Logo

Kragreus op sy knieë – Wat gaan by Eskom aan? - Onthul

Nuus
29 Maart 2023
Beurtkrag, korrupsie en korporatiewe verval binne Eskom is pal in die nuus en ons ligte brand 6 tot 8 ure van die dag nié. Dit is ysingwekkend om te dink dat die winter op pad is. Frustrasievlakke is hoog. ’n Gevoel van magteloosheid dreig om ons as samelewing lam te lê.
Onthul Ep 3

Sondag 2 April om 20:00 word Onthul: Kragreus op sy knieë op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dié nuusdokumentêr neem Eskom as maatskappy onder die loep en ondersoek die redes vir en wyse waarop dit verval het.

Al hierdie aspekte – korrupsie, beurtkrag, korporatiewe verval en dies meer – word bespreek vanuit die perspektief van hoe dit ons almal raak. Met hierdie Onthul-episode sal daar gepoog word om aan kykers te verduidelik wat presies aangaan, hoe die toekoms waarskynlik gaan lyk en hoekom sake staan soos dit tans die geval is.

Onthul: Kragreus op sy knieë vorm deel van ’n reeks ondersoekende nuusdokumentêre onder die vaandel Onthul, wat deur IdeaCandy, vervaardigers van die Showmax-treffers Devilsdorp en Stella Murders, gemaak word.

In Julie 2022 is die eerste nuusdokumentêr in die Onthul-reeks, Onthul: My pa het my nie verkrag nie, op kykNET uitgesaai. Dié uur lange dokumentêr het ondersoek hoe dit gebeur het dat Abrie Raaths skuldig bevind is op vier aanklagte van verkragting en twee van seksuele aanranding van sy dogter, Megan Raaths. In Februarie 2023 het die tweede nuusdokumentêr in die Onthul-reeks, Onthul: Skurk of Samaritaan?, gefokus op die omstrede sakeman Louis Liebenberg en sy duistere sakebedrywighede.

Toe Eskom se voormalige uitvoerende hoof, André de Ruyter, op 21 Februarie 2023 in ’n breedvoerige onderhoud op eTV verskeie skokkende uitlatings en onthullings gemaak het, het dit die land in rep en roer gehad. Suid-Afrikaners was skielik nie meer net uitgelewer aan die impak van beurtkrag nie, maar het bewus geword van die omvang van die probleme by dié reuse-semistaatsonderneming.

In Onthul: Kragreus op sy knieë word die huidige beurtkragkrisis se ontstaan en gevolge met verteenwoordigers van Solidariteit en Cosatu bespreek. Landsburgers wil weet hoe lank beurtkrag nog voort sal gaan, hoe hulle hulself daarteen kan staal en wat die oorsake daarvan is en wat moontlike oplossings mag wees. Hierdie vrae word beantwoord vanuit ’n praktiese maar ook polities-historiese perspektief deur onderhoude met, onder andere, Connie Mulder (Solidariteit), Willem Els (Instituut vir Sekerheidstudies) en Dirk Hermann (Solidariteit).

Daar word ook met Eskom-werknemers gepraat – van grondvlak tot die hoof van die Kendal-kragstasie en Eskom se hoof operasionele beampte, Jan Oberholzer, om ’n idee te kry van wat aan die binnekant van die maatskappy aangaan. Daar word vertel hoe dit voel om deur die publiek uitgekryt te word as onbekwaam, en wat dit verg van werknemers om hul mandaat na te kom onder byna onmoontlike omstandighede.

Teen die agtergrond van die 2024-verkiesing, asook die politieke landskap waarbinne grootskaalse korrupsie en sabotasie klaarblyklik hoogty vier, word joernaliste en politieke ontleders soos Kyle Cowan en Antoinette Slabbert geraadpleeg om sin te maak van die aantygings van kriminele aktiwiteit binne en rondom Eskom, asook die bewerings dat misdaadkartelle aan die stuur van sake in Mpumalanga is.

Want, op die ou end, is ons almal saam in hierdie bootjie – EskomSePush klingel klokslag op almal se fone – en almal van ons verdien om deur die feite bemagtig te word, maar ook om die menslike aspekte wat tot die krisis gelei het, te begryp. Dit is die enigste wyse waarop ons saam aan ’n oplossing kan begin werk.

*Onthul: Kragreus op sy knieë word op Sondag 2 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dít, asook die ander nuusdokumentêre in die Onthul-reeks (Onthul: My pa het my nie verkrag nie en Onthul: Skurk of Samaritaan?), sal op Catch Up beskikbaar wees.

Kyk die voorskou hier: