Logo
Projek Dina S3 Slim BB
web uni tv guide

Projek Dina

144Drama16 VL

Dieselfde span, nuwe hoof - Projek Dina

Nuus
04 Mei 2023
Die dinamiese taakspan van Kaapstad is terug om misdade op te los en hierdie nuwe seisoen van Projek Dina hou 'n paar nuwe verrassings in.
Projek Dina

Ronel, Charlie en Lux is weer terug op hulle pos, maar die keer kort die span hulp van buite en Deon stel vir Zander, gespeel deur Laudo Liebenberg, aan as die hoof van die taakspan. Saam werk hulle onder druk om die vermiste persone te vind.

Hier is 'n bietjie meer oor die karakters en 'n terugblik na waar ons hulle in seisoen twee gelos het.

Zander Marais (Laudo Liebenberg)

Zander is ietwat van ’n legende by die SAPD. Deon het hom persoonlik gekies om oor te neem as die kaptein van die taakspan terwyl hy in die buiteland werk. Op die oog af lyk Zander deurmekaar en verlore, maar soos sy kollega’s hom leer ken, besef hulle hy let die kleinste dingetjie op en dat hulle met ’n intellektuele reus werk. Zander geniet die natuur, hy spandeer sy naweke op die verskillende berge in Kaapstad op soek na ’n ongewone plant, insekte of ’n rare voël.

Ronel Oosthuizen (Chanelle de Jager)

Vir Ronel is haar werk die belangrikste, sy vat geen nonsens van enige iemand af nie. Sy is vreesloos – sommige sal sê dat sy skrikwekkend is, maar sy gaan na plekke waar geen polisielede sal waag om te gaan nie, want sy moet die werk gedoen kry. Maar onder al daardie lae van haar, het sy ’n persoonlike vendetta – sy wou haar langverlore tweelingsuster, Dina, vind. In seisoen twee het sy eindelik vir Dina gevind en nou moet ons wag en sien hoe hulle oor die weg kom.  

Lux Dladla (Chumani Pan)

Alhoewel die taakspan onder geweldige druk en met sensitiewe sake werk, is Lux altyd gereed met ’n grappie of twee om die bui te verander. Maar hy het ook ’n ander kant aan hom – vir Lux moet geregtigheid altyd geskied, maak nie saak hoe jy dit laat gebeur nie. Lux is iemand wat die reëls breek, nie omdat hy arrogant is nie, maar omdat hy in geregtigheid eerder as die wet glo. Lux is soos ’n verkleurmannetjie – hy pas enigetyd, enige plek in. Hy weet presies watter knoppies om te druk om verdagtes te laat praat.

Charlie (Kay Smith)

Charlie ken die strate van die Kaap omdat sy as kind al vir haarself moes veg. Sy is nuuskierig, skerp, impulsief en speel ’n baie belangrike rol in die span. Charlie is ’n IT-ghoeroe – die span kom nog met ’n oplossing op en dan het Charlie reeds die adres, persoonlike inligting en die verdagtes opgespoor. Vir maande het sy en Lux hulle gevoelens vir mekaar weggesteek, maar in seisoen drie is hulle in ’n verhouding.

 

#ProjekDina begin op 9 Mei 2023 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die seisoen het Engelse onderskrifte en sal ook op Catch Up wees.

Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerk #ProjekDina te gebruik.