Logo
Showpage Billboard 1600x800
web uni tv guide

Hannes Aan Huis

144LeefstylPG13 L

Splinternuwe oorgeklankte Turkse telenovela vir kykNET&kie – Verbode Liefde

News
26 Junie 2023
Gaan die beeldskone Zümrüt opeindig met haar beminde? Kyk "Verbode liefde" vanaf 5 Julie op DStv-kanaal 145 en vind uit!
Verbode liefde

Die oorgeklankte Turkse telenovelas op kykNET&kie het die afgelope tyd behoorlik harte gesteel en met Verbode liefde, wat op 5 Julie om 20:00 begin, gaan dit ook nie anders wees nie. Verbode liefde is die nuwe reeks in die plek van Jy is my seun wat tot ’n einde kom.

Waaroor gaan dit? 

Die beeldskone Zümrüt is verantwoordelik vir die sorg van haar sieklike pa, haar ma en twee susters en werk daarom vir die magtige Demirkan-familie.

Adil Demirkan is verlief op Zümrüt, maar sy sien hom as ’n ouer broer. Intussen is Zümrüt in ’n geheime verhouding met Adil se neef, Serhat. Zümrüt en Serhat beplan om te trou wanneer hy klaar is met sy militêre diensplig, maar dan vind sy uit hy dood is terwyl hy diens gedoen het.

Onder druk van haar ma, stem Zümrüt in om met die skatryk Adil te trou. Maar terwyl hulle trou aan mekaar beloof, daag Serhat op en in nog ’n kinkel word Adil die huweliksnag deur ’n onbekende aanvaller vermoor. Zümrüt vind intussen uit dat die oudste broer, Abbas, haar vir homself wil hê en dit maak dinge in die Demirkan-huishouding nog net meer gekompliseerd. Gaan Zümrüt en Serhat deur al hierdie troebel waters gaan beweeg en uiteindelik liefde en vrede vind?

Wie is wie? 

Ceren Yilmaz is te sien as Zümrüt Kuloglu. Die radio-aanbieder Sue Pyler is die stemkunstenaar wat vir Zümrüt se stem verantwoordelik is.

Ceren is op 3 Junie 1990 in Samsun, Turkye gebore. Sy het verhoogontwerp aan die Kocaeli Universiteit se kunsdepartement studeer en haar akteursdebuut in 2013 in Running Away from Rain gemaak. Volg Ceren hier op Instagram

Alp Navruz is Serhat Demirkan. Die akteur en stemkunstenaar Rowlen von Gericke is Serhat se stem in Verbode liefde.

Alp is op 15 Januarie 1990 in Instanbul, Turkye gebore. Hy is ’n akteur en model en het letterkunde aan die Yildiz Tegniese Universiteit studeer. Hy het reeds op skool aan verhoogproduksies deelgeneem en het in 2015 sy debuut in die riller Ceberrut gemaak. Hy het meer as vyf miljoen volgelinge op Instragram. Volg hom hier

Selim Bayraktar is Abbas Demirkan. Charl van Heyningen is vir sy stem verantwoordelik.

Selim is op 17 Junie 1975 in Kirkuk, Irak gebore. Aan die einde van die oorlog tussen Irak en Iran het sy ouers na Turkye gevlug waar Selim later aan die Hacettepe Universiteit studeer het. Ná universiteit het hy by die Turkse Staatsteater begin werk en ook in TV en rolprente. Hy het internasionale erkenning gekry vir sy rol in die TV-reeks Rise of the Empires: Ottoman. Selim is vyf tale magtig onder meer Turks, Engels en Arabies. Volg hom hier op Instagram

Umut Karadag is Adil Demirkan. David Johnson is vir Adil se stem verantwoordelik.

Umut is op 6 Januarie 1971 in Ankara, Turkye gebore. Hy het ’n graad in tale, geskiedenis en geografie asook ’n dramagraad aan die Universiteit van Ankara behaal. Hy is ’n teaterregisseur en -akteur en doen werk saam met die Ankara Staatsteater. Volg hom hier op Instagram

Ander bekende Suid-Afrikaners wat in die reeks te hoor is, is Karin Retief as Azimet Demirkan, Marijke Coetzer as Doné Kilic, Natasja Jacobs as Fitnat Gulseven, Danielle Retief as Meliha Kuloglu, Sanli Jooste as Nevcihan Demirkan, André Retief as Rustem Kuloglu, Alicia van Emmenis as Saniye Arsoy, Mari Molefe as Suhandan Demirkan en Elma Potgieter as Ulfet Kuloglu.

Verbode liefde se oorspronklike Turkse titel is Zümrüdüanka. Die Engelse titel is The Phoenix en die reeks, wat uit 84 episodes bestaan, is die eerste keer in 2020 uitgesaai. Dit is in Nevsehir in Turkye verfilm.

  • Verbode liefde begin op Woensdag 5 Julie om 20:00 op kykNET&kie, DStv-kanaal 145.