Logo
CW Slim BB BSV S15 Redelivery
web uni tv guide

Boer Soek 'n Vrou

144Realiteit13 L

Só gaan dit met ‘Boer soek ’n vrou’ se eerste boere

Nuus
20 Februarie 2023
Vind meer uit oor die eerste boere wat dié ervaring aangepak het!
BSV Seisoen 1

In 2008 is die eerste seisoen van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou uitgesaai en tans volg kykers die liefdesreis van die 15de seisoen. Van die boere van seisoen een van Boer soek ’n vrou wil vandag uit die kollig bly, maar so hier en daar is een wat hulle hart oopmaak oor wat in hulle liefdeslewe aangaan.

Boer Constant sê hy was maar 21 jaar oud toe hy aan die reeks deelgeneem het. “Ek dink nie ek was werklik reg om deel te neem nie, maar die vriendskappe wat ek daardie tyd gemaak het, was lekker. Ek het egter nie meer enige kontak met die ander boere nie.”

Constant is intussen getroud en is pa van twee. “Landia is nou in graad 1 op Standerton Akademie en Laré is vier. Ons is geseënd as gesin en ek boer nog steeds in die Standerton-distrik, maar nie meer saam met my broers nie. Ek is op my eie saam met my vrou en dogtertjies en saai nog mielies en sojabone. So tussen 2008 en nou het sommige dinge nie verander nie, maar ek is getroud, pa en bietjie ouer en wyser.”

Boer Hennie, wat tussen Thabazimbi en Lephalale woon, onthou sy tyd op Boer soek ’n vrou as baie opwindend.

“Dit was ’n voorreg om deel van die eerste reeks te kon wees,” sê hy. “Hier en daar praat mense nog daaroor. Ek het drie jaar gelede, lank ná die reeks uitgesaai is, vir Miemie Pearson, ’n weduwee van die omgewing, ontmoet en ons raak nou ernstig.”

Hennie is deesdae in diens van ’n groot privaat-reservaat waar hy as risikobestuurder werk. “Ek maak hierdie jaar my graad in argeologie klaar en beplan dan om my loopbaan in daardie rigting te stuur.”

Boer Nicolette sê sy was net ’n kort rukkie deel van die reeks aangesien “die manne deurgegaan het”.

“Van ons het steeds kontak en ons is vriende en ek weet wat in hulle lewens aangaan,” sê sy. “Die mense is my beste herinnering. Daar was natuurlik ’n paar skreeusnaakse oomblikke wat ek ook altyd sal onthou. Ek was die een met die mal klomp honde wat selfs gelei het tot ’n spotprent in die plaaslike koerant.”

Sy het liefde gevind toe sy net voor die verfilming van die reünie-episode vir Riaan Senekal ontmoet het. “Ons is in 2009 getroud en ons eerste dogtertjie, Talia, is in 2010 gebore en in 2011 het ons ’n tweeling, Josua en Jana, gehad. Dit gaan sommige dae woes, maar dis ’n lekker ervaring en ons gaan so deur die malligheid aan. Ek werk steeds heeltyds in die wynbedryf.

Boer Herman van Swellendam sê sy beste ervaring was juis omdat dit die eerste reeks was. “Nie een van ons het geweet hoe dit sou afloop nie en nie een van ons was voorbereid nie,” sê hy. “Ons kon net onsself wees wat dit ’n baie natuurlike proses gemaak het. As ek na die ander reekse kyk, besef ek elke keer ons s’n was die beste een om in te wees.”

Hy het liefde gevind en is in 2012 met ’n dieëtkundige van Stellenbosch getroud.

“Ek boer nog steeds op die pragtige plaas in Swellendam en ons is geseënd met twee kinders,” sê hy.

Skakel elke Donderdag om 20:00 in vir #BoerSoeknVrou en gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram