Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Die Augustuswind waai deur jou gunsteling-sepies dié maand

Nuus
04 Augustus 2022
Lees hier wat voorlê in jou gunsteling-sepies dié maand.
Article header image

Getroud met rugby:

Sake lyk beroerd vir Fafa en Maryke wanneer Fafa se half-suster, Minette, hulle met ’n grondeis dreig. Schalk en Jana raak uiteindelik verloof, en Lulu het haar hande vol met Anja en Regardt se eerste verjaarsdagpartytjies.

Die Stryders se volgende toernooi is om draai en Fafa en Wouter stamp koppe. Die 'dance off' tussen die bemarkingskantoordames en die pompoms sorg vir groot drama. Philip en ’n paar dames kan nie hulle hande van mekaar afhou nie, en dit lei tot katterigheid…

Die Stryders se toekoms word in gedrang gebring wanneer ’n ongemaklike foto op sosiale media gelek word. Petro se pa, Willie, word uit die tronk vrygelaat.

’n Vriend van Ryno kom kuier en Wouter slaan ’n sekere dame se voete onder haar uit.

Suidooster:

Niemand kan glo Augustus 2022 het so vinnig aan die voordeur kom klop nie. Soos die Augustuswind alles kom deurmekaar waai is die inwoners van Ruiterbosch se lewe ook deurmekaar, vol drama en alles behalwe rustig.

Die honeymoon is verby vir Wade en Angie en Wade moet aan 'n gevaarlike deur gaan klop om die pot aan die kook te hou.

Kaashifa word uitgedaag deur een van die grootste uitdagings van haar lewe en moet drastiese besluite maak om dié vir wie sy die liefste is te beskerm. Intussen maak Mrs. J planne vir oorsese reise, Bridgette verneder vir Tim en herinner hom wie die hoof van JPD is en uit die donkerste oomblikke kom die eerste tekens van lente wanneer die liefde net weereens wys... dit wen altyd.

Binnelanders:

Annelize Roux probeer agter die kap van die byl kom met At Koster se bedrywighede by Magalies Mining –  en of daar enigsins 'n verbintenis is tussen hom, Sharon Basson en Jacques. Maar sy gaan hulp benodig van Jeremy Gavins, met wie sy 'n baie skielike en vurige verhouding het. Intussen raak Tracy Smit onseker oor waar sy staan met Conrad Bester omdat dit vir haar voel asof hy baie meer tyd saam met Annelize spandeer op dié saak as op hulle verhouding. Naomi Koster het haar hande vol –  en nie net met die onthulling van haar en Louis se nuwe huis nie. Want Delia se pa, Andries wil 'n verhouding begin bou met sy kleindogter Amalia –  en pappa Louis is nie te vind daarvoor nie.

Danny beleef 'n persoonlike en professionele krisis wanneer 'n traumatiese gebeurtenis by die werk hom laat wonder of hy enigsins nog 'n paramedikus wil wees en Joline Hofmeyr en Zee Jordaan het uiteenlopende reaksies op die situasie én maniere om hom te oortuig oor watter pad vir hom die beste is vorentoe.

Chiron het vir Julia Voss in hul visier, maar is dit omdat hulle haar regtig as 'n uiters bekwame fisioterapeut sien wat hulle deel van hulle span wil maak, of is daar duistere motiewe by betrokke?

*Je-ani Swiegelaar vier tien jaar in die rol van Naomi Koster hierdie vrouemaand in Augustus. 

Arendsvlei:

Selfs al is Ingrid van Schalkwyk agter tralies, sorg sy steeds vir drama in sekere Arendsvleiers se verhoudings. Arme Langes moet ligloop, want hy weet nooit wanneer Debra ’n uitbarsting sal hê nie. Hy het dit gelukkig vroeg in die maand duidelik gemaak dat sy hom nie as ’n slaansak kan gebruik nie, maar kan ons haar blameer? 

Die Ingrid-saga maak ook ’n draai by die Cupido-familie. Noudat Gertie, Beatrice en Thys eindelik weet wie hul pa se dood veroorsaak het, deal hulle maar elkeen op hul eie manier daaroor. Beatrice probeer kophou sodat Ingrid eindelik haar dag kry, Gertie maak ’n onverwagse aankondiging wat die familie onder hul voete uitslaan en Thys is aggressief en haal sy gevoelens op almal uit. Later in die maand versag hy wel bietjie teenoor Bianca en gee haar ’n kans. Hopelik kan sy hom help deur al sy emosies werk.

Dis darem nie heeltemal doom en gloom in die Vlei nie! Anton en Nicolene weet hulle is bedoel vir mekaar en is volstoom aan die gang om hul troue te beplan. Hein is buite homself van vreugde en beplan sommer self sy seun se troue, terwyl Yvette bankvas agter hom staan. Maar daar is bietjie suurdruiwe wanneer Nicolene se pa, Lukas, onverwags opdaag om sin in sy dogter se kop te praat. Gaan Lukas kalmeer en die twee liefdesduifies toelaat om hul harte te volg?

Skakel weeksaande in om in te haal met jou gunsteling sepies op kykNET, kanaal 144 en kykNET&kie, kanaal 145 of stroom dié episodes later op die DStv-app of op Showmax.