Logo

Die 14de kykNET Fiëstas: Hier is die wenners

Nuus
07 Maart 2024
Die Fiëstas is by ’n glansryke toekenningsaand op 7 Maart in die V&A Waterfront in Kaapstad uitgedeel.
kykNET Fiëstas logo

Die kykNET Fiëstas vereer sedert 2011 jaarliks uitsonderlike prestasies in die uitvoerende kunste wat in die voorafgaande jaar by die ses vervaardigende Afrikaanse kunstefeeste te sien was – Innibos, KKNK, Momentum Beleggings Aardklop, Suidoosterfees, Vrystaat Kunstefees en die Toyota US Woordfees.

2023 was ’n droomjaar vir die kunste. Al hierdie feeste het ’n ryk verskeidenheid van gehaltewerk aangebied. Ook Klein Karoo Klassique, wat op klassieke musiek toegespits is, het nogmaals gewys dat daar geen einde aan talent en vindingrykheid in Suid-Afrika is nie.

Die KKNK-produksie Droomkraan-kronieke was een van die groot wenners van die aand en het met drie toekennings weggestap: Beste produksie, Beste regie en Beste ensemble. Mbuso Ndlovu se Echoes of Heritage en die Universiteit van Johannesburg se koor het twee Fiëstas ingepalm: Beste oorspronklike musiek en Beste musiekproduksie: Buitelug of podium. Dit was by die Vrystaat Kunstefees te sien.

Die verhoogveterane Frank Opperman en Lee-Ann van Rooi, beide vorige Fiësta-wenners, is as onderskeidelik beste akteur vir Reünie en beste aktrise vir The Woman Who Fed the Dogs aangewys. Eben Genis (Mirakel) en Antoinette Kellermann (Goed wat wag om te gebeur) is vir hulle ondersteunende spel vereer. Kerscha Titus het vir haar spel in Jantjies and the Pearls die Fiësta vir Beste opkomende kunstenaar gewen.

Tobie Cronjé en dr. Ismail Mahomed is as legendes vereer vir hulle lewensbydrae tot die kunste. Tobie se commendatio is deur die akteur, akademikus en skrywer Chris Vorster gelewer, en Ismail s’n deur die dramaturg Mike van Graan.

Die Fiëstas, wat vanjaar vir die veertiende keer aangebied is, is by ’n glansryke toekenningsaand op 7 Maart by The Lookout in die V&A Waterfront in Kaapstad uitgedeel. Die aanbieders was Vinette Ebrahim en Mandri Sutherland met Theodore Jantjies, David Kramer, Amanda Strydom, Cornelia Faasen, Wicus Pretorius, Reynard Slabbert en Laetitia Pople as gasaanbieders. Waldimar Pelser, M-Net direkteur van Premium-kanale, het namens kykNET die wenners en benoemdes gelukgewens en ook die prys vir Beste feesproduksie oorhandig. 

“Hierdie towenaars van toneelspel en musiek, en van visuele kuns wat ons mesmeraais, verstaan hoe om ons te boei met ’n blik op lewens en wêrelde verwyder van ons eie.

“Wanneer ons wegstap, is ons nie meer dieselfde mense nie. Ons is op ’n hoe klein ook al skaal getransformeer. Ons kyk bietjie anders na onsself en dalk selfs mekaar. Ons vergeet vir ’n ruk ons sorge en onthou wat regtig saak maak,” het Pelser in ’n kort toespraak gesê. 

Musiek is verskaf deur World Café se Piet de Beer, Stanislav Angelov en Schalk Joubert.

Soos met vorige Fiësta-toekennings het elkeen van die benoemdes, en daarmee al die wenners, asook die Fiëstas-beoordelaarspaneel, ’n kunswerk ontvang. Vanjaar se werke is deur die lino-meester Theo Paul Vorster gemaak.

Hier is die volledige lys van wenners:

Beste produksie

Droomkraan-kronieke (KKNK)

Beste akteur

Frank Opperman vir Reünie (Innibos)

Beste aktrise

Lee-Ann van Rooi vir The Woman Who Fed the Dogs (Suidoosterfees)

Beste manlike byspeler

Eben Genis vir Mirakel (KKNK)

Beste vroulike byspeler

Antoinette Kellermann vir Goed wat wag om te gebeur (Momentum Beleggings Aardklop)

Beste regie 

Neil Coppen, Craig Leo en Carlo Daniels vir Droomkraan-kronieke (KKNK)

Beste ensemble

Droomkraan-kronieke (KKNK)

Beste nuutgeskepte teks, verwerking of vertaling

Lynthia Julius en Veronique Jephtas vir My kroon se krank (KKNK)

Beste teaterontwerp

Wolf Britz vir Tuis, ek’s liefie (Toyota US Woordfees)

Beste oorspronklike musiek

Mbuso Ndlovu vir Echoes of Heritage (Vrystaat Kunstefees)

Beste prestasie in visuele kuns

Tafadzwa Tega vir Chisi Hachieri Musi Wacharimwa – A Seed Will Take Its Time to Grow (Momentum Belegging Aardklop)

Beste prestasie in klassieke musiek

Erik Dippenaar en Ralitza Macheva vir Variations (Klein Karoo Klassique)

Beste musiekgedrewe produksie: Buitelug of podium

Echoes of Heritage – Universiteit van Johannesburg-koor (Vrystaat Kunstefees)

Beste musiekgedrewe produksie: Teater

David Kramer – Ver in die wêreld Kittie (KKNK)

Beste kinder- of opvoedkundige teater

Braam en die engel (Momentum Beleggings Aardklop)

Beste opkomende kunstenaar

Kerscha Titus vir Jantjies and the Pearls (KKNK)