Logo
web uni tv guide

Karbrasse

145RealiteitPG13 L

Karbrasse ga’t die tyres behoorlik la’t pop!

Nuus
22 November 2023
In hierdie reeks, vertel petrolkoppe onder meer oor die positiewe impak wat die karkultuur in hulle lewens gemaak het.
car spinning motorsport

Vanaf Vrydag 5 Januarie kom die Karbrasse pavillion* na kykNET&kie.

[Pavillion • ’n Plek waar petrolkoppe bymekaar kom om te blom, tyres te pop, te spin en hulle karre af te show]

Suid-Afrika se karkultuur wat mense bymekaar bring en gemeenskappe positief voortbou, word in-diepte in Karbrasse gewys. Die reeks van dertien episodes is van Vrydag 5 Januarie om 19:30 op kykNET&kie, DStv-kanaal 145, te sien.

Petrolkoppe van Kaapstad tot die suide van Johannesburg en ander gemeenskappe regoor Suid-Afrika, wys hul staal in spinning waar ’n kar in sirkels draai met verskillende toertjies en drifting waar hulle teen hoë-spoed verskillende uitdagings aandurf om punte aan te teken. Daarby vertel hulle van die positiewe impak wat die karkultuur in hulle lewens gemaak het. Dis meer as net drift en spin. Dis ’n leefstyl met ’n gemeenskap wat ’n sub-kultuur aan die lewe hou.

Van die persone wat in die dertien episodes te sien is, is Bronny wat saam met sy seun sy Nissan S13 verfyn, Mase en Elvis wat hulle kinders betrokke gekry het by hulle stokperdjie, en Shantone Buys wat gehelp het om die sport te groei en nou sy dogters help om hulle drome waar te maak.

Tariq “Chip” Moosa beskryf homself as ’n kunstenaar omdat hy verkies om stadig te ry sodat sy skeppings gesien kan word. Hy bou al vir meer as twee dekades karre en sy eie spogkar, ’n BMW E9 genaamd ‘Nkabi’, het in Augustus meer as 6000 karre vanuit Europa uitgestof by die Slammed UK-kompetisie in Birmingham.

Die bekende Kaapse DJ Ready D en sy vrou, Malikha, wys ook in ’n episode hoe hulle lewe as ’n paartjie rondom karre en musiek draai, en hulle vasberadenheid om motorsport veilig te maak. Daar is selfs ’n paar Datsun-koppe wat ’n versameling klassieke Datsuns besit en al te gelukkig daarmee te spog.

Karbrasse is soveel meer as ’n program oor ’n crew of brasse wat met hulle karre spog,” sê Stephanie Pekeur, inhoudskonsultant van die reeks. “Dit gaan oor ’n sub-kultuur; een wat ’n positiewe impak op mense se lewens het. Met Karbrasse bewys ons dat hierdie mense het drome vir hulself, hul families en die breër gemeenskap. En al dink jy jy is nie ‘n petrolkop nie, sal die geluid van die enjins en die tyres wat pop beslis iets in jou wakker maak.” 

“Daar is verskeie karakters in die reeks te sien,” sê Thomas Holder, regisseur van Karbrasse. “Elkeen het sy eie smaak en styl en die reeks vang die fassinerende soeke na respek en ontsag van ander; alles gebou op die wete dat karre vir hierdie mense bo alles troon.”

Karbrasse begin Vrydag 5 Januarie om 19:30 op kykNET&kie, DStv-kanaal 145. Episodes sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.