Logo

Kyk die amptelike lokprent van Meisies wat fluit hier

Nuus
18 Augustus 2020
Is daar hoop vir ’n tweede kans na ’n verbrokkelde huwelik? Miskien, maar nét as die reëls gevolg word.
MWF Teaser Still

Die tweede auteursfilm, Meisies wat fluit, van die skrywer-regisseur, Johan Cronje (Wonderlus), vorm vanjaar deel van die kykNET Silwerskermwebinaar wat 2 tot 4 September aanlyn plaasvind. Meisies wat fluit, wat aanvanklik as ’n televisie-film geskryf en verfilm was, was deel van Nagvlug Films se Showmax TV-film projek waaronder ander speelfilms soos Posbus 1 en Somerkersfees vervaardig was.

Meisies wat fluit sal eksklusief première op Vrydag 4 September tydens die kykNET Silwerskermwebinaar op DStv BoxOffice. Kykers sal ook die geleentheid hê om die speelfilm eerstehands te huur op hierdie filmplatform.

Die DStv BoxOffice filmplatform bied ook vir kykers wat nie DStv-intekenare is nie die geleentheid om plaaslike en internasionale films op hul slim-televisies en ander digitale toestelle te huur. Vir meer besonderhede besoek: DStv BoxOffice

“Ons was so beïndruk met die gehalte, wat die span met ’n klein begroting reggekry het, die kwaliteit van die draaiboek asook die spel, dat ons besluit het om die speelfilm terug te hou vir die Silwerskermwebinaar 2020,” sê Wikus du Toit, toesigvervaardiger: komedie, drama & films by kykNET.

Nes Henk en Sofia se egskeiding deur is, beland hulle saam in die bed – vir die eerste keer in meer as ‘n jaar.  

“Johan Cronje het ’n fyn gefokusde talent om kontemporêre verhoudings tot op die been oop te kloof en op ’n erg Afrikaanse wyse, ’n vergrootglas plaas op die kleine wat ook op ’n groter vlak resoneer met enige kyker,” voeg du Toit by.

Die rolverdeling sluit in Leandie du Randt, Stiaan Smith, Amalia Uys, Geon Nel, Anré Bouguenon, Pietie Beyers, Hanli Rolfes, Bennie Fourie en Gerald Steyn.

Vir meer inligting besoek: www.silwerskermfees.co.za