Logo

Hans gaan GROOT – op die grootdoek

Nuus
21 Julie 2023
Vind meer uit oor dié splinternuwe film!
Hans steek die rubicon oor

Op 29 September gaan die ikoniese Hans steek die Rubicon oor sorg vir ’n triomfantelike, hartverwarmende terugkeer van Afrikaans na die groot skerm wanneer legendariese, geliefde akteurs – wat Pierre van Pletzen, Tobie Cronjé, June van Merch, Sandra Prinsloo en Nicola Hanekom insluit – hul buiging in dié komedie maak. Hans steek die Rubicon oor is die ideale geleentheid vir die hele gesin om weer Afrikaans in filmteaters te beleef.  

Gegrond op die trefferboek deur die oud-joernalis en bekende misdaadskrywer Rudie van Rensburg, het Hans reeds vir vier boeke gesorg (met ’n vyfde op pad) en is Hans steek die Rubicon oor nie net op RSG deur Tobie Cronjé voorgelees nie, maar ook ’n treffer-eenmanstuk – met Charlie Bougueonon wat verskeie rolle speel – geword.



Vroeg in 2022 is daar begin om Hans steek die Rubicon oor ook ’n fliek te maak met die talentvolle filmmakerpaar Corné en René van Rooyen aan stuur van sake. Hulle was ook vir trefferflieks soos Hollywood in my huis, Vaselinetjie en Toorbos verantwoordelik en het die gewilde TV-reeks Alles Malan geskep.

Die rolverdeling van Hans steek die Rubicon oor bederf fliekgangers met die room van Suid-Afrikaanse akteurs – Pierre van Pletzen as Hans, Tobie Cronjé as Vasie, June van Merch as Baby, Sandra Prinsloo as Liesbet, en Nicola Hanekom as Matrone. Die jong akteur Juan-Pierre Moller is Esmeraldus; Danny Ross is Elvis; Diaan Lawrenson is Karla, en Ivan Abrahams is Jan Doppies.

“My oupa Inus van Rooyen word vanjaar 102 jaar oud en dit is deur hom wat ek vir Hans ontmoet het,” vertel Corné, die regisseur van Hans steek die Rubicon oor. “Hy het elke dag slaafs na die voorlesing om RSG geluister en homself so met Hans se missie – om op sy eie voorwaardes oud te word – vereenselwig. Op ’n manier is die fliek ’n huldeblyk aan my oupa wat nog springlewendig en gesond is.”

Om op die rolverdeling te besluit was nie maklik nie. “Ek het geweet hierdie is my kans om met van die grootste legendes in die bedryf te werk; akteurs wat verantwoordelik was vir my droom om ’n filmmaker te word,” sê Corné. “My eerste oproep was na Tobie en ná ’n lang gesprek is daar besluit dat Pierre van Pletzen die perfekte vryheidsvegter sou wees. Tobie het gesê die karakter Vasie lê hom baie na aan die hart. Die res was vanselfsprekend, want daar is niemand anders vir Baby en Liesbet as June en Sandra nie.”

Om die rol van Matrone te vul was egter ’n uitdaging, erken Corné.

“Ek moes myself vra: Wie het die vermoë om onder die ‘oumensies’ se vel in te klim en hulle nie net fisies nie, maar ook emosioneel in te hok? Nicola Hanekom se briljante oudisie het die hare in my nek laat opstaan en sy was die perfekte keuse. Dan is daar iets vars en opwindends met die nuweling Juan-Pierre in die rol van Esmeraldus.”

Corné voeg entoesiasties by: “Ek glo Hans het die krag om ’n wye verskeidenheid mense – oud en jonk – bymekaar te bring met ’n besonderse gedeelde ervaring in ’n teater met gehalteklank en -beeld wat aan die storie, musiek en ikoniese akteurs se fantastiese komiese spel reg laat geskied. Daar is soveel druk in die samelewing om jonk te bly dat ek opgewonde is om die ander kant hiervan te wys. Hoe oud-word-op-eie-terme gevier kan word en baie opwindend kan wees. As jy Hans saam met drie generasies van jou familie gaan kyk, sal dit ’n familiefees in die kleine wees.”

Die draaiboek is deur René en Corné geskryf en die hoog aangeskrewe Charl-Johan Lingenfelder was vir die musiek verantwoordelik. Hans steek die Rubicon oor is in en om Kaapstad verfilm en word op 29 September op die teaterkringloop vrygestel. Dit is ook een van die speelfilms wat vanjaar gekeur is om by die kykNET Silwerskermfees, wat van 23 tot 26 Augustus in Kampsbaai plaasvind, te première.