Logo

Vir Altyd stel SA rekord op

Nuus
11 Maart 2016
Vir Altyd vaar beter by die loket as treffers soos Pad na jou hart en Liefling – met ’n inkomste van R13,4 miljoen!
Vir Altyd Donnalee

Donnalee Roberts vertolk een van die hoofrolle.


Die Suid-Afrikaanse romantiese avontuurfliek Vir Altyd het die nommereen-posisie in verdienste by die plaaslike loket vir Afrikaans verbygesteek.

Dié fliek, uit dieselfde stal as die treffer Pad na jou hart, het R13,4 miljoen na slegs vier weke op die kringloop verdien.

Pieter Geldenhuys van Ster-Kinekor Entertainment sê: “Ons is verheug met die sukses. Ons wens die vervaardigers en almal betrokke baie geluk met die prestasie. Die rolprent word nog landswyd vertoon.”

Ivan Botha en Donnalee Roberts, skrywers, mede-vervaardigers en hoofspelers van die fliek, is ewe opgewonde: “Dit is vir ons so ’n groot eer en voorreg om hierdie mylpaal te kon bereik. Ons is onbeskryflik dankbaar vir elke persoon wat Vir Altyd gaan kyk het – die terugvoer is oorweldigend en ons waardeer dit oneindig baie!”

Hulle hoop dat dit momentum sal bou vir al die plaaslike flieks wat vanjaar uitgereik gaan word.

Klik hier vir die video van die Johannesburgse première van Vir Altyd.

Danie Bester, mede-vervaardiger sê: “Rekords is daar om gebreek te word. Vir my eer dit die prestasie van jou voorgangers of tydgenote en tweedens dien dit as aansporing vir jouself en die span saam met wie jy werk om jou bes en beter te doen. Wat ’n inspirasie om Liefling vir so lank te kon volg as ’n baken; wat ’n opwindende vooreg om ’n nuwe mylpaal te kan stel.”

Vir Altyd vertel die verhaal van Hugo (Ivan Botha) en Nina (Donnalee Roberts), wat saam as beste vriende grootword (ten spyte van haar ouers se teësinnigheid), maar wat kontak verloor weens ’n tragiese gebeurtenis wat hul lewens vir altyd verander.

Lees meer oor Vir Altyd hier.

Vir Altyd is deur 17FilmStreetMedia en The Film Factory vervaardig en is uitgereik deur Ster-Kinekor Entertainment.