toon wanneer ek met my afdop-selfgeverfde-Durban-mandjie by die imposante deure inval.

Drie weke ná die oudisie ontvang ek die goeie nuus: Ek moet my gereed maak vir ses weke se verfilming in die skilderagtige Karoo-dorpie Prins Albert. Ek het twee weke om my onderneming en huishouding te verlaat om die geleentheid van ’n leeftyd aan te gryp.

Op die dag wat ons aanmeld in Kaapstad loer-loer die deelnemers na mekaar, en op die vliegtuig deel hulle ewe Nik Naks en kafee-toffies uit.

In Prins Albert moet spanne gekies word en almal gluur-gluur mekaar aan. Ek eindig by Jay Oelofse van Jansenville en ons kliek gou. Só beweeg ons van die een uitdaging na die volgende en nuwe vriendskappe word gevorm.

My volgende spanmaat is Alet van der Westhuizen van Kaapstad en ons vaar heel goed. Tot die koekbak-ramp ons tref! Ek troos, klits hier, skei ’n eier daar, troos weer en siedaar – ’n klipharde chiffonkoek wat my en Alet sal laat nagmerries kry tot ons eendag die aardbol verlaat.

Daar is weer ’n skommeling en ek land by die sanger, kitaarspeler en aspirant-restaurant-eienaar Lindie Watson van George. Sy is 24 jaar my junior, maar iemand wat jy nie sonder handskoene aanpak nie. Volgens Hetta maak ons ’n goeie span.

Ek en Lindie val uit in die vyfde plek met die Peppermint Crisp-tert waarvoor ons ’n blikkie TREAT gebruik het! Wat ’n ondervinding. Ek bel my vrou en huil snot en trane, maar ek en Lindie verlaat die stoor kop omhoog.

Wat ek op daardie stadium as die einde beskou het, is sewe maande later vergete. Kokkedoor word op TV uitgesaai en ek kry oproepe en e-posse van ou skoolpelle, familielede en oud-kollegas, wat my gevreet op die kassie herken. Facebook kreun onder nuwe “friend requests”.

My vrou lees al die hordes kommentaar op sosiale media en ek loer kort-kort of daar lelike kommentaar is. En daar was – sommer baie! Vreemde mense wat in deelnemers se karakters inklim. Ek kom gou agter ek is een van die “gunstelinge”, en is bitter dankbaar.

Vreemdes herken my op straat en die gevoel is baie vreemd vir my. My gesin bars van trots wanneer ek in Spar se gange moet poseer saam met vreemdelinge (wat my naam en alles ken!).

’n Bekende tydskrif bel my en wil met my ’n onderhoud voer oor iets wat tien jare gelede met my gebeur het (sy kodeïen-verslawing). Wat? Hoekom sal die publiek nou daarin belangstel? Na raadpleging met my gesin stem ek in. Ek besef vir die eerste keer mense se behoefte om in ander mense (veral bekendes) se pyn en vreugdes te deel. Die artikel bring ’n ander dimensie na my “genre” en skielik doen ek motiveringspraatjies ook.

Kokkedoor het my lewe handomkeer verander. Ek koester die geleenthede wat na my kant toe kom en is baie, baie dankbaar.

34 leroux van vuuren collage


Jy is die eienaar van Lekka by die See in Langebaan. Wanneer het jy die restaurant geopen?

Ek het ’n vennoot gehad en ons het dit saam begin. Dit was ses jaar gelede. Die vennoot is intussen weg en ek bedryf dit alleen.

Wat sal ’n mens tipies hier op die spyskaart kry?

Ek kan baie op die spyskaart sit, maar ek ondervind die kliënte verkies seekos aangesien ons op die water sit!

Waaraan sal jy die restaurant se sukses toeskryf?

Ek dink dis my persoonlike betrokkenheid (sover ek kan!). Daar doen ek moeite om saam met kliënte te kuier en deel graag ’n grappie of twee met hulle. Op klein dorpies is besigheid kosbaar, en Kokkedoor het beslis gesorg vir goeie besigheid.

Wat is die grootste flater(s) wat jy al ooit in die kombuis begaan het, hetsy op stel of in jou eie kombuis of restaurant?

Weet nie hoekom mense dit doen nie, maar sodra iemand herkenbaar by jou kom tree ’n mens anders op. Só stap Johan Stemmet van Noot vir Noot eendag hier in, saam met sy hele gesin. Almal (ek inkluis) gaan uit ons pad uit om te sorg alles is piekfyn. Johan bestel ’n pizza en noem aan my dat hy hoogs allergies is vir knoffel; daar moet geen knoffel náby hom kom nie. So gaan dra ek self die bestelling oor aan die ou wat my pizzas maak. Hy is rou Engels en hoor toe “lots and lots of garlic”. Voor ek die pizza kon goedkeur om uit te gaan, neem die kelner dit vir hom! Ek het gedog ek bars ’n aar!

Nadat ek verduidelik het (en hy effe vies was, maar verstaan het), roep hy my weer: Albei sy skoondogters se slaaie het ’n wurm in! In die jare wat die restaurant sake doen, het só iets nog nooit gebeur nie!

Volg jy kook- of bakprogramme op TV? Wat is jou gunsteling(e) en hoekom?

Jong, ek moet eerlik wees, ek het min tyd vir televisie kyk! (Ek het wel my eie reeks slaafs gekyk!).

Watter eienskappe, in jou persoonlike mening, maak van iemand ’n goeie sjef? 

Jy moet die passie daarvoor hê. ’n Mens kan enige beroep met sukses beoefen as die liefde daarvoor daar is. Sodra jy jou passie begin verloor of voel dis ’n werk, dan moet ’n mens heroorweeg.

Watter sjefs – plaaslik en internasionaal – bewonder jy?

Ek het nie spesifiek een wat uitstaan nie. Vir my is almal wat hulle passie vir kos uitleef alreeds ’n wenner. Daar is baie sjefs wat bitter goed is en nie die erkenning kry wat ander doen nie. Ek was nou die dag op ’n klein dorpie en die eenvoudige gereg wat ek bestel het, het my hemel toe gestuur! Jy kon die liefde daarin proe, en dis goed genoeg vir enige fynproewer!

Wanneer is jy op jou gelukkigste?

Wanneer my vrou en twee kinders gelukkig is; wanneer mense om my gelukkig is. Ek lag báie – dis die beste manier om jare by jou lewe te voeg!

34 leroux van vuuren kids


Wat maak jou kwaad?

Min dinge maak my kwaad (my vrou en personeel sal heel waarskynlik verskil!). Daar is ’n paar dinge wat my frustreer, soos mense wat nie respek het vir ander nie (en hier kan ek ’n klomp dinge noem wat ek al beleef het). Stout kinders in die restaurant laat my gryp na Klipdrift (en ek drink nie eers nie!).

Wat my ook bitter baie frustreer is dat ons ons mooi land so agteruit laat gaan. Ek kan rooi sien wanneer ek sien hoe lifelike dorpe verval in ellende.

Wat is jou grootste droom?

Om al my drome waar te laat word – en daar is baie!

Watter gereg sal jy voorberei wanneer jy iemand werklik wil beïndruk?

Ek het nou onlangs vir ’n hoëprofiel-persoon gekook wat verloof geraak het by my. Ek het lamskenkel, gemarineer in shiraz, vir vier ure teen ’n lae temperatuur in die oond gaargemaak.

Vertel vir ons van die jongste neigings in die kos- en restaurantbedryf. Enigiets wat jou aandag trek en waarop jy veral fokus?

Ek steur my weinig aan neigings – soos met baie ander goed ook! Ek kook met wat beskikbaar is en wat vir my lekker is.

Wat is jou raad aan tuiskokke? Hoe verbeter jy jou vaardighede by die huis? 

Proe, proe en proe! My vrou en kinders is baie goeie kritici! Ek sal vinnig laat weet as iets oneetbaar is!

Wat lê voor vir jou in 2016?

Dis MY jaar! Ek het reeds hordes openbare optredes bespreek regoor die land, asook Namibia.

Ek is ook besig met ’n boek wat ek skryf. Ná Kokkedoor het ek baie navrae gekry oor ’n resepteboek, maar iets het gekort. Ek het baie motiveringspraatjies gedoen na die artikel in die Huisgenoot, en mense het weer gevra om my lewensverhaal te hoor. Toe raak ek ook betrokke by ’n gesondheidsprogram, waar ek bietjie in die gimnasium moes rondswaai. Die resultate was nogal indrukwekkend, en ek het besluit om dit deel van my boek te maak.

’n Bekende tydskrif het dit iewers gesien en gevra of ek op hul voorblad sal verskyn as ek die “lyf” kry. Die antwoord was natuurlik ja!

My grootste droom is om akteur te wees. Daar was al moontlikhede, maar elke keer het iets voorgeval. Ek wil beslis dié jaar iets daaraan doen. (Ek twyfel mos geensins aan drome nie – as ’n mens iets sterk genoeg begeer, gebeur dinge!).

Dan werk ek aan ’n projek wat opslae gaan maak, maar daar word ongelukkig nog onderhandelinge gevoer (dit gaan ’n verskriklike uitdaging wees en die publiek gaan mál wees daaroor!).

Leroux op sosiale media

Leroux deel gereeld staaltjies op sosiale media, soos die keer wat hy op ’n sissende slang in sy restaurant afgekom het, ’n ongemaklike Swart Vrydag-inkopiedag oorleef het en gehoor het wie is sy doppelgänger (“Boetie, het iemand al ooit vir jou gesê jy lyk byna nés Leroux wat Kokkedoor gewen het?”).

Leroux het homself darem aan die vrou as dié einste Kokkedoor-deelnemer voorgestel. Hy sê: “Sy was teleurgesteld toe ek haar reghelp en sê ek het nié gewen nie.”

Dié stories gaan ook deel wees van sy boek, sê hy.

Vind meer uit oor Leroux se restaurant, Lekka by die See, en volg hom op Facebook en Twitter.