Logo
kykNET_Op_my_Eish!_S3_Brendan_Peyper_Slim_BB
web uni tv guide

Op My Eish!

144RealiteitPG13 L

kykNET hoogtepunte: Februarie 2024

Nuus
01 Februarie 2024
Waar vind al die aksie plaas? En wie gaan verloor en wie gaan liefde vind? Lees oor jou gunsteling Afrikaanse reekse en sepies.
kykNET hoogtepunte

Drama, komedie en die soeke na liefde is alles op die spyskaart op kykNET (DStv-kanaal 144) in Februarie 2024.

  • In Op my eish wag daar ’n groot verrassing op Brendan Peyper en die dames in die episode van 1 Februarie. ’n Baie belangrike persoon in sy lewe maak haar verskyning. In Februarie word vier van die vroue ook na een van sy optredes genooi, en ’n visvang-uitstappie verloop nie vir almal soos hulle gehoop het nie. 
    Donderdae om 20:00

  • In Die Byl (Dinsdae om 20:00) is daar meer as genoeg aksie.

6 Februarie 

Die reeksmoordenaar teiken haar finale slagoffer, en dit raak persoonlik. Nicki vind geselskap by Alex, en dit ontstem Byl. ’n Sleutelpersoon in die Nabootser-saak raak vermis.

13 Februarie

’n Jagtog neem ’n donker wending. Dit laat ’n vriend van Nicki twyfel oor sy besluite. Juan ontwikkel ’n algoritme om te voorspel watter reeksmoordenaar die Nabootser volgende gaan namaak.

20 Februarie

Byl vind sy eie DNS op ’n Nabootser-moordtoneel. William se verhouding met sy buurvrou versleg verder. Jo word in ’n moeilike situasie geplaas en moet haar demone in die oë kyk.

27 Februarie

Menslike oorskot wat naby ’n slaghuis gevind word, sit Byl op die spoor van ’n kunstenaar. Die eenheid maak ’n deurbraak met die Nabootser se leidrade. Jo en William deel ’n intieme oomblik.

  • Magda Louw (Maandae om 20:00) het babakoors in Februarie.

5 Februarie

Magda en Erhard reël ’n Sondagmiddagbraai met die familie. Almal word gekonfronteer met ’n tragiese gebeurtenis.

12 Februarie 

Dis Gertrude se ooievaarstee – lekker ongemaklik soos dit moet wees. Almal ontmoet ’n nuwe lid van die familie.

19 Februarie 

Magda erken dat sy nie ’n goeie baba-mamma is of ooit was nie. Gertrude sukkel ook maar om haar kop bo die doeke te hou.

26 Februarie

Magda soek verwoed baba-name vir Gertrude se kleinding en besef dat daar baie meer in ’n naam skuil as net die naam self.

  • Donkerbos (Sondae om 20:00) laat kykers naels kou terwyl Fanie en haar span die reeksmoordenaar probeer vastrek.

4 Februarie

Fanie sukkel om haar nuwe vennoot te vertrou, en die patologiese verslag bring meer vrae as antwoorde. Nog ’n kind word deur die moordenaar geneem.

11 Februarie

Kallie openbaar die waarheid oor wat hy gesien het. Tsedza en Sybrand ondersoek Simon se verdwyning, en Pattie se nalatigheid lei tot ’n nuwe tragedie.

18 Februarie

Die saak begin haar inhaal, en Fanie se persoonlike lewe val uitmekaar. Hoe sit jy een voet voor die ander in die aangesig van soveel haat en hartseer?

25 Februarie

Die ondersoek bereik breekpunt wanneer Fanie en Tsedza begin koppe stamp. Wolf neem inisiatief en maak per ongeluk ’n verskriklike ontdekking.

  • Laataand by Rian het in Februarie weer interessante gaste wat kykers aan die praat gaan kry. Onder die nuwe gaste is Cindy Swanepoel, bekend vir haar rol in Binnelanders, wat vertel van haar planne nadat sy die sepie waarin sy sewe jaar lank te sien was, vaarwel geroep het. Die sanger Elandré Schwartz, die dromer van Despatch wat met sy groot stem aanvanklik gesukkel het om ’n platekontrak te kry, maak ook by Rian ’n draai. Die tweede gas in elke episode is natuurlik, soos altyd, ’n verrassing.
    Dinsdae om 21:00 

Hoogtepunte op kykNET&kie in Februarie

  • Koortjies met Jonathan Rubain (Sondae om 19:00) is ’n gospel-musiekprogram wat fokus op geloof, sang, spiritualiteit en ander sake wat kykers na aan die hart lê. In die program van 18 Februarie is die gas Solomon Cupido. Hy gesels oor sy nuwe fliek, Frankie en Felipé, asook oor sy vriendskap met wyle Bradley Olivier van Binnelanders-faam wat saam met hom in die rolprent speel. Op 25 Februarie is die gas Die brug se Avril Albetti, wat gesels oor haar grootwordjare, haar modelwerk oorsee en natuurlik haar tyd op Die brug.

Sepies in Februarie 

  • In Binnelanders vind Conrad uit wat die regte datum van Tracy se bevalling is, en die identiteit van Naomi se skenker word geïdentifiseer. Bonnie hoor iets wat nie vir haar ore bedoel was nie, en Louis is bekommerd oor die toekoms. Tracy maak gereed vir oorlog, en Lukas se hulp word ingeroep. Henry en Annetjie wil ’n plan beraam om Binneland se beeld te poets. Steve gee vir Naomi ’n idee, en Joline is agterdogtig oor Conrad. Nicolette deel slegte nuus, en Bonnie glo daar is groot romanse in Binneland aan die broei. 
    Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

  • In Suidooster probeer Danni en Siya maak of alles normaal is, maar hulle sukkel om die feit dat hulle nie kan kinders hê nie te verwerk. Is die Thuli-egpaar se huwelik in troebel waters? Laylla en Nazeem se verhouding blom, en hulle het groot planne vir hul toekoms saam. Dit lyk dus of ware liefde vir Nazeem bestem is, en hy wend regtig ’n poging aan om ’n beter mens te wees. Iemand gun hom egter nie sy geluk nie. Die gort is behoorlik gaar wanneer ’n jaloerse Zoë hul verhouding probeer saboteer. Lee-Ann, Bianca en Elana maak gereed om ’n groot fondsinsamelingsgeleentheid ten bate van die skool se nuwe swembad aan te bied, maar daar is konflik wat tussen die vroue broei. Lee-Ann glo die tyd is ryp vir Bridgette om weer haar hand aan liefde te waag en reël vir haar ’n afspraak met Sammy, ’n afgetrede landdros. Maar kort voor lank ontmoet Sammy toevallig vir Mymoena in die parkie, en dit blyk dat dié twee ’n konneksie het. Mymoena se kinders is egter nie beïndruk met dié verwikkeling nie. Wade bied ’n jogaklas aan wat skeefloop, en hy en Angie besluit om iets anders te kry om saam te doen. Tim wil graag aan ’n ontwerpkompetisie vir argitekte deelneem, maar Bridgette laat hom nie toe nie. ’n Skokgebeurtenis dompel Ruiterbosch in rou. 
    Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

  • In Diepe waters vind Sanet liefde, en Lucy flankeer met iemand. Die res van Februarie is egter alles behalwe maanskyn en rose. Thandi en Valencia sê mekaar behoorlik die stryd om die bestuurspos aan, maar dan kry Thandi hulp. Rossouw bevind hom in ’n gevaarlike situasie. Gaan hy dit oorleef? En hoe gaan sy familie hom ondersteun? ’n Bakleiery ruk handuit, en Nina ontvang ontstellende nuus. Wat tussen Rose, Wim en Lucy gebeur, neem ’n skokkende wending. Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

  • In Arendsvlei kry Beatrice ’n onverwagte gas wat haar aangenaam verras. Langes se woede neem oor, en Saartjie is terug in die Vlei. Janice besef uiteindelik wat rêrig in haar lewe aangaan. Beatrice en Abigail probeer nog die stukke optel ná Clint se dood, maar net toe hulle op ’n goeie plek is, klop iemand uit Beatrice se lewe aan haar voordeur. Langes en Ayesha neem ’n groot besluit oor hul toekoms en is meer verlief as ooit. Die paartjie is deur baie storms die afgelope tyd en besluit om hul liefde vir mekaar eerste te stel. Vroeg in Januarie het Janice besluit om die Galants in haar vertroue te neem, eerder as haar eie familie. Lionel het alles in sy vermoë gedoen om Janice terug te wen, maar dinge het nou so ver gevorder dat Janice reg in die hande van die Galants speel. Sy gebruik haar posisie by Hoërskool Arendsvlei om vir die Galants groter mag te gee. En net wanneer Desmond dink sy planne verloop seepglad, beplan Janice in die agtergrond sy ondergang. Janice kry stukke van haar geheue terug, maar is dit dalk te laat? 
    Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)