Logo
web uni tv guide

In Gesprek

144AktueelPG13

100 nie uit nie vir Lourensa

Nuus
05 Februarie 2024
Lourensa Eckard, aanbieder van “In gesprek met Lourensa Eckard”, behaal vanaand ’n sonderlinge mylpaal wanneer sy die program vir die 100ste keer aanbied.
In gesprek met Lourensa Eckhard

Lourensa, wat aan die Universiteite van Pretoria en Stellenbosch studeer het en tans besig is met ’n meestersgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand, het haar loopbaan by Beeld begin. Sy het in haar loopbaan verskeie groot stories gedek onder meer die vloede in Malawi in 2015 en die presidensiële verkiesing in 2018 in Zimbabwe. Sy is sedert Mei 2023 ook deel van die Carte Blanche-span en skryf nog gereeld indiepte-artikels vir Rapport en Beeld.

Lourensa, as jy vyf onderhoude moet uitsonder, wat sal dit wees en hoekom?

Dit is altyd opwindend, dog frustrerend, om met politici te gesels. Gayton Mckenzie is ’n uitsondering, want hy antwoord die vraag en hy praat reguit. Ek sal ook vir Leopoldo López, ’n opposisie-politikus van Venezuela, uitsonder. Dan is daar onderhoude met mense soos Thuli Madonsela, Naomi Campbell, Julius Malema, Imtiaz Sooliman en die Zambiese president Hakainde Hichilema wat op verskeie wyses hoogtepunte was. Wat egter die meeste vir my uitstaan, is onderhoude met gewone mense wat ’n verskil maak in hul gemeenskappe.

Wat maak aktualiteit so opwindend?

Aktualiteit is opwindend want dit is onvoorspelbaar. Daar is natuurlik neigings en tendense in die nuus, maar om in ’n nuuskamer of regstreeks op die lug te wees terwyl groot wêreldgebeure plaasvind, is pure adrenalien. 

Vertel ons meer van jou samewerking met Carte Blanche.

Ek is verlede jaar genader om as gasaanbieder by Carte Blanche aan te sluit, en dit het aanvanklik gevoel soos ’n droom. As kind het ek dié ikoniese program gekyk en my bewondering vir Ruda Landman en die wyse waarop sy onderhoude voer, ken geen perke nie. Wat veral lekker is, is dat ek van my werk vir Carte Blanche in Afrikaans kan doen. 

Was daar ’n oomblik of drie in jou loopbaan tot dusver wat jou onkant gevang het?

Dit is maar altyd interessant as ’n gas op regstreekse televisie in die ateljee ’n hoesaanval kry. Dan maak ek seker ek vra ’n baie lang vraag sodat die persoon ’n slukkie water kan vat. Daar was ook ’n geval waar ek met my hande beduie het terwyl ek ’n vraag gevra het en toe vlieg die pen uit my hand en val met ’n harde knal anderkant die kameras. Ek is ook al onkant gevang deur gaste wat emosioneel raak gedurende onderhoude en dan besef ek net opnuut ons is almal net mense.

Wie is die vyf mense met wie jy graag ’n onderhoud sal wil voer en hoekom?

Jacob Zuma, net om te hoor of hy werklik glo dat hy nie ’n voet verkeerd gesit het gedurende sy presidentstermyn nie. Donald Trump, net vir die vermaaklikheid daarvan. Ek sal graag met Elon Musk wil praat oor waar hy dink tegnologie die wêreld heen gaan neem. Giorgia Meloni, die premier van Italië, en Narendra Modi, die premier van Indië, sal ook vir interessante onderhoude sorg.

Kyk Lourensa Eckard se 100ste In Gesprek-episode vanaand om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).