Logo
My ma kook beter as joune
web uni tv guide

My Ma Kook Beter As Joune

145KookprogramPG13

Hoe om ‘n bord kos binne 20 minute aanmekaar te slaan

Nuus
16 Augustus 2023
Kry idees van hoe jy heerlike disse kan maak in 'n kort tydjie, veral as beurtkrag jou binnekort gaan tref.
bord kos

Hoe maak jy as jy iets wil kook onder 20 minute? Die kookprogram, My ma kook beter as joune, gee elke week wenke van hoe deelnemers vinnig 'n bord kos aanmekaar kan slaan. Die kykNET digitale span het hierdie wenke vir jou bymekaar gemaak.

Sjef Randall Maarman, die beoordelaar van die kookprogram, het al gesê hy glo dat jou bord ’n storie moet kan vertel. Dié sjef, wat al 15 jaar in die restaurant-industrie is, gee die volgende raad: “Jy benodig vier goed op jou bord: Dit is ’n protein, stysel, ‘n veggie, en ’n lekker sous.”

Hy het ook al genoem dat ‘n slaai of sousie op ‘n bord kos die dis lekker afrond.

Hier is wat jy moet onthou wanneer jy kos binne 20 minute wil kook:

  1. Beplan jou dis en besluit wat jou hoof-bestanddeel gaan wees, en kies dan wat jou resep gaan wees.
  2. Beweeg vinnig om al jou bestanddele uit die kas of spens te kry – plaas al die bestanddele voor jou.
  3. Span nog hande in om jou te help. Onthou, jou instruksies aan hulle moet spesifiek wees en dit is ook belangrik dat hulle goed luister na wat jy wil hê moet gedoen word.
  4. Dit wat die langste vat om te kook, moet eerste gaan. Dit is gewoonlik jou aartappels of rys – moenie dit vir laaste hou nie.
  5. Plaas 'n deksel op die pot wat rys of aartappels kook, dan sal dit vinniger kook. Kyk ook dat jy nie te veel water in die pot het nie. Te min water kan veroorsaak dat die rys vas brand.
  6. Waak daarteen om weg te loop van jou pot. Hierdie wenk het ons geleer in episode twee van Kokkedoor Vuur en Vlam (kyk dit op DStv Stream). Dit kan gevaarlik wees as jy ’n kans (of meer) neem om weg te wees van jou pot. Jy moet ’n ogie hou oor jou pot veral as jy potjiekos maak. Dit verhoed dat jou kombuis-helpers verward raak oor wat hulle moet doen, en dit verminder die kanse dat jou pot kan brand.
  7. Kyk watter groente of hoender of vleis jy kan opsny terwyl die uie braai of terwyl die rys kook.
  8. Sny hoender of vleis in kleiner stukkies. Selfs aartappels kan kleiner gesny word (veral as jy kapokaartappels maak), want dit gaan help dat die bestanddeel vinniger kan sag word.
  9. Laat die hoender pot 'n bietjie prut sodat jy ’n "crispy coating" op die hoender kan kry. 'n Lam tjop moet oor hoë hitte wees, want dit moet bros gemaak word om meer geur uit die tjop te kry.
  10. Laastens, as jy nie iets weet rondom ‘n bestanddeel nie, doen vooraf navorsing. Die tyd wat dit vat calamari te kook is verskillend van hoe lank dit vat om hoender of vleis te braai.

Maak seker jy skakel in vir My ma kook beter as joune op Saterdae om 19:30 op DStv-kanaal 145.  Jy kan ook die episodes wat jy misgeloop het op DStv Stream kyk.