Logo
Evita in Excelsior Slim BB NEW
web uni tv guide

Evita In Excelsior

144Drama13 L

kykNET stel bekend, Evita in Excelsior – ’n mini-reeks deur Pieter-Dirk Uys

Nuus
07 Desember 2022
“Die pad na ’n politikus se hart is nie deur sy brein nie, maar deur sy maag!” – Evita Bezuidenhout
Evita in Excelsior Artikel Image

Suid-Afrika se bekendste wit vrou kry die eer wat haar toekom in Evita in Excelsior, wat Dinsdag 10 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.

Tannie Evita is 87 jaar oud en haar lewe is bitter besig. Haar drie kleinkinders, Winnie- Jeanne (19), Nelson-Ignatius (16) en LaToya-Ossewania (13) woon by haar in Excelsior – ’n ou herehuis in Johannesburg wat sy namens die ANC bestuur. Haar ou staatmaker en persoonlike assistent, Bokkie Bam, voormalige hooggeplaaste in die ontbinde tuisland Bapetikosweti, kom help Evita met haar outobiografie en dit noop hulle om weer deur die mynvelde van Suid-Afrika se verlede te trippel en ook ’n paar ou geheime uit te lap.

Evita verteenwoordig baie van die vrese, verwagtinge en vooroordele van haar generasie, maar sy is ook bewus van die noodsaaklikheid van luister en lag, hoop met humor en koeksisters met rooibostee. Sy moet aanpas – nie net met die daaglikse woelinge van demokrasie nie, maar ook met die jonger generasie, ’n vinnig veranderende wêreld en haar ouderdom.

Tussen haar outobiografie en besoeke aan Luthuli Huis, hou die familie haar besig met tienerprobleme en moderne opinies. En Evita probeer byhou, maar wonder tog wat op aarde TikTok is?

Evita in Excelsior is ’n dramedie van vier episodes geskiet in ’n dokumentêre styl. Dit sluit van Evita Bezuidenhout se geliefde storiemonoloë in en ’n paar ikoniese onderhoude wat herinner aan haar veelbewoë geskiedenis en belangrike bydrae tot Suid-Afrika.

Die rolverdeling van Evita in Excelsior sluit in Pieter-Dirk Uys as Evita Bezuidenhout, Lizz Meiring as Bokkie Bam, Vinette Ebrahim as Ella, Royston Stoffels as Cecil, asook Brümilda van Rensburg, Hannes van Wyk, Martin Kluge, Veronique Jepthas, René Cloete, Ayden October, Brent Vermeulen en Tevin Musara.

“Dit gaan alles oor stories. In die nuwe jaar, ná ’n leeftyd van kort en bondige Tannie- praatjies, is Evita Bezuidehout nou in almal se voorkamer vol sages en verhale – met lief en leed, soet en suur. Met Evita in Excelsior bewys sy dat die toekoms van Suid-Afrika seker is. Dis net die verlede wat onvoorspelbaar bly,” sê Pieter-Dirk Uys.

Spesiale gaste in die reeks sluit in hoofsekretaris van die UDF en FEDSAW Cheryl Carolus, die Springbok-rugbylegende Kobus Wiese, die weduwee van oud-President FW de Klerk, Elita de Klerk, en die eerste Suid-Afrikaanse sjef wat ’n Michelin-ster ontvang het, Jan Hendrik van der Westhuizen.

“Dit was ’n ongelooflike spesiale projek om deel van te wees, en ek is so geëerd om tyd saam met só ’n wonderlike mens te kon spandeer,” sê Tinarie van Wyk Loots, regisseur van die reeks.

Evita Bezuidenhout het in 2001 die Living Legacy-toekenning ontvang van die Woman’s International Centre in San Diego, Kalifornië, vir haar bydrae tot die plek van vroue in die laaste dekade. Vorige ontvangers van dié gesogte toekenning sluit in Hillary Clinton, Bette Davis, Moeder Teresa, Prinses Diana en Margaret Thatcher.

Dié mini-reeks herinner hoekom Evita in hierdie uitgelese geselskap hoort.

Evita in Excelsior begin Dinsdag 10 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) vervaardig deur Brainwave Productions.