Logo
Slim BB spoorloos
web uni tv guide

Spoorloos

144Drama13 VL

“Ek het my agent se ore van sy kop geskree”

Nuus
02 Augustus 2022
Tiaan Slabbert het sy groot TV-deurbraak gemaak toe hy die rol van Phillip Naudé in Spoorloos: Die eiland gekry het. Ons leer hom van nader ken.
Spoorloos Artikel Tiaan Slabbert

Waar lê jou wortels en wanneer het jy besluit om ’n akteur te word?

Ek spot altyd en sê ek het in ’n tronk groot geword aangesien my pa vir korrektiewe dienste gewerk het. Ek het aan Hoërskool Garsfontein in Pretoria gematrikuleer en dit is ook waar my liefde vir toneelspel begin het. My dramajuffrou, Martie Cloete, het vir my gesê as ek nie drama gaan swot nie, gaan ek ’n groot fout maak. Dankie, juffrou!

Wat was die eerste produksie waarin jy gespeel het?

My heel eerste professionele produksie was die teaterstuk Le Tarineville, ’n komiese musiekblyspel deur Johann Smith.  

Spoorloos: Die eiland is jou eerste TV-dramareeks. Wat was jou reaksie toe jy gehoor het jy het die rol gekry?

Ek het uitge-freak en my agent (Marius Meyer by Thespians) se ore van sy kop geskree.

Jou karakter in Spoorloos: Die eiland, Phillip Naudé, is Stefan (Bobby van Jaarsveld) se beste vriend en vertroueling. Hoe het jy jou karakter geskep?

Die skrywers, Ilse van Hemert, Christo Davids en Francois Coetzee, was fantasties en die basis van my karakter was dus reeds geskep. Ek het wel ’n karakterbybel opgestel en toe verder aan Phillip gebou met wat die teks my gegee en toegelaat het en so verder in sy skoene geklim. Christo was as regisseur ook ’n gids van hoe hy Phillip gesien het en van daar het ek die karakter verder ingekleur.

Wat het jy die meeste van die verfilming geniet?

Alles! Daar is nie een ding wat ek nié geniet het nie. Richardsbaai was wel ’n gunsteling en het soos ’n vakansie gevoel.

Wat doen jy in jou vrye tyd? Enige verskuilde talente?

Ek dink nie ek het vrye tyd nie. Ek kan ook nie stil sit nie en as vryskut-akteur probeer ek elke dag die balle in die lug hou. Maar indien ek tyd het, chill ek en my ouma of geniet ek ’n braai by vriende. Verskuilde talente? Ek kan jodel, ek skryf graag en doen regie en ek is ’n muppeteer by Takalani Sesame.

Watter rol sal jy nog graag wil speel?

My droomrol is om ’n kanibaal te speel. Vreemd, ek weet. Iets soos Wrong Turn. Ek is ’n groot aanhanger van rillers.

Enige Spoorloos-geheime wat jy met ons kan deel?

Nie al die karakters kan swem nie ...

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Ek het saam met my beste vriendin en vennoot Lee Visagie ’n besighed gekoop met die naam What Walrus? wat opvoedkundige teater by kleurskole en laerskole doen. My eenmanvertoning Draf, Boela, draf maak in Oktober sy debuut by die Vrystaatkunstefees en dan is ek ook ’n lektor by PALI (Performing Arts Life Institute).  

Jy het al heelwat teater gedoen. Watter medium verkies jy: teater of TV?

Ek is meestal bekend vir my verhoogwerk en dit voel soos my huis, maar TV was my grootste droom. Ek kan nie kies nie. Droom gaan ek droom en in my “huis” sal ek altyd bly.

Skakel elke Dinsdag om 20:00 in op kykNET, kanaal 144 vir die nuutste episode van Spoorloos: Die eiland. Gesels ook saam op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerk, #Spoorloos te gebruik.