Logo

fliekNET is terug in Desember as 'n opwipkanaal

Nuus
18 November 2022
Kykers kan uitsien na 'n verskeidenheid van Silwerskerm-kortfilms, storiefilms en dokumentêre reekse.
fliekNET 2022

Vakansietyd is om die draai en dis tyd vir ontspan, son, bene rek en somervakansievermaak. Oudergewoonte is fliekNET terug as opwipkanaal vir die feestyd.

fliekNET sal weer van 16 Desember 2022 tot 15 Januarie 2023 op lug wees as ’n welkome toevoeging tot DStv se vakansievermaakprogram. fliekNET sal op DStv-kanaal 149 beskikbaar wees.

Van die speelfilms wat op fliekNET te sien gaan wees, sluit onlangse treffers soos BarakatToorbosKaalgat Karel en Klein Karoo en Klein Karoo II in. 

Ook op die skedule is gewilde uurlange Storiefilms soos Magda LouwDie lang, langnaweek en Dija wil ’n baby hê met groot name soos Hannes van Wyk, Quanita Adams, Jacques Bessenger en Amalia Uys in die onderskeie rolverdelings. Klassieke flieks soos Boetie gaan border toeTant Ralie se losieshuisLokval in Venesië en Lord Oom Piet gaan ook vir genoeg vermaak sorg.

Silwerskerm-kortfilms maak ook deel van die program uit. Die Silwerskermfees het deur die jare gesorg vir die geboorte van vele filmmakers se loopbane en hierdie kortfilms wys nie net hoe geweldig talentvol ons filmmakers is nie, maar ook hoe die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse filmbedryf gegroei het.

Dokumentêre reekse soos ImpressarioOppi Kassie en Daar doer in die fliek is ’n moet vir liefhebbers van film, filmmakers en die geskiedenis van die vermaakwêreld, film- en TV-bedryf in Suid-Afrika.

fliekNET sal van 16 Desember 2022 tot 15 Januarie 2023 op DStv-kanaal 149 vir Premium-intekenare beskikbaar wees. Die uitsending sal daagliks vanaf 06:00 soggens tot 12:00 saans strek.

Kry die skedule hier: https://www.dstv.co.za/guide/ of volg kykNET se sosiale media platforms vir meer inligting.