Logo
web uni tv guide

Stralend

144LewensstylPG13

"Stralend": Ontmoet die deelnemers wat weer hul vonkel wil vind

Nuus
20 Maart 2024
Vir Angelique Gerber, die aanbieder van die program, was die "Stralend"-reis, tesame met haar span en die finaliste "'n ervaring van ongelooflike groei". Lees meer.
Stralend aanbieders

Die deelnemers is gekies, verfilming is aan die gang, en dis amper tyd vir Stralend om te begin. Vanaf 1 April 2024 om 21:30 sal die gewilde TV-persoonlikheid Angelique Gerber en haar span die lewens van 12 vrouens ingrypend verander. 

Al die deelnemers kry die geleentheid om ’n nuwe en beter weergawe van hulself te word en ook hul voorkoms radikaal te verander. Die vroue word uitgedaag om hul grense te verskuif en ’n dieper begrip van hul eie potensiaal te ontwikkel.

Deur die loop van die reeks sal hierdie dapper dames ’n ongelooflike transformasie ondergaan en die strydvaardige, selfversekerde en pragtige vroue word wat hulle nog altyd binne was. 

“Die Stralend-reis met my span en ons finaliste was tot dusver vir my ’n ervaring van ongelooflike groei – sowel vir diegene wat deelneem aan die program, as vir onsself. Ek glo dat ons almal iets van onsself geleer het. Ek hoop ook die kykers sal iets kan leer oor vergifnis, liefde en selfliefde en om ook ’n soortgelyke stralende weergawe van hulself te sien,” sê Angelique.

Ontmoet die 12 vrouens wat die nuwe jaar met groter selfvertroue en ’n vars voorkoms wil aanpak.

Gizelle Randell, 31

Gizelle werk by ’n motorhandelaar as ’n administriewe klerk. “Nadat ek uit ’n verhouding van mishandeling gestap het, het ek besef ek benodig hulp met my selfvertroue en om my eie stralende lig weer te ontdek.”

Chrisandy Ruiters, 39

Chrisandy is ’n majoor in die Suid-Afrikaanse weermag. “As ’n majoor wat tans in ’n langafstandhuwelik is, moet ek tyd maak vir selfontdekking en om my vroulikheid te omhels.”

Kristen Viljoen, 27

Kristen is ’n regsklerk. “Ek is gewoond daaraan om oormatig van myself te gee. Nou is dit tyd vir genesing, vergifnis en om my stralende self te omarm, ongeag van vorige verwerping in my lewe.”

Marizka Coetzer, 34 

Marizka is ’n joernalis en skrywer. “Beter bekend as die joernalis in Devilsdorp wat op ’n moordenaar verlief geraak het, maar daar skuil veel meer as dit agter die mure wat ek vir myself moes opbou.”

Michelle Lees, 47

Michelle is ’n spanleier by ’n mediese fonds. “As ’n ma van ’n gay seun moes ek my eie onvoorwaardelike liefde vir hom uitleef. Maar as ouer moet ek ook my eie letsels kan aanvaar.”

Alicia Strydom, 36

Alicia is ’n restauranteienaar. “As iemand wat as kind met trauma moes worstel, moet ek nou myself aanvaar, weer liefhê en besef dat ek altyd genoeg is.”

Cindy Bruintjies, 46 

Cindy is ’n administratiewe klerk. “Ek wys nie sommer my emosies nie. Ek is so gewoond om ander se gevoelens bo my eie te plaas, maar nou is dit my tyd om te straal.”

Antoinette Wink, 50

Antoinette is ’n rekenmeester. “Ná my egskeiding het ek myself verloor, en ek soek ’n nuwe rede om te glimlag en vreugde na ander te bring.”

Magda Jonker, 60

Magda is ’n sakevrou. “Ná my mislukte huwelik voel ek asof ek gefaal het in my lewe. My kinders is weg, ek is alleen en het vergeet hoe om te straal.”

Sjane Barnard, 40

Sjane is ’n eiendomswaardeerder. “Ek baklei met innerlike struwelinge om myself te aanvaar. Nou as ’n ma, streef ek daarna om my dogter aanvaarding en ’n positiewe selfbeeld aan te leer.”

Alicia Steyn, 42

Alicia is ’n kliënte-skakelbeampte by JSE Investor Services. “Ek is ’n werkende ma wat probeer om werk, huis en familie in balans te hou. Ek het nie tyd vir selfsorg nie en oordink selfs die kleinste oplossings om myself te help.”

Yolande de Klerk, 47

Yolande is besig om te studeer om ’n egskeidingsmediator te wees. “Ek moes ná ’n tragiese ongeluk weer van voor af leer om te loop. Nou moet ek leer om die self wat ek jare terug vergeet het, weer te herontdek.” 

Die stilis van die reeks, Fafa, sê die reis tot dusver was vir hom ’n hartroerende en pragtige ervaring.

“Ons sien werklik sterker en meer selfversekerde vroue ná afloop van hul episodes uit ons ateljee vertrek. Ons is onbeskryflik dankbaar vir hierdie geleentheid om op ons eie manier ’n verskil te maak.”

Stralend is vanaf 1 April 2024 om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.