’n Paar opwindende skuiwe en nuwighede sal aan Premium-intekenaars vanaf 2 Julie ’n groter keuse van Afrikaanse programme in elke tydgleuf gee om te geniet – op sowel kykNET (DStv-kanaal 144) as kykNET&kie (DStv-kanaal 145).
Die spitskyktydskedule sal slegs op Sondae verander.
eNuus sal vanaf 2 Julie Sondagaande om 18:30 uitgesaai word op beide kanale, terwyl die uitsaaityd van eNuus om 19:00 vir die res van die week (Maandae tot Saterdae) onveranderd bly. Op kykNET sal Bravo! Sondae om 18:00 en Kwêla om 19:00 uitgesaai word.
Op kykNET&kie skuif die gospelprogram Koortjies met Jonathan Rubain van 18:00 na 17:30. Daarna volg eNuus om 18:30 (slegs op Sondae), met die aktualiteitsprogram Klop! wat om 19:00 uitgesaai word.
Die kykNET-aktualiteitsprogram Prontuit (Dinsdae om 21:00) sal vanaf 4 Julie ’n uitsaaivakansie neem. Kykers kan vanaf Dinsdag 4 Julie 21:00 na ’n splinternuwe program, Laataand by Rian, uitsien. Rian van Heerden is die aanbieder van dié geselsprogram waarin hy nuuswaardige en eksentrieke mense oor aandete ontmoet. Prontuit keer op 3 Oktober terug.
“Skedules moet kykers dien deur aan te pas by hul behoeftes,” sê Waldimar Pelser, M-NET direkteur vir Premium-kanale. “Sondagaande is die een aand van die week waarop ’n nuusbulletin in ’n vroeër tydgleuf vir baie van ons kykers sin maak. Ná die nuus, om 19:00, volg Kwêla in die sterkste tydgleuf wat dié gewilde program nóg gehad het. Terselfdertyd het Premium-intekenare om 19:00 dan ’n keuse tussen Kwêla op kykNET en die aktualiteitsprogram Carte Blanche op M-NET DStv kanaal 101. Beide programme is ook op Catch Up te kry vir kykers wat nie regstreeks kan inskakel nie.”
Pelser voeg by: “Ons is ook baie opgewonde om die vreeslose Rian van Heerden terug te verwelkom as aanbieder van ’n spitskyktyd-geselsprogram op kykNET. Laataand by Rian gaan die tonge laat klap!
eNuus, kykNET se nuusbulletin, bring die afgelope 13 jaar aan kykers onafhanklike en geloofwaardige nuusdekking van plaaslike en internasionale gebeure in Afrikaans.
Die SAFTA-bekroonde joernaalprogram Kwêla is sedert November 1999 ’n juweel in kykNET se kroon en dis een van die kanaal se oudste programme. Hannes van Wyk en die span aanbieders vertel weekliks mense se stories – of hulle nou bekend is of nie, solank hul verhaal ander mense op ’n positiewe wyse aanraak.
Kwêla gaan kykers in Julie met inspirerende vermaak bederf. Hannes kuier aan huis by die Suid-Afrikaanse tennisster John-Laffnie de Jager, en die span maak ’n draai by die Protea netbalspeler Shadine van der Merwe en die Protea-krieketspeler Rassie van der Dussen. Daar is ook ’n besoek aan ’n robreddings-en-rehabilitasiesentrum in Houtbaai.
Die glansprogram Bravo!, wat ook al met ’n SAFTA bekroon is, is reeds vanaf 2012 deel van kykNET se aanbod. Marciel Hopkins het onlangs by die span aangesluit as aanbieder. Saam met Ewan Strydom en Reynardt Slabbert hou sy kykers op hoogte van bekendes se doen en late – of dit nou op die rooitapyt, agter die skerms of by die huis is.
In Julie is daar insetsels met Leandie du Randt en die aanbieder en oud-Protea-netbalspeler Vanes-Mari du Toit. Bravo! kuier ook op die stelle van kykNET se jongste dramareeks Hartklop en die kookprogram Kokkedoor vuur en vlam.
Kykers kan vanaf Sondag 2 Julie 17:30 op ’n uur van gospel met die vierde reeks van Koortjies met Jonathan Rubain inskakel. Dié bemoedigende gospelprogram, met Jonathan Rubain as aanbieder, sorg dat kykers hul naweek op die regte manier afsluit. Gaste vir Julie sluit in die voormalige afrigter van die Springbokke, Peter de Villiers, aktrise Marisa Drummond en gospelsanger Trevor Malgas.
KLOP! (kort vir Kô, lat ons praat) is sedert 2016 ’n gewilde joernaalprogram op kykNET&kie wat kuier saam met lede van die bruin gemeenskap en hul verhale vertel. Daar is goedvoelstories, gemeenskapshelde, ernstige onderwerpe en ’n goeie dosis humor. Die aanbieder is Heindrich Wyngaard, maar opwindende nuus is dat die bekende mediapersoonlikheid Lyntjie Jaars vanaf 2 Julie amptelik as mede-aanbieder by hom aansluit.
Ter opsomming:
- kykNET-skeduleveranderinge slegs op Sondae vanaf 2 Julie 2023:
- Kwêla skuif van 18:00 na 19:00
- eNuus skuif van 19:00 na 18:30
- Bravo! skuif van 19:30 na 18:00
- Prontuit neem vanaf Dinsdag 4 Julie ’n breuk. Laataand by Rian word vanaf Dinsdag 4 Julie 21:00 op kykNET uitgesaai.
- kykNET&kie-skeduleveranderinge slegs op Sondae vanaf 2 Julie 2023
- Koortjies met Jonathan Rubain skuif van 18:00 na 17:30
- eNuus skuif van 19:00 na 18:30
- KLOP! Skuif van 19:30 na 19:00
Kykers kan ook vanaf Julie regskuif vir ’n rits nuwe programme op kykNET en kykNET&kie.
Op kykNET begin die dramareeks Hartklop op Dinsdag 18 Julie om 20:00, gevolg deur die speletjiesprogram wat om rugby draai, Koppestamp, op Woensdag 26 Julie om 20:00. Kokkedoor vuur en vlam, waarin deelnemers die koskenners Bertus Basson en Kobus Botha met hul braaivaardighede moet beïndruk, begin Donderdag 27 Julie om 20:00. Grondpad geloof, die skrywer Dana Snyman se verkenningsreis met godsdiens, geloof en die Afrikaanse kerke, is vanaf Sondag 3 September om 20:00 op kykNET.
Op kykNET&kie begin ’n nuwe telenovela, Verbode liefde, op Woensdag 5 Julie om 20:00. My ma kook beter as joune, met Early B as aanbieder, keer terug vir ’n nuwe seisoen op Saterdag 8 Julie om 19:30.
Besoek www.kykNET.tv vir meer inligting.