Logo
Die brug S1 Slim BB

Hier speel al die drama af – Die brug

Nuus
01 September 2023
Waaroor gaan die reeks? In kort: Twaalf vreemdelinge moet saam ’n brug bou om by ’n eiland – en ’n skat van R1 miljoen – uit te kom.
Die brug article image

Suid-Afrika is ’n wonderskone land met van die indrukwekkendste natuurtonele op aarde. Dit het die vervaardigers van die avontuur-realiteitsreeks egter drie maande geneem om die ideale plek te vind om Die Brug te verfilm – die gewilde internasionale reeks waarvan die plaaslike weergawe in Oktober sy buiging op kykNET maak.

Waaroor gaan die reeks? In kort: Twaalf vreemdelinge moet saam ’n brug bou om by ’n eiland – en ’n skat van R1 miljoen – uit te kom.

“Dit was ’n reuse-spanpoging om die regte plek op te spoor,” sê Freddy Louw, kreatiewe regisseur en vervaardiger van Red Pepper Pictures, die produksiemaatskappy wat vir Die Brug verantwoordelik is. “Die uitvoerende vervaardiger, Cecil Barry, het in sy kar gespring en elke moontlike dam en reservoir in Limpopo en Mpumalanga besoek terwyl die res van die span Google Earth gebruik het om die land te fynkam. Op die ou end het ons, met behulp van Google Earth en inwoners van Swellendam, die Buffeljagsdam ontdek en ná ons dit drie keer besoek het, besluit dit is die perfekte plek om Die Brug te verfilm.”

Die Buffeljagsdam word gevoed deur twee riviere – die Buffeljags- en die Tradouwrivier. Dit lê net oos van Suurbraak, ’n klein nedersetting in die Overberg, 19 km oos van Swellendam en aan die voete van die Langeberge.

Volgens die formaat van die program, was daar spesifieke voorwaardes vir waar Die Brug verfilm moet word.

“Dit moet ’n dam of meer hê wat omring is deur ongetemde wildernis sodat dit soos ’n ander wêreld vir die kyker voel,” sê Freddy. “Die ideale plek is ’n omgewing waar daar nog geen moderne tegnologie is nie en waar daar geen stedelike strukture te sien is nie, maar waar daar tog volle logistieke- en noodtoegang tot die filmspan en die deelnemers is.”

Die Buffeljagsdam was die perfekte keuse omdat dit aan al hierdie vereistes voldoen.

“Die Langeberge gee die ideale dramatiese agtergrond en selfs die posisie van die son en die maan was ’n deurslaggewende faktor,” sê Freddy. “Die posisie van die Houthuis, waar die deelnemers woon en werk, is gekies omdat ons sulke asemrowende sonopkoms- en sonsondergangskote kon kry. Die ligging van Umshanti, ’n lodge wat net twee minute per boot weg van die deelnemers was, en die klimaat van die streek – met goeie én stormagtige weer – het ook bygedra tot die finale besluit.”

Die plaaslike Afrikaanse weergawe van Die Brug is die elfde lisensiëring van vervaardigingsregte wat vir hierdie internasionaal gewilde realiteitsprogram toegestaan is. Dit is ’n oorspronlike Banijay-konsep en is reeds in lande soos Australië, Brasilië en die VK uitgesaai.

Die eerste episode van Die Brug, wat uit elf episodes bestaan, word op Donderdag 26 Oktober om 20:00 vanjaar op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Stream gestroom kan word en sal op Catch Up beskikbaar wees. Besoek die kykNET-webwerf vir eksklusiewe programinhoud en sluit aan by die gesprek op Twitter, Instagram, TikTok en Facebook deur #DieBrug te gebruik.