Logo

Aangrypende dokumentêre program op kykNET te sien – 'n Bus uit Oekraïne

Nuus
06 Januarie 2023
Die humanitêre storie vertel van 52 Oekraïniese vlugtelinge, die impak van hul onderdrukking en hoe hulle 'n veilige vesting in Nederland gekry het.
Bus uit Oekraïne

Maandag 9 Januarie om 20:30 kan kykers vir die aangrypende dokumentêre program, 'n Bus uit Oekraïne, op kykNET (DStv-kanaal 144) inskakel. Die fokus is die merkwaardige verhaal van die Suid-Afrikaner, Johan Oldenburg, wat 52 Oekraïniese vlugtelinge gered en vervoer het na Nederland.

'n Bus uit Oekraïne is 'n storie oor 'n Suid-Afrikaanse man met die naam Johan Oldenburg wat homself gevestig het in Nederland en besluit het hy kan nie net stil sit en toekyk terwyl Oekraïne aangeval word en die burgers van die land hulp nodig het nie. Só huur hy 'n bus en sorg dat 52 vlugtelinge 'n veilige vesting in Nederland kry.

“Die dokumentêre program vervat die vlugtelinge se weergawes van hul eie lewe en die impak wat die oorlog gehad het. Dit is 'n humanitêre storie wat nie net handel oor die oorlog nie maar ook oor die impak van enige onderdrukking vertel uit 'n humanitêre oogpunt,” verduidelik Charlenè Brouwer, regisseur en uitvoerende vervaardiger van 'n Bus uit Oekraïne.

Hoekom is die dokumentêr gemaak?

Martelize Brink, joernalis en TV-persoonlikheid, het 'n radio-onderhoud met Johan Oldenburg gevoer en die vervaardigers van die dokumentêr was oortuig dat Suid-Afrikaners deur Johan se storie oor die oorlog in Oekraïne bewus gemaak kan word. Rapport-joernalis Hendrik Hancke was ook aanboord om sy blik oor die impak te vertel in die dokumentêr. Dis gemaak uit 'n humanitêre oogpunt om die "liefdesdaad" (soos beskryf deur Martelize) aan die wêreld te vertel om ander te inspireer om dieselfde te doen in hul eie vermoëns. 

“Die dokumentêr is in April 2022 verfilm en ses weke later was dit geredigeer en aangebied in Nederland aan die Oekraïniese ambassadeur en vlugtelinge wat hul storie gedeel het,” sê Charlenè. “Die film was aangepas vir kykNET sodat die Afrikaanse gehoor die vlugtelinge se storie in Afrikaans kon hoor wat soveel groter impak gehad het om die hartsverskeurende stories in mens se eie moedertaal te kon hoor.”

"Ek sien baie uit na die dag wat Suid-Afrikaners hierdie storie kan sien, Johan kan leer ken en die stories van die vrouens kan volg. Ons moet verstaan wat hulle deurgegaan het en wat hulle alles daar opgegee het,” meen Martelize.

"In elke globale nuusstorie is akuut persoonlike stories weggesteek. In die geval van oorlog, soos die oorlog wat Rusland teen Oekraïne verklaar het, hoor en sien ons bomme ontplof, maar ons luister en kyk soms verhale mis van menslikheid en dapperheid, soos die een van die gebore Suid-Afrikaner Johan Oldenburg. Hy het 'n groep Oekraïnse vlugtelinge gehelp om na Nederland te ontsnap, en in 'n Bus uit Oekraïne is dit ons voorreg om sy roerende en inspirerende storie te kan vertel," verduidelik Waldimar Pelser, M-Net Direkteur vir kykNET-kanale.

*'n Bus Uit Oekraïne word Maandag 9 Januarie 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.