Logo
web uni tv guide

Ommighellie

145KultuurPG13

“Ek het geleer om te luister met my hart” – OmmiGhellie

Nuus
22 November 2023
Frazer Barry, aanbieder van “OmmiGhellie”, gesels oor lewenslesse en ook watter kulturele reise hy dink almal in Suid-Afrika moet neem.
tv host Frazer Barry

In die tweede seisoen van OmmiGhellie sien kykers hoe Frazer Barry vanaf die Weskus na die Noord-Kaap reis vir mense se stories: Stories oor erfenis en kulturele aktiwiteite word gedeel, en verskeie gemeenskapsleiers en helde wys hoe hulle ‘n verskil maak in hulle dorpie.

kykNET-Digitaal het aan Frazer se deur gaan klop en gehoor hoe hy sover sy reis op OmmiGhellie ervaar en vind uit wat sy doen en late agter-die-skerms is.

Eerstens, hoe begin jy jou dag?

Ek en my vrou Deniel, neem ons seun skool toe en gaan stap gewoonlik in een van die vele wandelpaaie of op een van die talle strande hier in Hangklip-Kleinmond omgewing. Die natuurskoon help ons om die energievlakke op te kry en ons put baie inspirasie uit die natuur.

Met Ommighellie het jy ver gereis. Wat is iets wat jy altyd by jou moet hê wanneer jy reis?

Buiten vir jou selfoon, wat ek hoop 'n gegewe is vir die meeste mense, sal ek sê water help baie. Die lang pad stol bietjie die bloedvloei omdat 'n mens nie baie beweeg nie, maar gee vir my genoeg water vir die langpad en ek sal oorleef.

Watter lewenslesse het Ommighellie vir jou tot dusver geleer?

Die grootste les wat ek by Ommighellie geleer het is ingesteldheid. Al die gaste op die program het hierdie kwaliteit weerspieël en dit is een van die mooiste kwaliteite om in aksie te sien.

Is daar enigiets wat jy op Ommighellie geleer het wat jy nie voorheen gedoen het nie?

Ek het geleer hoe om te luister met my ore, te luister met my hart en om te ontvang en te voel met my hele wese wanneer mense ons innooi om hul stories met ons te deel.

Watter dinge het al op ’n Ommighellie-reis gebeur wat kykers nie gesien het nie?

Ons was eendag op pad na iemand toe vir 'n storie. Daar aangekom, kom ons agter dat die storie ongelukkig nie sal kan gebeur nie omdat die storieverteller nie in 'n goeie spasie was nie.

Ons moes op ons voete dink en het in die strate begin rondloop om iemand met karakter in die hande te probeer kry sodat ons nie die produksie-dag kon verloor nie. Binne twee minute het ons produksie-bestuurder vir ons laat weet ons het iemand en daardie episode was 'n hoogtepunt toe dit uitgesaai was!

Jy het nou al soveel plekke in Suid-Afrika besoek en horde mense teëgekom. As jy mense moes aanbeveel om drie kulturele reise te doen (as toeriste), wat sou jou aanbeveling wees?

In die Karoo (Oudtshoorn), is Oom Poem Mooney, wat 'n skrywer en digter is, met die wonderlikste stories van sy Attakwa-stam se kom vandaan.

In die Noord-Kaap is daar 'n plekkie met die naam van Nourivier en Oom Koos Brandt is die man wat vir jou 'n deeglike ervaring van Nama-kultuur en gebruike van kruie kan gee.

By Riemvasmaak – ook in die Noord-Kaap – is daar vroue wat in samewerking met Sanparke, tradisionele klere maak van die hoogste vakmanskap en goedkoop ook nog is. Die vroue het die wonderlikste stories oor hul kom vandaan en die omgewing.

Maak seker jy bly ingeskakel vir die tweede seisoen van OmmiGhellie op Vrydae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145). Die episodes is ook beskikbaar op DStv Stream. Volg die geselskap aanlyn; gebruik die hutsmerk #OmmiGhellie.