Logo
Slim BB spoorloos
web uni tv guide

Spoorloos

144Drama13 VL

Hierdie sal ek altyd onthou – Spoorloos: Die eiland

Nuus
06 September 2022
Akteurs van Spoorloos: Die eiland praat oor hul hoogtepunte van die produksie.
Spoorloos: Die eiland akteurs

Die vierde seisoen van die immergewilde Spoorloos-reeks het op dramatiese wyse geëindig en kykers is dit eens: Hierdie was ’n wenner! Van die hoofspelers vertel meer oor hulle hoogtepunte en karakters.

Wat was vir jou die hoogtepunt van die produksie?

Bobby van Jaarsveld: Dis so moeilik want daar was so baie. Die hele Spoorloos was ’n hoogtepunt in my lewe. Ek wag al so lank vir so ’n rol. Dit was ’n droom wat waar geword het. Ek gaan almal so mis. Alles was regtig ’n hoogtepunt en kan nie een ding uitsonder nie.

Izel Bezuidenhout: Sjoe, ek sukkel regtig om net een hoogtepunt te kies, want dit was ‘n wonderlike ervaring om deel daarvan te wees. Maar ek dink om saam met ongelooflike regisseurs (Christo Davids en Francois Coetzee) te kon werk, was beslis een van my grootste hoogtepunte en ’n massiewe voorreg. Al die dinge wat ek by hulle geleer het, sal ek vir die res van my loopbaan saam met my dra. Hulle het ons elke dag op stel so veilig en gemaklik laat voel en hulle toewyding aan die kuns was inspirerend.

Armand Aucamp: Om in Richardsbaai te kon skiet. Dit verplaas ’n mens dadelik en fisies in die storie se wêreld.

Deon Coetzee: Elke departement wat oppie ball was en sodoende ons werk as akteurs maklik laat lyk het.

Marisa Drummond: Net om weer weer te kon speel ná ‘n lang periode agter die skerms weer was alreeds eerste prys. Maar as ek wel iets moet uitsonder, was dit om saam met Deon, Izel en Armand karakters te kon bespreek voor tonele. Ons het heeltyd vrae gevra en ondersoek ingestel en klein goedjies met die ander bespreek om opinie te toets. Ek het opregte waardering vir sulke deurdrenkte storievertelling; daai honger om die storie reg te vertel.

Hannes van Wyk: Die fantastiese mense op stel, die wonderlike tekste en die mooi plek waar ons verfilm het.

Tiaan Slabbert: Alles was vir my ’n hoogtepunt. Die hele span agter en voor die kameras was die kersie op die koek. Dit is my grootste rol nog op ’n reeks op kykNET en juis daaroor was álles ’n hoogtepunt.

Leché Joubert: Die mense saam met wie ek gewerk het. Dit was vet pret en ’n ongelooflike leerskool. Ook om deel van ’n goeie, opwindende reeks te wees wat so baie mense week na week terug gebring het.

Christo Davids: Beslis Ilse van Hemert se heerlike storie waarin ek die geleentheid kon kry om dinge te doen en skiet waaraan ek nooit gedink het nie.

Dononvan Pietersen: Toe ons in Richarsbaai gaan skiet het en hoe ons die eiland geskep het. Dit was amazing om te sien hoe dit soos ’n eiland lyk en dat jy dit nie maklik sou kon uitken of weet dat dit wel in Suid-Afrika is nie.

Watter reaksie het jy van kykers gekry?

Bobby van Jaarsveld: Ek is nie iemand wat kommentaar op blaaie gaan lees nie, maar van dit wat ek wel gelees het, was daar niks negatiewe kommentaar nie. Dit is die eerste keer in my lewe dat ek iets doen wat ek niks negatief gesien het nie. Dit was baie vreemd. (Lag.) Ek het oorweldigende kommentaar gekry van soveel mense. Ek het lanklaas soveel reaksie gehad op iets wat ek gedoen het. Mense love dit! Ek is so dankbaar daarvoor.

Izel Bezuidenhout: Ek was oorweldig met die goeie terugvoer. Hulle het met elke episode op die punt van hulle stoel gesit en wou nie gehad het die episodes moet eindig nie. Van hulle wou ook by my weet wat gaan gebeur omdat hulle te nuuskierig was en nie kon wag nie. Ek belowe ek het niks gesê nie.

Armand Aucamp: Dit was so lekker om die antagonis te kon speel; ’n rol wat mense nog nie my sien vertolk het nie. Gisteraand, byvoorbeeld, is ek by ’n roetine padblokkade afgetrek en die polisieman het my dadelik herken. Hy het my die hele tyd geterg as die bad guy en wou weet wat ek met Emma gemaak het.

Deon Coetzee: Net positief wat redelik ongehoord is.

Marisa Drummond: Wie, wat, waar, hoekom? Kykers se uitkyk op hoe die storie sal ontwikkel en hoe hulle dit probeer uitpluis. Daardie dringende soeke na informasie en reaksie as hulle niks vooraf kan kry nie. Perfekte resep vir ’n whodunnit!

Hannes van Wyk: Regtig sulke positiewe terugvoer en dat mense heeltemal van Hannes vergeet het.

Tiaan Slabbert: Die ondersteuning, terugvoer en reaksie van die kykers was ’n oorloop van komplimente. Ek het ook lekker gelag hoe almal elke week ’n nuwe verdagte gehad het.

Leché Joubert: O, die mense het sterk opinies oor Leandri gehad wat darem beteken het ek het my werk goed gedoen. Ek het ná elke episode boodskappe gekry en as ’n geheel het ek net komplimente oor die reeks gekry. Die mense was mal oor die geheime, aksie, storie en romanse.

Christo Davids: ’n Vriendin van my, Nicole Swart – sy is ’n Spoorloosfanatic – het gesê dis die eerste keer wat sy glad nie kon uitwerk wat volgende gebeur nie. Dan het ek ook ’n hele paar finansiële aanbiedinge op straat gekry van mense wat wou weet hoe dit eindig.

Donovan Pietersen: Die kykers was baie geskok en verbaas toe hulle uitvind my karakter wel lewe. Almal het gedink Darryl is dood, maar intussen was my karakter net Spoorloos.

Wat gaan jy die meeste van jou karakter mis?

Bobby van Jaarsveld: Ek glo en bid dat ek weer sulke gaan rolle kry. Stefan was ’n intense karakter en hy gaan deur soveel emosies en trauma. Ek dink ek gaan dit mis om al daardie emosies uit die karakter te kry. En dan die aksietonele! Die weghardloop van die polisie, die duik in die see en daardie dinge. Maar ja, ek gaan die hele Spoorloos die meeste van alles mis.

Izel Bezuidenhout: Ek het nog altyd probeer om nie te lank aan karakters vas te klou nie. Dit maak dat die post production blues bietjie minder is. Emma sal altyd ’n spesiale plekkie in my hart hê, veral haar braafheid en hoe sy van jong meisie na sterk vrou verander het. Sy is vir my ’n mooi herinnering van ’n baie spesiale projek. Maar wat ek wel gaan mis, is die mense saam met wie ek die geleentheid gehad het om mee te werk, almal voor én agter die kamera. Hulle is die mense wat my gehelp het om Emma lewendig te maak.

Armand Aucamp: Nie veel nie. Ha-ha. Ek dink daar is seker ’n mate van genot om die baddie te kan speel en daarmee weg te kom...

Deon Coetzee: Om nie te skeer en hare te sny nie en om te eet en drink wat ek wil.

Marisa Drummond: Daar is altyd iets van ’n karakter wat jy vir die res van jou lewe saam met jou sal dra, of dit nou ’n herinnering op stel of dalk net spreektaal is. Met Cobie was dit haar nuuskierigheid en behoefte om tog net deel te hê aan alles en dan haar afjak wanneer sy die pas gewys word of inligting geweier word.

Hannes van Wyk: Nee wat, nou kyk ons weer na die volgende karakter en hoop en bid vir die beste.

Tiaan Slabbert: Omdat ek dag en nag van Philip verskil, dink ek wel ek gaan die meeste sy smaak in klere mis. Hy was verskriklik smart en deftig.

Leché Joubert: Ek gaan definitief haar klerekas en elegansie mis.

Donovan Pietersen: Sy vasberadenheid. Ek wens ek kan soos my karakter in seker fasette van my lewe wees. As Darryl besluit het om iets te doen, hou hy daarby totdat hy sy doel bereik het.

Laaste vraag aan Christo Davids, skrywer en regisseur van Spoorloos: Is daar nog op pad?

Ons sal maar moet wag en sien.

Spoorloos: Die eiland se laaste episode word Dinsdag 6 September 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar.