Logo
Ladies Launch Mobile BB RHOWL
web uni tv guide

Die Real Housewives van die Wynlande

144Realiteit16 L

kykNET kondig aan: "Die Real Housewives van die Wynlande"

Nuus
23 Maart 2023
"Die Real Housewives van die Wynlande" begin op 20 April 2023 om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.
RHOW Announcement Article Image

Eers het vyf vroue van Pretoria die land aan die gons gehad in Die Real Housewives van Pretoria. Nou is dit die mooie Kaap wat aan die beurt kom met Die Real Housewives van die Wynlande.

Daar is ses vroue wat hulle huise se deure, hulle harte en hulle lewens vir kykers gaan oopmaak. Hulle is van vorige skoonheidskoninginne, entrepreneurs met blink idees, fiksheids modelle met ’n lus vir die lewe, ’n mediese dokter wat van trauma na estetika beweeg het, ’n sangeres wat die mikrofoon vir die korporatiewe lewe verruil het tot ’n vrou wat met die hoof van een van Suid-Afrikaanse se oudste maatskappye getroud is. Nuuskieriges sal egter moet wag tot Vrydag 31 Maart 2023 voor die name van dié glansryke vroue bekend gemaak word.

Die Real Housewives van die Wynlande is in en om Franschhoek, Paarl, Stellenbosch en Somerset-Wes verfilm en selfs Barrie Kelly van NBC Universal, die Amerikaanse maatskappy aan wie die Housewives-franchise behoort, kan nie uitgepraat raak oor die nuwe reeks nie.

Die Real Housewives van die Wynlande is een van die mees asemrowende franchises wat ons het. Die ‘stel’ van die Kaapse wynlande is ongelooflik en ek is gaande oor hoe dit in die openingtitels gebruik word,” sê hy.

“Die natuurskoon en pragtige dorpies is as’t ware een van die hoofkarakters van die reeks,” sê die reeksregisseur Pascual Wakefield. “Die kykers gaan beslis aanklank vind by elke vrou, op die punt van hulle stoele sit wanneer dinge ernstig raak en soms emosioneel geroer word. Daar gaan natuurlik ook baie gelag word; alles in een episode. Hierdie vroue het dalk nie ’n tekort aan geld nie, maar hulle het siel ook.”

“Dit was ’n voorreg om hierdie reeks in een van die mees fotogeniese streke in ons land te verfilm,” sê Lindi Lucouw van Red Pepper, die produksiesmaatskappy wat vir die reeks verantwoordelik is. “Ons ses kleurvolle vroue het sterk opinies en gaan die land behoorlik aan die gons hê. Kykers kan drama, emosie en pittige humor – soms met die tong stewig in die kies – verwag.”

The Real Housewives-franchise het in Maart 2006 sy debuut in Amerika met The Real Housewives of Orange County gemaak. Intussen is daar elf verskillende reekse in Amerika vervaardig met 21 internasionale weergawes waaronder reekse in Durban, Johannesburg en Kaapstad. Die Real Housewives van Pretoria, wat in Oktober 2022 op kykNET begin het, was die eerste reeks in Afrikaans.

Die Real Housewives van die Wynlande begin op 20 April 2023 om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144