In die vierde episode van Spoorloos: Losprys is daar vingers in alle rigtings gewys. Terwyl Karla se ouers, Willem en Lynette, en haar oupa, Brand probeer het om die geld bymekaar te skraap vir die losprys, is daar gekonkel om te kyk of hulle nie die skuldige in ’n lokval kan vastrek nie ...
Maar toe vang hulle net vir Monique Mouton, wat probeer het om haar hande op die losprys te kry. Sy het gereken dis vergelding vir haar man, Markus, wat op Brand se plaas doodgeskiet is.
Intussen het Rowan en Karla se verhouding op die lappe gekom nadat Anita dié kat uit die sak gelaat het vir Lynette, Willem en Robbie.
Robbie was woedend en het ’n groep van sy rugbyspeler-maats bymekaargekry om vir Rowan in te wag net buite die ingang van die plaas. Rowan het probeer vlug, maar het geval en sy kop teen ’n klip gestamp.
Lewe Rowan nog of is Robbie en sy maats aandadig aan sy dood?
Hier is vyf dinge wat jy van Blyde Smit, wat Monique Mouton vertolk, moet weet:
- Sy het op tienjarige ouderdom in ’n advertensie vir die lekkergoed Kinder Joy gespeel.
- Op 12 het sy haar debuut in ’n TV-reeks gemaak toe sy die rol van die jong Kate in Erfsondes vertolk het. Jana Kruger (Een keer om die son) was die volwasse Kate.
- Blyde het ’n meestersgraad in drama en het tussen 2019 en 2021 die rol van Gabby in 7de Laan gespeel. Haar volgende deurbraak was haar rol as Luca in die reeks Troukoors, wat op Showmax en kykNET was.
- Blyde is die mede-eienaar van Sowaar Studios in Pretoria, waar sy haar talent as fotograaf en videograaf uitleef.
- Onder Blyde se ander talente tel sang, ukelele-speel, paaldans, geweer hantering en waaghalstoertjies, perdry en tennis.
Skakel in vir die vyfde episode in dié naelbyt-seisoen van Spoorloos of haal vorige episodes in op DStv Stream. Jy kan ook saam gesels op Facebook, X, Instagram en TikTok deur die #SpoorloosLosprys te gebruik.