Logo

‘Soos fietsry deur ’n mooi kloof’

Nuus
22 Maart 2016
Sean Else en Johan Vorster het kragte saamgespan vir die skryf van die nuwe fliek Modder en Bloed se klankbaan. Ons het met hulle gesels.
MeB Johan Vorster

Sean Else, skrywer, regisseur en mede-vervaardiger van Modder en Bloed


Sean Else, skrywer, regisseur en mede-vervaardiger van die nuwe Suid-Afrikaanse rolprent Modder en Bloed, het dié treffende rolprent se klankbaan saam met liedjieskrywer, sanger en vervaardiger Johan Vorster geskryf.

Sean en Johan ken mekaar al baie jare en het 20 jaar gelede saam die musiekwêreld betree as liedjieskrywers en lede van die groep Eden.

Kyk hier na die amptelike lokprent van Modder en Bloed.

Na ’n kreatiewe ‘storm’ tussen die twee manne, sluit Modder en Bloed se klankbaan liedjies in wat deur van Suid-Afrika se talentvolste sangers uitgevoer word, soos Bok van Blerk se “Modder en Bloed”, Adam Tas met “O, My Kind”, “Uit Klip Gekap” deur Corlea, Karlien van Jaarsveld en Dewald Wasserfall se duet “1 000 Kerse” (geskryf deur Johan en Christoph Kotzé), “Paul Roos” deur Gerhard Steyn en Ghapi se “Blood and Glory”.

Kyk hier na die musiekvideo vir Bok van Blerk se Modder en Bloed.

Sean sê: “As pa’s, het ek en Johan ’n groot gedeelde liefde vir die tema van Modder en Bloed, naamlik die tragedie van ’n man wat alles verloor. Nie net sy plaas en al sy aardse besittings nie, maar ook sy vrou en kind... sy hele rede tot bestaan.

“En ons verstaan mekaar baie goed wanneer dit kom by musiek en lirieke van hierdie aard. Hierdie projek het ons weer in kontak gebring en dit was soos fietsry deur ’n mooi kloof... ons het net weer opgeklim en verder gertrap en die journey weer verskriklik geniet.

“Daarby is Johan ’n ongelooflike musikale talent en is dit weer ’n voorreg om saam met hom te kon skryf. Die musiek en lirieke het so maklik gekom en toe ons weer kyk, sit ons nie net met een lied vir Bok nie, maar ’n hele klomp liedjies waarop ons verskriklik trots is,” sê Sean.

34 meb johan vorster

Die liedjieskrywer, sanger en vervaardiger Johan Vorster


Hy het ook die hele klankbaan vir Johan en sy briljante span by Inhoud Huis gegee om te vervaardig en af te rond. “Hulle verstaan die proses ongelooflik goed en deel almal die liefde en passie vir die projek.”

Die boodskap wat Sean en Johan wil oordra met die klankbaan is dat ’n mens nie maklik moet opgee nie. “Maar hoe staan ’n man se siel op uit die metaforiese modder en bloed?” vra Sean.

En hy antwoord: “Hy moet diep binne homself kyk en die krag binne homself en sy God vind. Maar dat jy dit nie alleen kan doen nie. Eers as jy geloof in jouself het, in jou God het en waarvoor Hy staan, kan ander mense inspirasie uit jou put en saamstaan vir ’n regverdige saak.”

Kyk hier na strokies gegrond op gebeure in Modder en Bloed.

Nadat Johan Modder en Bloed gesien het, het hy onmiddellik geweet waaroor die lirieke moet gaan en het hy ’n melodie begin skryf.

“Ek was oorweldig deur die kwaliteit van die film, asook Sean se ‘aandag tot detail’. Die hele film het my geïnspireer, van die storie tot die oortuigende spel van die akteurs, asook die konsep van hoe die verhaal van rugby tydens die oorlog verweef was,” sê Johan.

Dan voeg Sean by: “Met ander liedjies op die klankbaan, het ek en Johan oor ’n tema gesels, en dan kom hy vorendag met ’n ongelooflike liriek en melodie waarop ons verder kon bou. Ons proses is baie organies en informeel.”

Die manne het gekuier en lekker kos gemaak terwyl hulle oor die temas en ‘groter gedagte’ van die CD gesels het.

“Sean maak baie lekker kos. Die meeste great songs is al op ’n strand in Mosambiek met krewe op die kole of langs ’n swembad ‘gebore’… Ons sorg vir ’n lekker atmosfeer en dan is die res maklik,” sê Johan.

Hy gaan voort: “Sean is baie sterk met konsepte, liriek en agtergrond-geskiedenis. Dit maak die visie waartoe ’n mens skryf baie maklik en dan kan jy veel vinniger by ’n melodie uitkom. Ons weet gewoonlik wanneer ’n melodie of liriek uitstaan.”

Sean sê: “Hierdie album, en die liedjies daarop, is belangrik vir my en Johan, belangrik oor wat hulle lirieke, temas en melodieë spreek oor oorlog en die karakters wat daarin vasgevang is.

“Elke lied is diep ‘gedoop’ in die temas van oorlog en hoe dit mense toe geraak het – en nog steeds raak.

“Al die liedjies wat ek en Johan geskryf het, is universeel, maar tog uiters persoonlik.”

Ons was by die Johannesburgse première van Modder en Bloed. Kyk die video hier.

Klik hier vir meer flieknuus.