Logo

Leon van Nierop se huldeblyk aan fliekbedryf

Nuus
29 Februarie 2016
Leon van Nierop se boek, Daar doer in die fliek, gee aandag aan die ontwikkeling van Afrikaanse flieks oor elke dekade van die 20ste en 21ste eeu.
Daar doer in die fliek

Leon van Nierop. Foto: Peter Whitfield


Die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf is een van die oudstes ter wêreld. Reeds in 1898 is Paul Kruger op pad na die Raadzaal van die ZAR verfilm en in die vroeë 1900’s is dokumentêre rolprente oor die Anglo-Boereoorlog gemaak, alles natuurlik nog sonder klank. Die eerste “Afrikaanse” rolprent, De Voortrekkers, het al in 1916 verskyn, met flitskaarte in ’n mengsel van Afrikaans en Nederlands wat inligting aan die kyker oorgedra het.

Daar doer in die fliek gee gedetailleerde aandag aan die ontwikkeling van Afrikaanse speelfilms oor elke dekade van die 20ste en 21ste eeu met belangrike rolspelers soos Pierre de Wet, Jamie Uys, Emil Nofal, Jans Rautenbach, Katinka Heyns, Koos Roets, Dirk de Villiers en Danie Bester. Ook die opbloei van Afrikaanse rolprente, belowende én gevestigde rolprentmakers, regisseurs, tegnici, akteurs en belangrike tendense word onder die loep geneem.

Drie gelukkige kykers kan elk ’n eksemplaar van Daar doer in die fliek wen!

Dié boek sluit aan by die gelyknamige televisiereeks wat op kykNET uitgesaai is. Leon van Nierop ontleed die plek van elke rolprent in die geskiedenis met gesag en humor. Die boek bevat ook inligting wat nie in die reeks voorkom nie.

Daar doer in die fliek is Leon van Nierop se huldeblyk aan die Afrikaanse rolprentbedryf, wat ten spyte van insinkings, teenslae en dwaalspore reeds groot prestasies gelewer het en teen 2015 ’n ongekende bloeitydperk beleef.

Die Afrikaanse fliekbedryf vaar nou beter as ooit tevore, meen Van Nierop. Kyk die video hier onder:



Van Nierop het twee jaar lank navorsing gedoen en met verskeie rolspelers oor die onderwerp gepraat.

Moenie net ’n opeenstapeling van feite verwag nie, maar ook ’n vermaaklike en insiggewende kykie na wat agter die skerms van die bedryf gebeur het, met skaars foto’s uit die argief en ook van rolprentstelle.

Uiteindelik kyk dit na waarheen ons in 2016 op pad is. En of kwantiteit nie binnekort in die pad van kwaliteit gaan staan nie.

Leon van Nierop is ’n bekende radiopersoonlikheid en ‑regisseur, ’n gesoute rolprentresensent, rolprentvervaardiger en skrywer van romans. Twee van sy suksesvolle radio- en televisievervolgverhale, Wolwedans in die skemer en Ballade vir ’n enkeling, is verfilm en Leon was self verantwoordelik vir die draaiboeke van die rolprente. Hy was vier jaar lank hoof van die Rolprentakademie van die Tshwane Universiteit van Tegnologie en tree dikwels as dosent en spreker oor rolprente en die skryfkuns op.