Logo
web uni tv guide

Die Byl

144Misdaad16 V

Byleveld se grootste sake – Die byl

Nuus
09 Maart 2024
Piet Byleveld, die inspirasie vir ‘Die byl’, is die mees beroemde speurder in die geskiedenis van Suid-Afrika en was verantwoordelik vir talle bekende sake wat die hele land geskok het. Ons kyk na vyf reuse-sake waarby dié legendariese speurder betrokke was.
Die byl

Die ‘shotgun gang’

In die 1970’s het ’n groep rowers chaos veroorsaak in Johannesburg deur verskeie banke en winkels te beroof. Dié span kriminele se gedrag tydens hierdie rooftogte was so woes dat ’n leier van die groep eenkeer ’n ander lid per ongeluk in die been geskiet het en hom self hospitaal toe gevat na die insident.

Alhoewel Piet Byleveld nog jonk was, het hy reeds gewys waartoe hy in staat is. Byleveld en Spyker van Wyk het eindeloos gewerk vir maande om die ‘kingpin’, Dougie Scheepers, vas te trek. Scheepers het die doodsvonnis gekry vir sy rol in die rooftogte.

Die Nasrec reeksmoordenaar

Lazarus Mazingane is skuldig gevind aan 16 moorde na ’n hofsaak wat 9 maande lank geduur het en word beskou as een van Suid-Afrika se mees beroemde reeksmoordenaars.

Vanaf 1995 het Mazingane versigtig sy slagoffers gekies en selfs dae saam met hulle spandeer voordat hy hulle verwurg het.

Mazingane het blykbaar nie alleen hierdie moorde gepleeg nie en was later vasgetrek met ’n metgesel vir ’n reeks kapings. Weens ’n administratiewe fout het Byleveld eers later uitgevind dat Mazingane arresteer is.

Wemmerpan / Hamer reeksmoordenaar

Cedric Maake is skuldig gevind aan 27 moorde en 122 ander klagtes. Maake is gearresteer vir moord, roof en verkragtings in die Wemmerpan-area. Byleveld het egter vermoed dat Maake ook ’n ander reeks moorde gepleeg het met ’n hamer. Die forensiese span het op Kersdag daardie jaar heel dag DNS getoets om te sien of Byleveld reg is.

Maake se moorde was besonders wreed en in terme van sy slagoffers was daar verskeie patrone wat na vore gekom het. Een van die vreemdste reeks moorde wat Byleveld ontdek het was gekoppel aan kleremakers wat Maake vermoor het. Maake het aan Byleveld erken dat hy ongelukkig was nadat hy ’n kledingstuk gevat het na ’n kleremaker en het daarna besluit om hom en ander mense in dié bedryf te teiken.

Johannesburg mynhoop reeksmoordenaar

Sipho Dube is aanvanklik gearresteer vir die moord van ’n minderjarige, maar Byleveld was ingeroep om verder ondersoek in te stel. Dit het hom nie lank gevat om Dube te koppel aan verskeie moorde en verkragtings wat plaasgevind het by mynhope buite Johannesburg en Ladysmith (in KwaZulu-Natal) nie.

Byleveld het ’n reputasie gehad vir sy gawe om mense te laat praat, maar hy het gesukkel om dié moordenaar te kry om die waarheid te praat. Dube het egter later erken dat hy skuldig is en kon vir Byleveld beskryf waar die moordtonele is. Dube het ook aan Byleveld genoem dat sy ma ’n toordokter is en dat hy liggaamsdele aan haar en ander sangomas verkoop het.

Die saak van Leigh Matthews

Leigh Matthews se moord was onder die kollig soos min ander in Suid-Afrika. In 2004 is die universiteitstudent ontvoer en haar ontvoerder het kort daarna gevra dat ’n losprys betaal moet word vir haar vryheid. Haar liggaam is egter ’n paar weke later gevind en gevolglik is Byleveld gevra om die moord te ondersoek.

Minder as twee maande later is Donovan Moodley vasgetrek en ’n jaar daarna is hy tronk toe gestuur vir die res van sy lewe. Byleveld het geglo dat Matthews haar moordenaar geken het en het besluit om te fokus op haar klasmaats. Hy het kort daarna uitgevind dat Moodley ouer is as die ander studente wat saam met Matthews studeer het en dat hy ook ’n vuurwapen besit. Byleveld het geweet hy het nou genoeg bewyse om Moodley te arresteer.

In die hof het Moodley erken dat hy eenvoudig nie geweet het wat om te doen nadat hy die geld ontvang het nie.

“I drove around for a while and thought about how to release her. I did not know what to do, I could see no other way out but to kill her.”

Skakel elke Dinsdag om 20:00 in vir #DieByl en stroom vorige seisoene van die reeks op Showmax!