Logo

fliekNET nou permanent deel van DStv

Nuus
04 Augustus 2020
fliekNET word vanaf 1 September 2020 permanent deel van DStv!
Web Header

Met flieks te kies en te keur, was die opwip-kanaal fliekNET die afgelope paar jaar ‘n welkome toevoeging tot DStv se vakansievermaak-program. Die goeie nuus is dat fliekNET van 1 September permanent deel van DStv gaan word. Ja, ‘n kanaal wat uitsluitlik net Afrikaanse rolprente, kortfilms en dokumentêre reekse oor die vermaakwêreld gaan uitsaai! 

Dinsdag 1 September skop op ‘n hoë noot af met Die Storie van Klara Viljee, die lokettreffer wat in 1992 vrygestel is en Anna-Mart van der Merwe in die hoofrol het. Dit is dan net gepas dat Moedertjie, een van die eerste Suid-Afrikaans vervaardigde rolprente met klank, ook op die eerste dag gewys word. Moedertjie, wat in 1931 uitgereik is, is gegrond op J.F.W. Grosskopf se toneelstuk In die Wagkamer en vertel die verhaal van ‘n groep jong Afrikaners wat stad toe trek om ‘n beter lewe te gaan soek. ‘n Paw Paw vir my Darling en verskeie kortfilms wat hul debuut op die Silwerskermfees gemaak het is oop op 1 September se skedule.

Van die ander speelfilms wat in September op lug is, is klassieke rolprente soos Debbie, Dr. Marius Hugo en Die Geheim van Nantes en gewilde treffers soos Vuil Wasgoed, Suurlemoen, Pad na jou Hart en Lien se Lankstaanskoene. Dan is daar verskeie Silwerskermfees-kortfilms, filmreekse soos Ons Stories en dokumentêre films oor legendes soos Mimi Coertse en Katinka Heyns.

fliekNET gaan in sy nuwe permanente gedaante egter veel meer bied as net voorheen vervaardigde speelfilms, kortfilms en dokumentêre reekse en –films. Die TV-speelfilms wat in 2018 op ‘n Sondagaand in die 20:00-tydgleuf uitgesaai is, was baie gewild en daar word beplan om nog meer van hierdie TV-speelfilms te vervaardig; ‘n verdere bewys van kykNET se belegging in die plaaslike film- en TV-bedryf.

fliekNET, sal van 1 September op DStv-kanaal 149 vir Premium-intekenare beskibaar wees. Kry die skedule hier: https://www.dstv.co.za/guide/ of volg kykNET se sosiale media platforms vir meer inligting.