kyknet channel logo

Hoogtepunte in Januarie op die kykNET-kanale

Nuus05 Desember 2025
In Januarie is daar geen tekort aan opwinding op die kassie nie.
Januarie hoogtepunte

kykNET se kanale verras met nuwe dinge vir ’n nuwe jaar. Daar word weer liefde gesoek in die nuwe seisoen van Op my eish! Rian van Heerden probeer uitvind of Amerika werklik ’n veilige hawe bied in die dokumentêre reeks Beloofde land. Bobby van Jaarsveld en Brendan Peyper gooi ook ’n Amerikaanse draai in Ander dam se eende. En dis maar net die oortjies van die Januarie-seekoei wat bult van topvermaak.

kykNET



Een keer om die son

Die dramareeks Een keer om die son was in 2024 ’n reusetreffer. Die goeie nuus is dat die Van Wyks ons vir nog ’n omwenteling gaan neem wanneer die nuwe seisoen op 20 Januarie op kykNET begin.

Een keer om die son se tweede seisoen skop op Nuwejaar af, maar hierdie keer is die Van Wyks nie almal saam om dit te vier nie. Die lewe het sy pad geloop, en elkeen het hul eie uitdagings – nie net op die eerste dag van die jaar nie, maar ook in die twaalf maande daarna. Onder die uitdagings tel aanvaarding vind, tweede kanse aangryp, verslawing, lewensveranderende mediese probleme en elkeen se soeke na hulle plek in die familiekring.

Jacques Bessenger is weer te sien as dr. Ruan van Wyk, ’n neuroloog wat sy werk soms voor ander prioriteite plaas. Jana Kruger is Lani van Wyk, wat in die eerste seisoen oorlede is en wie se dood meer vrae as antwoorde gelos het. Lani is in terugblikke weer deel van seisoen 2.

Ruan en Lani se kinders is Markus (Liam Bosman), Leandri (Alma van Heerden) en Sophia (Klara van Zyl), en in seisoen 2 het elkeen ’n uitdaging wat in hulle pad staan.

Albert Maritz is te sien as Sebastian, die afgetrede professor in insektekunde, en Joanie Combrink is Elma, die matriarg van die Van Wyks wat in seisoen 1 met Alzheimer se siekte gediagnoseer is.

Amé (Donnalee Roberts), Ruan se jonger suster, se huwelik het in die eerste seisoen op die rotse beland. In seisoen 2 vind sy haar voete as onafhanklike en ambisieuse vrou, maar sal sy weer liefde vind?

’n Nuwe karakter in seisoen 2 is Erika du Randt, ’n maatskaplike werker wie se loopbaan haar eerste en enigste liefde is. Die rol word deur Cindy Swanepoel vertolk.

Ander karakters wat terugkeer, is Sebastian en Elma se goeie vriende Salie en Jan Wessels (Susanne Beyers en Pierre van Pletzen), Markus se dansmaat, Charlie (Simone Neethling), Leandri se kêrel, Xavier (Alex van Dyk), Lani se pa, Trevor de Kock (Deon Lotz), die verpleegsuster Karen (Isadora Verwey) en Charl Boshoff (Ivan Botha), Amé se kollega. Die jong akteur Heinrich Wentzel, bekend vir sy rolle in Niggies en Die nuusmakers, is te sien as Elijah Smith met wie Leandri se pad op ’n ongewone manier kruis.

Die reeks is deur Ivan Botha, Donnalee Roberts, Liani Jansen van Rensburg, Marista van Eeden en Almero Welgemoed geskryf. Ivan, Donnalee en Danie Bester is die vervaardigers, en Ivan is die regisseur. Hyuandai is ’n trotse borg van Een keer om die son.

“Dit is altyd ’n uitdaging om ’n tweede seisoen aan te pak, veral as die eerste seisoen ’n sukses was,” sê Ivan. “Ons is uiteraard dankbaar vir die sukses en dat dit so ’n geliefd was, maar ons het ook geweet dat die storie nog nie klaar vertel is nie. Dit was ’n fees om die karakters weer af te stof en as ’t ware weer ou wonde oop te krap. As jy gehou het van seisoen 1, gaan jy mal wees oor seisoen 2.” 

“’n Belangrike beginpunt vir ons was beslis wat die hart van die tweede seisoen moet wees; wat daardie boodskap en gevoel is waarmee ons kykers ná elke episode en ná afloop van die reeks wil laat,” sê Donnalee oor hoe hulle die legkaart vir die tweede seisoen gebou het. “Dit het elke keer teruggekom na een woord: hoop.”

“Kykers kan spanning, liefde, hartseer en humor verwag,” sê Donnalee. “Daar word verskeie temas aangeraak, maar in die hart en kern van hierdie seisoen kom ons terug na die feit dat familie die middelpunt van jou sonnestelsel moet wees.”

Vir Donnalee was dit ’n voorreg om weer saam met Ivan as regisseur te werk. “Hy is op dag een dieselfde as wat hy op dag 65 van verfilming is. As regisseur en produksieleier het hy ’n ongelooflike vermoë om vir almal hulle spasie te gun. En omdat hy so hard werk, inspireer hy ander om ewe hard te werk en net so diep te delf.”

Die tweede seisoen van Een keer om die son begin op Dinsdag 20 Januarie op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Op my eish!

Die voormalige rugbyspeler Ruan Smith plaas sy hart op die spel in die hoop om iemand te ontmoet met wie hy ’n toekoms kan bou. Kykers kan regskuif vir ’n seisoen vol verrassings, egte interaksies en onvergeetlike oomblikke. 

Ná honderde inskrywings om vir Ruan se hart mee te ding, het hy 16 vroue gekies om hom in persoon te ontmoet. Uiteindelik kan hy net 12 dames saam met hom op die reis neem, wat vir nog meer spanning, emosie en onverwagte oomblikke sorg.

In vorige seisoene het die twee wildcards altyd in dieselfde episode hul opwagting gemaak, maar hierdie keer verskyn hulle uit die bloute – presies wanneer Ruan dit die minste verwag. Dit laat nie net spanning onder die dames opvlam nie, maar lei ook tot ’n paar moeilike besluite wat die verloop van dié seisoen beïnvloed.

Dié seisoen is propvol opwindende aktiwiteite en uitdagings, met twee aktiwiteite in elke episode wat die dames én Ruan op hulle tone hou. Van die hoogtepunte sluit in foefieslaaidry (ziplining), Spot the Difference tussen Ruan en JP, ’n vrolike touch rugby-sessie, ’n bosveldsafari as ’n romantiese afspraak, e-fietsry en selfs ’n soektog deur ’n doolhof waar die dames vir Ruan moes opspoor.

Verder het die vroue ook die kans gekry om met die lewensafrigter Liezl Thom te gesels vir raad oor hoe om die senutergende, emosionele kant van die avontuur te hanteer. En dit is maar net ’n voorsmakie van die wipwarit van ’n seisoen wat op pad is.

Vir Ruan was dit ’n emosionele reis vol verrassings en waardevolle lesse: “Ek’s ongelooflik opgewonde oor hierdie nuwe seisoen. Om weer die kans te kry om liefde met ’n oop hart te soek, is iets wat ek nie ligtelik opneem nie. Tydens hierdie proses het ek baie van myself geleer, en ek’s reg om te wys wie ek is. Hopelik vind ek iemand wat saam met my die pad wil stap.”

Sy tweelingbroer en wingman, JP, voeg by: “As Ruan se wingman is ek so gereed vir die chaos, die lag en die oomblikke wat jy net eenvoudig nie kan opmaak nie. Ek ken my broer – as sy hart regtig oop is, gaan hierdie seisoen iets besonders wees.”

Op my eish! begin op 15 Januarie 2026 om 20:00, net op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. 

Beloofde land

Is Amerika werklik die land van hoop en drome – of bloot die volgende hoofstuk in Suid-Afrikaners se soeke na veiligheid en stabiliteit?

In Beloofde Land, ’n nuwe dokumentêre reeks van ses episodes wat op 7 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, reis Rian van Heerden deur Suid-Afrika en die VSA om hierdie omstrede onderwerp vanuit alle hoeke te ondersoek.

Die reeks delf in die lewens van Suid-Afrikaners wat die sprong na Amerika reeds gemaak het of oorweeg, en kyk indringend na hoe dié besluit hul identiteit, veiligheid, finansies en menswees beïnvloed het. 

Rian en sy span het eksklusiewe toegang gekry tot mense en gemeenskappe wat selde bereid is om hul stories op kamera te deel. Deur middel van gesprekke, deeglike ondersoeke en vergelykings tussen die twee lande, word temas soos vrees, hoop, verlies, isolasie, oorlewing en nuwe beginne oor die loop van ses episodes verken.

“Die verfilming van hierdie reeks het my baie gehelp met my eie worstelinge oor Suid-Afrika en sy toekoms. Ek dink elke kyker sal, soos ek, ná hierdie reis werklik genoeg insig hê om eerlik oor hul eie toekoms te besluit,” sê Rian.

Emigrasie na die VSA is al dekades lank deel van die Suid-Afrikaanse verhaal, maar toe president Donald Trump ’n uitvoerende bevel onderteken het wat aan Afrikaners spesiale vlugtelingstatus gee, het die debat weer opgevlam.

Van die grootste redes waarom Suid-Afrikaners die land verlaat, kom onder die loep wanneer slagoffers van traumatiese plaasaanvalle en ander gewelddadige misdade hul stories deel. Ons vind ook uit of van Suid-Afrika se grootste boere beplan om te bly of te gly.

In Amerika gesels Rian met Suid-Afrikaners wat vrywillig daarheen verhuis het, hetsy om professionele redes of as deel van die H2A-program, waarmee ’n groot aantal jong Afrikaanse boere na Amerikaanse plase gelok word. 

En dan is daar dié wat glo hulle het geen ander keuse gehad as om Trump se aanbod te aanvaar en as vlugtelinge te vertrek nie.

“Dit was vir my treffend hoe Suid-Afrikaners in Amerika, selfs ná jare daar, steeds iets mis – iets is nie daar nie, en selfs in die land, ooglopend van melk en heuning, kan baie van hulle dit nie vind nie. Dit was soms geweldig moeilik om met hulle te gesels, ook met diegene wat President Trump se destydse aanbod aanvaar het. Dit was asof heelwat van hulle se antwoorde op my vrae op ’n punt begin ooreenstem het,” sê Rian.

Deurgaans bly die sentrale vraag: Is Amerika werklik die beloofde land – of lê ons toekoms steeds hier, in Suid-Afrika?

Die reeks word deur Provoco vervaardig, Rian se produksiehuis, wat ook verantwoordelik was vir SchusterHougaard en Laataand by Rian.

Beloofde land begin op 7 Januarie om 20:00, net op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. 



Die kantoor

’n Afrikaanse weergawe van The Office begin in Januarie op kykNET en Showmax. Met, onder andere, Albert Pretorius, Schalk Bezuidenhout, Lida Botha en Ilse Oppelt in die rolverdeling en Bennie Fourie as regisseur en hoofskrywer, beloof dit om ’n skaterlagwenner te wees.

Dit was meer as 20 jaar gelede toe die wêreld uitgeboul is deur die saai maar skreeusnaakse mokumentêre wêreld van The Office, geskep deur Ricky Gervais en Stephen Merchant. Metacritic lys die oorspronklike Britse weergawe as die mees bekroonde komediereeks van alle tye. Die Amerikaanse weergawe het vyf Emmys gewen, insluitend die toekenning vir beste komediereeks, en was die mees gestroomde program ter wêreld in 2020.

Hierdie universele gewildheid het daartoe gelei dat die Bafta- en Golden Globe-bekroonde kultuskomedie oor die hele wêreld verwerk is vir kykers in ander lande, waaronder Australië, Frankryk, Kanada, Chili, Israel, Indië, die Midde-Ooste en Pole.

Die Suid-Afrikaanse en hoofsaaklik Afrikaanse weergawe van The Office, wat Die kantoor genoem word, is die 14de verwerking van dié formaat.

“Dit is ’n groot eer om die program te kan maak,” sê Bennie. “Toe ons destyds met Hotel begin het, was dit die tipe reeks wat ons wou naboots. Ek dink nie ons was toe gereed om dit te maak nie, maar ná 10 jaar van speel met die mokumentêr-genre, is nou die ideale tyd vir ons om dit te doen. Alles het regtig in plek geval, en ons is baie opgewonde.”

Bennie stel dit duidelik dat hy nie net The Office in Afrikaans vertaal het om dit skoot vir skoot met plaaslike akteurs te herskep nie. Hy het dit binne ’n plaaslike konteks heeltemal nuut verbeel. “Suid-Afrika is nie die VK nie, en dis ook nie die VSA nie, en ons wou seker maak dat dit regtig weerspieël word,” sê Bennie.

Dit het begin deur die kantooromgewing te verander van ’n papieronderneming na Deluxe Processed Meats, wat in polonie spesialiseer.

“Suid-Afrika is ’n nasie van trotse vleisliefhebbers,” sê Bennie. “Van biltong tot droëwors tot steak – baie Suid-Afrikaners vind ’n deel van hulle identiteit in die vleis wat hulle eet. Maar polonie is nie op daardie lys nie. Dit is net so flippen pienk. As jy rondom ’n braai staan, is die laaste ding wat jy wil sê, dat jy passievol oor polonie is. Veral ná daardie uitbraak van listeriose.

Vanuit die hoofkantoor, Deluxe Meats (wat in meer gesofistikeerde vleise spesialiseer), word op die personeel neergesien, en niemand by Deluxe Processed Meats voel hul posisies is veilig nie, aangesien ’n BBBEE-konsortium onlangs ’n groot deel van die maatskappy gekoop het.

Rapid Blue, wat ook Is’thunzi vervaardig (wat aan Thuso Mbedu twee Internasionale Emmy-benoemings besorg het), het ’n mengsel van bekende én vars gesigte bymekaargemaak vir Die kantoor, gelei deur die 2025 Fleur du Cap-wenner Albert Pretorius (Niggies; Nêrens, Noord-Kaap) as Flip, die kantoorbestuurder.

“Flip is nog net die afgelope jaar die bestuurder, maar hy is opgewonde om die dokumentêre span te verwelkom,” sê Bennie. “Hy voel dit is sy Chasing the Sun, en sy inspirerende opgang na die kruin van sakesukses moet vir dié wat na hom volg op film vasgelê word.”

Deel van die ensemble is ook die Safta-wenner Schalk Bezuidenhout (Kanarie, Hotel), die legendariese Lida Botha (Die Kwiksilwers), Carl Beukes (Jozi, The Shakedown), Silwerskermwenner Ilse Oppelt (Oh Schuks I’m Gatvol, Fishy Fêshuns), Daniah de Villiers (Mia in Mia and the White Lion), Mehboob Bawa (Bhai in Bhai’s Cafe), voormalige KFM-aanbieder Sipumziwe Lucwaba en die nuweling Gert du Plessis.

Rapid Blue, deel van BBC Studios, vervaardig hierdie Showmax Original-reeks, met BBC Studios wat die globale verkope hanteer.

Die kantoor se eerste aflewering word Sondag 18 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai, en op Dinsdag 20 Januarie is daar ’n dubbeldoorlagdosis wanneer die eerste twee episodes op Showmax beskikbaar sal wees.



Spooksoeker

’n Splinternuwe reeks, spesiaal vir tieners, maak in Januarie sy kykNET-debuut. Spooksoeker is op die skrywer François Bloemhof se gelyknamige boeke gegrond en vertel die verhaal van Warno Alberts (gespeel deur Rico Immelman), ’n doodgewone outjie in ’n doodgewone dorp, behalwe nou vir die spokeding ...

Rico het sy toneeltande met die ATKV-Tienertoneelkompetisie geslyp en was die naaswenner in die ATKV se TV-werklikheidsreeks Gekies vir die kollig. Benewens Rico, spog Spooksoeker met ’n talentvolle rolverdeling, wat Paul Strydom (beste akteur in ’n hoofrol tydens die ATKV-Tienertoneeleindronde in 2023), June van Merch en Frieda van den Heever insluit.

Hierdie reeks van 13 episodes vir tieners van 13 tot 15 jaar is deur Jean-Pierre de Waal en Annerine Visser van Starscape Motion Pictures vervaardig.

Spooksoeker begin op Saterdag 3 Januarie om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Groen Namibië

Dit het weliswaar vier jaar geneem vir hierdie gewilde natuurbewaringsreeks om weer na kykNET se skerms terug te keer, maar die wag was beslis die moeite werd.

In Namibië, sowat 42 km oos van Windhoek, veg Marlice van Vuuren en haar man, dr. Rudie van Vuuren, steeds met ’n toegewyde span onverpoos voort om die lewe vir wilde diere wat nie na hulself kan omsien nie, makliker te maak.

Marlice het op Harnas in die ooste van Namibië grootgeword, ’n veilige hawe vir diere in nood wat soortgelyk is aan die rehabilitasieskuiling N/a’an ku sê waarby sy en haar man nou betrokke is. Dit was juis Marlice se ma, Marieta van der Merwe, wat in 1978 ’n apie van ’n gewisse dood gered het en só die vlammetjie aangesteek het wat uiteindelik daartoe sou lei dat Marieta saam met haar man, Nick, die beesplaas Harnas as ’n wêreldbekende skuiling vir beseerde diere gevestig het.

Dis ongetwyfeld ’n diepgewortelde liefdestaak om diere in nood te versorg en te rehabiliteer met die oog daarop om hulle weer in die natuur vry te laat. Nie almal herstel voldoende om vrygelaat word nie, en hulle bly inwoners van N/a’an ku sê.

Die rede vir hierdie “wilde” inwoners se nuwe verblyfreëlings is uiteenlopend. Soms is hul wees gelaat nadat hul ouers dood of beseer is. Onder die permanente inwoners tel Lucky, die driebeenluiperd, wat een van sy ledemate verloor het toe hy ’n meganiese valstrik (gin trap) afgetrap het. Vir Lucky was dit inderdaad ’n geluk dat sy pad met dié van die Van Vuurens gekruis het.

Marlice en Rudie fokus nie net op eksotiese wild nie – selfs onnutsige meerkaaie en bobbejane vind hier ’n veilige hawe. Benewens die dierehospitaal is daar ook navorsingsgeriewe by N/a’an ku sê wat van onskatbare waarde vir die voortbestaan van Namibië se ryk dierelewe is.

Kykers gaan vir 13 episodes hulself kan inleef in elke situasie waarin Marlice en Rudie beland – van die stryd om renosters te hervestig en olifante te red tot ’n gestoei om seekoeie van plek en plan te laat verander. Daar is spannende situasies en roerende tonele, maar die natuur sorg ook altyd vir ’n lekker skeutjie humor, en daar is dus gereeld ook ligter oomblikke.

Groen Namibië word vanaf 18 Januarie 2026 op kykNET (Dstv-kanaal 144) uitgesaai.



Overbergbewoners

kykNET nooi kykers uit op ’n boeiende reis deur een van Suid-Afrika se mees betowerende streke met Overbergbewoners – die vyfde seisoen van die Safta-benoemde Bewoners-dokureeks.

Die asemrowende Overberg is ’n kontrei wat tussen die Hottentots-Hollandberge, die Klein-Karoo en die Tuinroete lê. Bekend vir sy ryk biodiversiteit, golwende landerye en diepgewortelde kulturele erfenis, is die Overberg die tuiste van buitengewone mense wie se verhale die hart en veerkragtigheid van hierdie uiteenlopende gebied weerspieël.

Elke episode stel kykers bekend aan individue wie se lewens die ware gees van die Overberg vasvang – van bewaringswerkers en kunstenaars tot opvoeders, boere en entrepreneurs. Hul stories vier tradisie, vernuwende denke en die onbreekbare band tussen mens en grond.

In die Overberg, waar golwende heuwels deur die see omhels word, vervleg kulture soos die streek se fynbos en skep ’n tapisserie van lewe, blom en bloei wat sowel die natuur se skoonheid as die mens se gees beliggaam.

Overbergbewoners is meer as net ’n reisprogram – dis ’n verkenning van identiteit, erfenis en verbondenheid. Elke episode wys ’n ander hoek van die streek en die unieke mense wat dit vorm.

Kykers sal mense ontmoet soos:

  • Gavin Petersen – ’n pikkewynbewaarder by Stony Point Natuurreservaat in Bettysbaai wat bedreigde seevoëls beskerm.
  • Monique Cananie – ’n toegewyde jeugleier van Villiersdorp wat jongmense bemagtig deur onderwys en geleenthede.
  • Neil Sandilands – bekroonde akteur en inwoner van Onrus wat nie net in Suid-Afrika naam gemaak het nie, maar ook in Hollywood.
  • Lizaene Cornwall – medestigter van Panthera Africa Big Cat Sanctuary in Papiesvlei, wat op etiese wildbewaring toegespits is.
  • Berene Sauls – baanbrekerwynmaker van Tesselaarsdal wat haar droom in ’n bekroonde wyn-etiket omskep het.
  • André Cloete – innoverende vrugteboer naby Greyton wat tradisie met moderne landboupraktyke kombineer.
  • Oom T Newman en familie – ’n vissersgesin van Struisbaai wat steeds die veranderende see trotseer.

Oor 13 episodes vang Overbergbewoners die sjarmante kern van kleindorpse lewe vas – van die kunstenaarssiel van Napier tot die wilde skoonheid van Arniston, die historiese sendingstasie van Genadendal tot Hermanus, wat ’n sentrum vir ekotoerisme geword het.

Overbergbewoners begin Dinsdag 6 Januarie om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Ander dam se eende

Wat gebeur wanneer twee geliefde Suid-Afrikaanse sangers besluit om Amerika te verken sonder enige plan, program of padkaart? Ander dam se eende wys presies hoe dit lyk – onvoorspelbaar, eg, vol humor en propvol musiek.

Dié 13-episode-reeks volg Bobby van Jaarsveld en Brendan Peyper op ’n road trip deur Amerika in ’n RV – van die groot stadsgedruis van New York tot die country-ritmes van Nashville, die blues-siel van Memphis en die ongerepte stilte van die Grand Canyon. Elke bestemming bring nuwe mense, nuwe klanke en nuwe ontdekkings wat die twee kunstenaars diep raak.

Dit lyk na ’n eenvoudige reis, maar die reeks wys dat dit veel meer is. Bobby en Brendan kom voor uitdagings te staan wat hulle buite hul gemaksones dwing: onbekende paaie, kultuurbotsings, skerp draaie in klein dorpies en adrenaliengelaaide oomblikke, soos Bobby se 260-meter-SkyJump in Las Vegas.

Tussen die chaos en die kalmte word daar gesels, gesing, baklei, gedink, gelag – en soms net stilweg in die natuur gesit.

Uiteindelik is musiek die hartklop van die reeks. Kykers sien hoe die twee sangers in kroeë, op buiteverhoë en selfs op straathoeke optree. Hulle ontmoet plaaslike musikante, hoor stories vol nostalgie en ontdek hoe die Amerikaanse musiekgeskiedenis hul eie kreatiwiteit voed. Dit word ’n ontdekkingstog wat nie net hul musiek nie, maar ook hul menswees verdiep. Ander dam se eende is trots deur Capitec geborg.

Pretfeite van die avontuur

• Meer as 5 500 km is in die VSA afgelê.
• Hulle het by meer as agt verskillende venues gesing.
• Bobby het die 260-meter-SkyJump vanaf The STRAT se 108ste vloer aangedurf.
• Brendan se kepversameling het tot meer as 30 gegroei.
• Bobby se gunstelingkos: Chick-fil-A se slaai.
• Brendan se topkeuse: Taco Bell.

Ander dam se eende begin Maandag 12 Januarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Nuwe seisoene van gewilde reekse


Die nuwe jaar bring ’n opwindende TV-skedule propvol avontuur, inspirasie en onvergeetlike stories: van opwindende hengeluitdagings in Hier gaan ons alweer tot hartroerende gesprekke in Hannes aan huis; van die viering van lewe en wysheid in Met ’n huppel in die stap tot epiese kamp- en 4x4-avonture in Mal kamper.

Elke program neem die gehoor na unieke plekke, wys buitengewone ervarings en deel die passie van mense wat hierdie stories lewe gee, en voorsien week ná week onvergeetlike oomblikke, lag en inspirasie.



Hier gaan ons alweer 

Begin Maandag 5 Januarie om 17:30 

Hier gaan ons alweer keer terug met ’n vars seisoen wat propvol aksie en avontuur is. Die reeks neem kykers na unieke hengelwaters in Suid-Afrika en ons buurlande, waar ’n span tophengelaars op soek gaan na trofeegrootte-karpe, -babers, -kurpers, -swartbaars en selfs -soutwatervisse langs die Afrika-kuslyn.

Hengellegendes Schalk van Breda en Petri de Wet skop die seisoen af in Noordwes by een van die land se top-hengeloorde. Hulle trotseer wind en reën vanaf ’n aluminiumboot terwyl hulle groot karpe en later ook mooi babers en swartbaars teiken – alles met ’n kombinasie van papgooi, kunsaas en deursettingsvermoë.

Verder besoek die span vir die eerste keer ’n uiters gewilde oord in Limpopo wat die afgelope jaar groot opslae gemaak het met rekordvangste. Hierdie nuwe seisoen bied asemrowende plekke, indrukwekkende vis-aksie en die heerlike kameraadskap wat kykers elke jaar laat terugkeer.



Hannes aan huis

Begin Dinsdag 6 Januarie om 21:00 

Hierdie seisoen van Hannes aan Huis bring ’n vars, uiteenlopende lys gaste. Die reeks skop af met die diep menslikheid van sanger-liedjieskrywer Lize Beekman, voordat Hannes in ’n openhartige gesprek met akteur David Reese delf in sy uitdagings, sy genesing en die nuwe perspektief wat daaruit gegroei het. Van daar af neem Hannes die pad Bloemfontein toe om die geliefde kinderboekskrywer Jaco Jacobs by sy tuiste te besoek.

Die nuwe seisoen bied ook kragtige stories uit die sport-, kultuur- en mediawêreld. Rugbylegende Kobus Wiese en voormalige Springbok James Dalton deel hul ervarings op en van die veld af, terwyl Martelize Brink van RSG oor haar unieke lewens- en loopbaanreis gesels. Hannes kuier saam met prof. Michael le Cordeur oor onderwys en identiteit, en hy stap die kombuis binne saam met die ikoniese sjef Reuben Riffel.

Kulturele ikone soos Marlene le Roux, Antjie Krog en die sprankelende operaster Zanne Stapelberg bring diepte, inspirasie en kreatiewe flair na dié seisoen. Daarna reis Hannes na Caledon om met die mediapersoonlikheid Heindrich Wyngaard te gesels voordat die reeks afsluit met ’n glansryke besoek aan Anita Lloyd van Die Real Housewives van die Wynlande.

Die nuwe seisoen is propvol hart, humor, refleksie en onvergeetlike stories – die perfekte kuier vir ’n Dinsdagaand.



Met ’n huppel in die stap 

Begin Woensdag 7 Januarie 17:30 

Die nuwe seisoen van Met ’n huppel in die stap neem kykers weer op ’n inspirerende reis deur die lewe ná 50. Hierdie keer besoek die span verskeie gholflandgoedere om te ontdek watter leefstyl- en aftrede-opsies vir seniors beskikbaar is en loer in by ’n gewilde musiekkompetisie vir seniors wat onlangs by ATKV-Buffelspoort aangebied is.

Baie seniors is op hulpmiddels aangewese, soos mediese suurstof, inkontinensiedoeke, spesiale kussings en beddens. Die span gesels met verskaffers oor nuwe moontlikhede in die veld wat lewensgehalte kan verbeter. Kundiges verduidelik wat Kunsmatige Intelligensie is en hoe dit ’n rol in seniors se lewens kan speel. Deur warmte, humor en insig wys die program weer hoeveel groei, betekenis en nuwe drome nog op ’n gevorderde leeftyd moontlik is.



Mal kamper

Begin Saterdag 10 Januarie 18:30 

Die vyfde seisoen van Mal kamper neem avontuur na ’n heel nuwe vlak. Dewald verruil gewone kampterreine vir die mees afgeleë, onherbergsame gebiede denkbaar, gewapen met sy volledig toegeruste Suzuki Jimny en sleepwa. Hierdie seisoen is die grootste nóg: 26 plaaslike kampeerplekke, 13 oorsese avonture, 13 unieke 4x4-roetes en in totaal meer as 50 splinternuwe bestemmings. Of dit nou die Tankwa, Sederberge, Weskus, Namakwaland, Karoo, Suid-Kaap of Overberg is – elke plek bring sy eie uitdagings, natuurprag en onvergeetlike oomblikke.

In Mal kamper word daar met alles gekamp wat wiele het: die 3-deur- én 5-deur-Jimny, ’n boot, ’n vetfiets, ’n quadbike en selfs ’n elektriese scooter. Die 13 eendag-4x4-roetes wys hoe die Jimny elke hindernis baasraak voordat die perfekte kampplek vir die nag gevind word. Die adrenalien hou egter nie daar op nie. Dewald toer deur die Kafue Nasionale Park in Zambië, waar hy kamp tussen wilde diere, met die boot tussen seekoeie en krokodille vaar, die park uit die lug verken en selfs ’n nag sonder tente deurbring onder Afrika se sterrehemel.

Internasionaal wag nog avontuur. In Turkye verken hy die historiese stede Antalya, Perge en Side, vaar op die Koprulu-rivier met ’n vlot en sien die magiese landskappe van Cappadocia vanuit ’n mikrovliegtuig én ’n warm lugballon. Met ’n vleisie op die kole, opwinding in die lug en avontuur om elke draai van elke agterpad, bewys Mal kamper se nuwe seisoen dat die beste stories ontstaan wanneer jy die wildste paaie kies.



Chasing the Sun 2

2 Januarie


Met Eben Etzebeth wat ’n geelkaart gekry het, moet die Springbokke ’n totale aanslag van die Franse afweer. Nog moeiliker: Hulle moet ’n nasie laat glo dat hulle al die hindernisse in die pad kan oorkom.

9 Januarie

Bongi Mbonambi word daarvan beskuldig dat hy rassistiese taal op die veld gebruik het, en die Springbokke moet voorberei vir die eindstryd teen hulle aartsvyande: die All Blacks.

Chasing the Sun 2 – A Story for South Africa word uitgesaai terwyl Toks & Tjops ’n blaaskans vat. Die reeks word Vrydae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Sepies



Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Elton en Bonnie is dolverlief, maar hulle besef ook hulle tyd saam raak min. Jackie maak ’n skokkende onthulling aan Naomi. Die bron verbreek egter alle kontak, en Petro wil uitvind wie haar vir die wolwe wou gooi. ’n Motorongeluk lei tot ’n Binneland-pasiënt wat as ’n Jane Doe verklaar word, en Kiepersol kry drie nuwe inwoners. Joe voel meer as net vriendskap vir ’n vriendin, maar hy weet nie hoe om dit vir haar te sê nie.

Uys en Nicolette stamp koppe oor ’n pasiënt. Francie onthul die waarheid oor ’n allergiese reaksie, en Louis vind uit hoekom Mercia hom van Eikehof wou weghou. Petro raak keelvol vir haar vriendinne se rusies, en Bonnie kry slegte nuus. Jane Doe se identiteit word onthul, en Nicolette begin om met ander oë na Uys te kyk.



Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


Suidooster skop die nuwe jaar af met stormsterk drama wanneer die Jacobs-susters ’n gewaagde plan loods wat Nazeem dalk op sy knieë gaan dwing. Mike en Amanda kom kuier by Frankie in Ruiterbosch, maar ou wonde is nog rou en die tyd het dalk aangebreek om hul ware gevoelens in die gesig te staar.

Aiden en Liné beleef intense hartseer, en Liné neem dan besluite wat Aiden baie bekommerd maak. Intussen raak Tristan se jaloesie al hoe donkerder namate hy sy houvas op Angie versterk. Dit laat Kaashifa en Frankie rooi ligte sien. Bridgette word per ongeluk Ruiterbosch se nuutste radio-sensasie met haar lawwe alter ego, Cecily, terwyl Siya die politiek betree.

Susan ondersoek ’n boeiende hofsage wat ’n onrustige ekokryger behels, onbewus van die onverwagse nadraai wat voorlê. Met verdwynings, gevaarlike verhoudings en groeiende spanning in die gemeenskap, beloof Januarie onvergeetlike intrige in Ruiterbosch.



Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Die nuwe jaar breek aan met drama wat die Swartmarlyne nie kon voorsien nie. Gys se gesondheid wankel, maar dis nie al wat in gevaar is nie – sy onderneming, sy familie en sy hart word op die proef gestel terwyl Joanna al hoe meer beheer begin neem. Schalk stap die pad met ’n splinternuwe handelsmerk, en dit is duidelik dat sy stryd met Leandri nog lank nie verby is nie. Intussen maak Henry se sous dalk opslae, maar nie almal proe sukses nie.

Pam begin vrae vra, en haar vermoedens oor Joanna se betrokkenheid by Gys se toestand stuur golwe van wantroue deur Boskruin. Sanet verras almal met groot nuus. Felicity deel ’n onthulling wat Charity en Arno skok, en Lettie se drome neem ’n onverwagse draai. Sam se verskyning laat vonke by die Swartmarlyne spat, en Hanneli se hart vaar dalk in gevaarlike waters.

Wanneer die spanning kookpunt bereik, begin Joanna se slinkse planne uitrafel. Marco en Sam se botsing kan groot gevolge hê, en Schalk se manipulasie dreig om alles te verwoes.

kykNET&kie



Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Junior raak toenemend behep met die Wolf-trop, en sy lojaliteit aan Willem-Wolf veroorsaak groot spanning tussen hom, Louis en Hazel. Al Hazel se pogings om deur te dring tot haar seun misluk, en sy word selfs deur hom beledig. Wanneer Willem-Wolf hom aanmoedig om sy eie trop te begin, bevestig Junior sy onafhanklikheid met ’n groot gebaar – iets wat hom verder van sy familie vervreem.

Jessie probeer intussen weer ’n konneksie met Kevin vind, met Gloria wat desperaat probeer om hul verhouding te red. Jessie se onskuldige dade wek egter onmin in die dorp, en die spanning tussen haar en Kevin bou deur die maand op. Nadat hy in ’n ongeluk beseer word, smeek hy Jessie om vir hom die waarheid te vertel – en die geheim wat sy dra, begin haar verteer.

Manny en Tillie se verhouding bereik ’n kruispad. Tillie raak al hoe meer gefrustreerd met hom, terwyl Dirk vir Manny verras met ’n onverwagse versoek. Maar Manny kom eindelik tot sy sinne en verras Tillie met ’n groot gebaar.

Teen einde Januarie bereik Junior breekpunt, Jessie en Gloria berei voor vir ’n groot vertoning, en Hazel besluit om Willem-Wolf persoonlik te konfronteer.



Dikker as water

Maandae tot Donderdae om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


Doğa smeek Fatih om in hulle eie huis te gaan bly, maar hy weier. Metehan raak in ’n bakleiery betrokke by die skool en vertel vir Kıvılcım van sy ma se selfdoodpoging. Nilay agtervolg Nursema en sien haar by Umut en gaan vertel vir Pembe. Leman ontsnap uit die hospitaal en konfronteer vir Ömer en Kıvılcım voor albei families.

Kıvılcım en Ömer verklaar hulle liefde in Abdullah se huis. Niemand het daarvan geweet nie, en mense begin Kıvılcım onmiddellik verdink van dubbele standaarde. Almal sukkel om die skoknuus oor die verhouding tussen Kıvılcım en Ömer te verwerk. Nilay vertel vir Pembe dat Nursema vir haar jok en dat sy steeds skelmpies vir Umut ontmoet.

Ömer en Kıvılcım doen skadebeheer ná die vorige aand se gebeure, en Nursema word swaar gestraf. Umut en Nursema wil wegloop. Haar familie vind uit daarvan en reël dat sy dieselfde aand nog trou.



Koortjies met Elwira Standili

4 Januarie


Ons gesels oor online dating as ’n Christen. Verskeie paartjies kom vertel hoe hulle op verskillende platforms ontmoet het. Dan sing Alistair Noah die ateljee aan die brand.

11 Januarie

Hildegardt Whites en Talia Davis van Skemergrond kom vertel van hul hegte band en loopbane. Dan tref die Namibiese gospel-sensasie Bobby Richter die ateljee met sy sang. 

18 Januarie

Vanaand se tema is demensie. ’n Verteenwoordiger van DementiaSA en ’n deskundige in demensiesorg kom gee raad. Dan sorg die gospelgroep Undivided Purpose vir onverbeterlike musiek.

25 Januarie

Hirome Shigeaki, wenner van Die brug se tweede seisoen, en pastoor Leo Dos Santos kom vertel hoe om jou platform te gebruik om die goeie boodskap uit te dra. Dan beïndruk die 13-jarige Abi Sochop ons met sy sang.

Koortjies met Elwira Standili word Sondae om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.