Logo
web uni tv guide

Die Groot Ontbyt

144AktualiteitPG

Die GROOT Ontb…eight! – Die GROOT Ontbyt

Nuus
10 Augustus 2023
Op die 10de Augustus, net duskant 2 000 episodes, vier Die GROOT Ontbyt-span hul agste verjaarsdag!
Die groot ontbyt article image

Op 10 Augustus 2015, vir die eerste keer in die geskiedenis van die wêreld ooit, is twee van die grootste mediums van media en kommunikasie op een platform, in een ateljee, met ‘n gelyktydige uitsending saamgevoeg – ‘n ontbytprogram op televisie (kykNET kanaal 144), EN ‘n ontbytprogram op radio, GROOTfm 90.5

Die GROOT Ontbyt, ‘n hibried-konsep tussen televisie en radio het almal baie opgewonde gemaak, veral die hoof uitvoerende-beampte van die Bloudruk-groep, Hardus Zevenster, wie die brein agter die beweging was. ‘Ja’, sê hy, ‘daar was heelwat doemprofete wat nie in die hibried geglo het nie’. Hierdie doemprofete het hierdie konsep ‘n skamele drie maande bestaansreg gegee. En, toe die span weer kyk, is dit ses jaar later. 

In 2020, het die tyd egter aangebreek om vorentoe te beweeg, en Die GROOT Ontbyt as ‘n volwaardige televisieprogram bekend te stel. Nie omdat dit nie werk nie, inteendeel. Dit is as gevolg van die sukses van Die GROOT Ontbyt, en ‘n groeiende kykertal wat gelei het tot die besluit om ook die klank van die radiostasie, GROOTfm 90.5, wat ‘n musiekstasie is, te eerbiedig. Dit was tyd om vir Die GROOT Ontbyt, wat ‘n geselsprogram propvol aktuele gesprekke en vermaak is, sy eie ateljee, tydsgleuf en produksiespan te gun. 

Die aanbiederspan, Johrné van Huyssteen, Hendri Myburgh, Elsa Esterhuizen en Kaap-verteenwoordiger, Rouchelle Liedemann, het ‘n deurslaggewende rol gespeel in die bestaan, betekenisvolheid en sukses van die gewilde oggendprogram op kykNET kanaal 144 – die kykNET-program wat nou nog die langste tydgleuf per dag op die kanaal geniet. Met die beginspan-aanbieders wat die einde van hul onderskeie seisoene betree het in 2021/2022, het ‘n nuwe aanbiederspan op duisende kykers se skerms verskyn.  Pierre Breytenbach, Jennifer Myburgh en Jenna-Leigh Bilong, is met groot gewildheid deur kykers wat tot in Namibië strek, ontvang. 

Op die 10de Augustus, net duskant 2 000 episodes, vier Die GROOT Ontbyt-span hul agste verjaarsdag! Inhoudsvervaardiger, Izaan Steenkamp, sê die span en produksie se sukses word toegeskryf aan ‘n span wie se eenheid, sinergie en dinamika onvergeleke is. “Hul liefde en passie vir die program is duidelik sigbaar, nie net tydens die beplanning van die volgende episode nie, maar tydens elke regstreekse uitsending, wat om 06:00 elke oggend in talle televisie-, sit- en slaapkamers verskyn.“ Die span is eens oor hul dankbaarheid om ook vanjaar genomineer te word in die kykNET Silwerskerm-toekennings vir die beste aanbieders-ensemble. 

As jy op soek is na groot en goeie geselskap, weeksdae tussen 06:00 en 08:00, is dit tyd dat jy inskakel by, en op, Die GROOT Ontbyt!