Logo

Brendan Peyper: Rugby, studies moet pad maak vir musiek

Nuus
24 April 2015
Die 18-jarige Brendan Peyper se eerste enkelsnit het almal reeds aan’t gons.
Brendan

Die 18-jarige Brendan Peyper is die nuutste opkomende ster in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, en sy eerste enkelsnit het almal reeds aan’t gons.

Brendan, ’n boerseun van die Vrystaat wat in 2014 sy matriekjaar aan die Hoërskool Jim Fouche in Bloemfontein voltooi het, is ’n kranige rugbyspeler wat beplan het om sy studies in klankingenieurswese aan die Universiteit van die Vrystaat voort te sit.

Dis ’n liefde vir musiek wat egter die sterkste deur sy are pols en hom laat besluit het om sy tokse vir eers op te hang en die boeke eenkant toe te skuif. Sy droom om ’n professionele sanger te word is wat hy nou volstoom najaag.

Brendan het reeds van kleins af ’n besonderse slag met gehore gehad. Met ’n kitaar in die hand en eerlike, aansteeklike lirieke, laat hy jou verlang na mense wat jy nie ken nie.

Sy eerste enkelsnit, “Stop, wag, bly nog ’n bietjie”, is ’n unieke en energieke vermenging van pop- en rock-klanke, maar met ’n sterk akoestiese ondertoon – sonder enige twyfel bestem om ranglyse, kuiers en dansvloere regoor Suid-Afrika te verower!

“Dit was ’n groot besluit om my studies vir eers te staak, maar dit was ’n weldeurdagte een,” sê hy, “Musiek is my alles en dis my hartsbegeerte om mense se lewens daardeur aan te raak en te verander. Daar sal altyd nog tyd wees om ’n gewone ou te wees en die dinge te doen wat ek graag doen – soos om rugby en rekenaarspeletjies te speel en met pelle te kuier – maar, met genade van Bo, gaan ek voluit om iets groots hiervan te maak. Die terugvoer is sover fantasties en ek is baie opgewonde oor die vooruitsigte!”